Leesvordering:

Nuut by LAPA in Desember

Des 11, 2018

Dit is Desember! Die skooljaar is verby en ons het fantastiese boeke vir jongmense – van die jongste tot die kieskeurigste tiener. Let veral op na Nathan Trantraal se vertaling van Jason Reynolds se jeugroman.

Moet ook nie vergeet van die liefde nie! Soos altyd is ons baie trots op ons Romanza-afdeling.

Lang pad onnetoe

Jason Reynolds

Vertaler: Nathan Trantraal

Tienerfiksie

Ouderdom: 15+

9780799388800

R180,00

Jy het net sestig naelbyt-sekondes om die belangrikste besluit van jou lewe te neem: Will is vyftien jaar oud. Hy het ’n pistool. Sy broer Shawn is pas vermoor. Will ken die reëls. Jy huil nie. Jy dra nie stories aan nie. Jy neem wraak. Dit is waarheen Will op pad is, met die pistool agter by sy jean ingedruk, die pistool wat sy broer s’n was. Hy klim in die hysbak, sewende vloer, vasbeslote. Hy weet wie se bloed hy soek.

Wag: weet hy regtig?

Die hele pad ondertoe, terwyl die hysbak op elke vloer stilhou, klim verskillende mense, wat elkeen iets met die geweld in sy buurt te doen het, in die hysbak. Elkeen van hulle vertel vir Will dele van ’n groter storie as die een wat hy dink hy ken …

Hierdie woedende, verbluffende en briljante jeugroman word in kort, vurige staccato versvorm vertel om ’n rou, eerlike blik op vuurwapengeweld te bied, soos net Jason Reynolds dit kan doen. Nou is dit boonop fantasties in Afrikaans vertaal deur die bekroonde skrywer en digter Nathan Trantraal, wat dit vir Suid-Afrikaanse lesers soveel meer aktueel en herkenbaar, soos vanoggend se koerantopskrifte, maak.

Hierdie boek het al baie bekronings gekry:

* ’n Newbery-ereboek

* ’n Coretta Scott King-ereboek

* ’n Printz-ereboek

* ’n Los Angeles Times Book Prize-wenner vir jeugliteratuur

* Op die langlys vir die National Book Award vir jeugliteratuur

* Wenner van die Walter Dean Myers-toekenning

* ’n Edgar Award-wenner vir beste jeugliteratuur

* Parents’ Choice Gold Award-wenner

* ’n Entertainment Weekly Best YA Book of 2017

* ’n Vulture Best YA Book of 2017

* ’n Buzzfeed Best YA Book of 2017

Oor die skrywer: Jason Reynolds is tans een van die bekendste en mees bekroonde jeugboekskrywers ter wêreld, en is die skrywer van die bekroonde boek, When I Was the Greatest, waarvoor hy die Coretta Scott King/John Steptoe-toekenning vir Nuwe Talent ontvang het. Sy boeke Boy in the Black Suit en All American Boys is ook met Coretta Scott King-eretoekennings bekroon. As Brave As You, sy fantastiese debuut vir intermediêre lesers, was ’n Time Book of the Year en wenner van die Kirkus Award. Ghost, die eerste boek in sy Track-reeks vir intermediêre lesers, was ’n National Book Award-finalis. Hy woon in Brooklyn, New York, en sê baie van sy werk is daarop gemik om seuns aan te moedig om meer te lees.

Oor die vertaler: Nathan Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. Hy is tans een van die opwindendste jong stemme op die Afrikaanse literêre toneel. Sy debuut-digbundel, Chokers en survivors (2015), is met die Ingrid Jonkerprys en ’n ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon. In 2017 het sy tweede digbundel, Alles het niet kom wôd, verskyn, en in 2018 is ’n bundel met sy weeklikse rubrieke vir die Sondagkoerant Rapport gepubliseer as Wit issie ’n colour nie. Hy werk tans aan sy meestersgraad aan die Universiteit van Rhodes. In 2017 het Nathan Trantraal die jongste ontvanger van die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs geword.

Uniek, maar binne konteks

Lang pad onnetoe is ’n unieke boek in Afrikaans; omdat Nathan Trantraal die vertaling van die boek so meesterlik behartig het om by ’n Suid-Afrikaanse gehoor aan te sluit. Ander boeke soos Anzil Kulsen se Zita wat ook oor armoede gaan het al meer as 21 000 kopieë verkoop. Haar ’n Hart vol sand, oor jongmense wat by sekswerk betrokke raak weens armoede, was eweneens gewild. Eldridge Jason, die skrywer van Gerook word steeds soos ’n rockster by skole verwelkom.

Droomkans                         

Christien Neser

Tienerfiksie

Ouderdom: 13+

9780799389395

R175,00

Dit is die laaste, onvergeetlike Elle-avontuur!

Die matriekdans-monster: Dit is presies wat op die oomblik oor Elle se skouer loer. Die ontwerpersrok van haar drome kos ’n plaas se geld, en sy het geen benul waar sy ’n ander rok vir die matriekdans in die hande gaan kry nie.

Boonop is mevrou Bender terug op haar pos as skoolhoof van Gravitas – en sy is vasbeslote dat Elle haarself as hoofmeisie moet bewys. Wat gaan sy doen om seker te maak sy laat iets waardevols agter; iets om dankie te sê vir die wonderlike jare wat sy by Gravitas beleef het en seker te maak niemand vergeet haar in die jare wat voorlê nie?

Waar Elle in die omtrek is, is daar egter gewoonlik ook hope moeilikheid. Kort voor lank sluip daar ’n paar vreemde nagtelike besoekers in die koshuis rond. Toe Elle agter die kap van die byl kom, moet sy inspring en help – al beteken dit ook sy moet by die skool se rekenaarstelsel probeer inbreek, hoofmeisie ofte not!

Gaan Elle haar droomkans kry om ’n blywende nalatenskap by Gravitas te laat?

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en weë van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Meer as 69 000 kopieë van hierdie uiters gewilde reeks is reeds verkoop.

Die tiende boek – en ook die slotaflewering in die reeks – beloof om net so skreeusnaaks, aweregs en romanties soos sy voorgangers te wees.

Droomkans, die laaste hoofstuk in die Elle-reeks, sal aanhangers laat juig vir hul heldin – en trane laat afvee oor die skouspelagtige kragtoer waarmee hierdie topverkoperreeks ten einde loop. ’n Onvergeetlike boek.

Selfies, seksklets en slimfone: ’n Tiener se gids tot die internet

Emma Sadleir &Lizzie Harrison

Niefiksie vir tieners

Ouderdom: 13+

9780799390582

R200,00

As ’n tiener in vandag se tegnoverslaafde wêreld van sosiale media en internet dink jy dalk jy is piekfyn en jy weet presies wat jy doen. Tog: selfs JY weet nie van al die wetlike struikelblokke, verskuilde gevare en toekomstige implikasies van alles wat jy nou aanlyn doen, sien en plaas nie.

Selfies, seksklets en slimfone is die boek wat elke tiener (en hul ouers) móét lees. Dit dek al die belangrike kwessies wat tieners in die digitale era in die gesig staar, insluitende kuberboelies, seksklets, verslawing, internetveiligheid, pornografie, angstigheid, depressie, veiligheid en reputasie. Die boek is boonop spesifiek vir die Suid-Afrikaanse konteks geskryf. Hierdie boek sal jou op ’n verstaanbare, interessante en selfs prettige manier help om ’n gelukkige, bevredigende en – belangrikste van alles – veilige lewe aanlyn te hê.

Emma Sadleir is Suid-Afrika se voorste kenner op die gebied van die wetlike aspekte rondom sosiale media. Sy is die stigter van die Digital Law Company, wat spesialiseer in die opvoeding van maatskappye, werknemers, skole, ouers, onderwysers en universiteite rakende die wetlike, dissiplinêre en reputasie-risiko’s van sosiale media. Emma is ook medeskrywer van die boek Don’t Film Yourself Having Sex and Other Legal Advice for the Age of Social Media.

Die groot boek van spoke en grille

Fanie Viljoen

Tienerfiksie

Ouderdom: 13+

9780799389364

R240,00

Is jy dapper genoeg om hierdie boek oop te maak?

Wat gebeur as jy te lank in Dina se donker oë staar?

Wat is fout met juffrou Kupido – en watter nare geheim steek sy in haar pousekosblik weg?

Woon daar werklik ’n mensvreter in die moeras soos party mense sê?

Wat sal gebeur as ’n vampier en ’n zombie een nag kennis maak?

Dit is groot. Dis gruwelik. Dit gaan jou hoendervleis gee. Dit is die lekkerste versameling grilstories wat jy nog ooit gelees het! Hierdie reuserilboek deur die gewilde Fanie Viljoen bevat 30 spokerige, grillerige en grieselige stories wat jou ure lank sal laat ril en gril – en laat smeek vir nog!

Trefferboeke soos Slym, Klou, Betower, Bravo, Lulu, Aksieheld Austin en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak.

Fanie het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel en, afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ’n visuele kunstenaar en kinderboekillustreerder wat al aan verskeie uitstallings deelgeneem het. Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is albei met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, Betower en Afkop was naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie, en hy het al ’n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm.

Fanie se boek 13 spookstories is reeds in sy 10de druk en meer as 28 000 kopieë is al verkoop, Nog 13 spookstories is in sy 4de druk en meer as 13 000 kopieë is al verkoop.

Kampioene-reeks

Kom stap in die voetspore van Suid-Afrika se grootste sporthelde. Hierdie fantastiese nuwe reeks plaas die kollig op Suid-Afrikaanse sportlegendes se reis na nasionale en internasionale roem. Dit is geskryf vir lesers van nege jaar en ouer. Die reeks vertel die opwindende stories van vyf sportsterre uit verskillende agtergronde wat almal supersterre geword het.

Voorstelle vir klaskameraktiwiteite kom in elke boek voor.

 

Siya Kolisi

Jeremy Daniel

9780799390681

R120,00

Ontdek hoe Siya Kolisi bo sy moeilike grootwordjare in die Oos-Kaap uitgestyg het om een van ons land se grootste rugbysterre te word.

 

AB de Villiers

Jeremy Daniel

9780799390667

R120,00

Lees die inspirerende verhaal van die skoolseun AB de Villiers wat een van die grootste name in wêreldkrieket geword het.

 

Wayde van Niekerk

Carlos Amato

9780799390674

R120,00

Ontmoet Wayde van Niekerk, ’n skraal, tengerige seuntjie wat teen alle verwagtinge in ’n Olimpiese superster en een van die vinnigste mense op die planeet geword het.

 

Caster Semenya

Jeremy Daniel

9780799390704

R120,00

Caster Semenya se skooljare was moeilik, maar sy het bo haar omstandighede uitgestyg en deesdae is sy ’n sportambassadeur vir ons land wat met ’n Olimpiese goue medalje spog.

 

Hashim Amla

Jeremy Daniel

9780799390698

R120,00

Van sy kinderdae toe hy saam met sy broer straatkrieket voor die moskee in Tongaat gespeel het, tot ’n internasionale loopbaan as sportster wat die landskap van Suid-Afrikaanse krieket vir ewig verander het – maak kennis met die legendariese Hashim Amla.

Ek ♥ eenhorings

Emily Stead

Illustrasies: Kim Martin

Aktiwiteitsboek

Ouderdom: 5+

9780799391114

R100,00

Verken ’n towerwêreld met hierdie fantastiese plakkerboek!

Hierdie kleurvolle boek is propvol tonele met eenhorings wat jy kan soek, tel en waarmee jy hope pret kan hê!

Vind uit wat jou geheime eenhoring-naam is, soek die verskille tussen die prente, help die eenhoring om sy pad deur die doolhof te vind, kies die perfekte haarstyl vir jou eenhoring, leer om jou eie eenhoring te teken, en voltooi die pragtige eenhoringtonele met die meer as 300 plakkers wat by die boek ingesluit is!

Ure se betowerende eenhoringpret is deel van hierdie boek!

Die Prettige Feite-Reeks

Hierdie reeks is spesiaal ontwikkel vir kinders van vyf jaar en ouer, en is die perfekte mengsel van opvoedkundige inhoud en eenvoudige, praktiese aktiwiteite soos handwerk, kookkuns en tel. Jong lesers leer meer oor ’n verskeidenheid interessante onderwerpe en kry die geleentheid om prettige projekte aan te pak wat by die temas aansluit. Die eenvoudige aktiwiteite dra by tot die ontwikkeling van geletterdheid, syfergeletterdheid, geheueontwikkeling en handvaardigheid. Hou die kleinspan besig terwyl hulle speel-speel leer!

 

Prettige Feite: Plaasdiere

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799390537

R120,00

Kuier ’n dag lank op die plaas! Loer in by die perde en voer die hoenders. Kinders leer meer oor die lewe van plaasdiere en ontdek interessante feite oor die plaaslewe terwyl hulle verskillende handwerk-aktiwiteite, raaisels en leerspeletjies voltooi. Elke bladsy bevat helder foto’s met maklik-verstaanbare-teks en eenvoudige stap-vir-stap-instruksies wat jong lesers kan volg om die projekte te voltooi. Die boek kombineer feite vir kinders met prettige aktiwiteite – die perfekte manier om lang somersdae deur te bring!

Prettige Feite: Haaie en ander seediere

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799390544

R120,00

Hierdie titel stel kinders aan die wonderwêreld onder die branders bekend deur middel van prettige, opvoedkundige aktiwiteite. Ontmoet oulike harlekynvisse, spelerige dolfyne, honger haaie en al hul ander seelewende maats in hierdie aktiwiteitsboek propvol wonderlike feite. Vind uit hoe om jou eie jellievisse te maak en ontwerp pragtige papierbord-harlekynvisse, terwyl jy die kleurvolste karakters in die see leer ken.

Prettige Feite: Goggas

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799390551

R120,00

Hierdie boek stel kinders aan inseklewe bekend deur middel van prettige, opvoedkundige aktiwiteite. Ontmoet besige bye, wriemelende wurms, oulike skilpadbesies en al hul goggavriende in hierdie aktiwiteitsboek propvol wonderlike feite. Maak jou eie pragtige skoenlappers, versier koekies, en tel insekte se pote, terwyl jy fantastiese feite oor goggas leer.

 

Prettige Feite: Wonders van die woud

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799390568

R120,00

Maak kennis met al die oulike diere en ongelooflike dinge in ’n woud – van hasies tot bere en goggas – in hierdie opvoedkundige projekboek. Elke bladsy bevat asemrowende foto’s met maklik-verstaanbare-teks en eenvoudige stap-vir-stap-instruksies wat jong lesers kan volg om elke projek te voltooi. Maak ’n oulike dennebol-uil, ’n beermasker, heerlike bessie-ysies, en vele meer. Perfek vir kinders wat versot is op die buitelewe!

Prettige Feite: Van my kop tot my tone

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799390575

R120,00

Nuuskierige kinders kan ontdek waarom hulle ’n sekere haar- of oogkleur het en waarom hulle ’n naeltjie het. Dan kan hulle ’n oulike familiestamboom ontwerp, ’n stel papierlonge maak en kyk hoe dit werk en kreatief raak met vingerafdrukke.

Hierdie boek is vol fantastiese feite en aktiwiteite wat by mekaar aansluit, ideaal vir jong slimkoppe wat meer oor die menslike liggaam wil leer. Jy kan selfs ontdek hoe jou liggaam inmekaarpas deur ’n lewens-grootte buitelyn van jouself op papier na te trek!

My eerste 100 diere

Dawn Sirett

Illustrasies: Charlotte Milner

Kartonboekie

Ouderdom: 0+

9780799384468

R135,00

Leer speel-speel woordeskat met jou gunsteling-diere.

Hierdie stewige kartonboek is propvol wonderlike diere – van reusagtige olifante tot piepklein skoenlappers en oulike babadiere. Die pragtige, kristalhelder foto’s en lewendige illustrasies is in verskillende kategorieë gerangskik – van troeteldiere tot wilde diere en plaasdiere.

Woord-etikette moedig wys, benoeming en praatvaardighede aan, terwyl dit woordeskat en taal ontwikkel. My eerste 100 diere is ontwerp om in te lig en te vermaak, en is die begin van jou baba se leer-avontuur: die wêreld is ongelooflik, beeldskoon, interessant en prettig!

Die boek is ontwikkel saam met ’n opvoedkundige konsultant, Penny Coltman, om te verseker daar is genoeg om om oor te gesels, te leer en te glimlag; dit is geskep om die jong wetenskaplike van dag een af lief te maak vir boeke.

LAPA het vroeër vanjaar ook My eerste 100 woorde (9780799383898) uitgegee.

Romanza

Ter wille van liefde

Susan Olivier

Superromanse

9780799391411

R225.00

Anja kon haar geluk nie glo toe sy die vakature by die Hoë-Prestasie-sentrum in Pretoria in haar inboks sien nie. Dis so reg in haar kraal. Hulle soek ʼn fisioterapeut wat deel is van ʼn span medici en sportkundiges wat met belowende sportsterre werk. Nie alleen het sy die vereiste kwalifikasies nie, maar sy was in eie reg ʼn sportster. Vir jare was sy die junior nasionale vrouetenniskampioen in die land. Dis ook hoekom die Universiteit van Kalifornië haar ʼn sportbeurs aangebied het. Helaas het die opkikkerskandaal ’n einde aan haar sportdrome gebring. Die saak is wel in haar guns geskik, maar teen ’n duur prys. Haar dryfveer vir groot tennis is weg, en sy gaan lank aan die regskoste afbetaal. Hierdie is die geleentheid waarna sy soek, en sal haar in staat stel om weer in Suid-Afrika ’n nuwe begin te maak.

Maar toe gaan haar tannie Amelia dood, en sy moet terugkeer na haar geboortedorpie in KwaZulu-Natal, Glenville, om toe te sien dat die boedel afgehandel word. Sy ervaar baie konflik want haar eksverloofde, sy vrou en kind bly in die huis langs haar tannie. Anja het hom en die vrou in ’n vurige omhelsing betrap weke voor hulle sou trou, en is toe landuit. En nou gaan sy weer Henk se ouer broer, Riekert moet sien. Die man wat altyd met sy broeiende blik en donker oë regdeur haar kon sien …

Om jou te vind

Kristel Loots

’n Mega-Omnibus

9780799391442

R225.00

Kristel Loots se vorige liefdesverhale is weer in ’n omnibus beskikbaar!

Loots is bekend vir haar fyn humorsin en besondere vermoë om haar karakters uit te beeld.

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van haar se vorige liefdesverhale, Liefde op Vergeetbaai, Kiki se kroonprins en Sieraad uit as.

Liefde op Vergeetbaai: Irmariana koop die kothuis langs Zak de Beer, wat sy privaatheid beskerm en ’n muur tussen hulle wil oprig. Vergeetbaai is afgesonder en hulle loop mekaar (noodwendig) raak. Irmariana het Vergeetbaai toe gekom om weer heel te word en om te werk aan haar jongste kinderboek. Sy durf nie toelaat dat ’n man haar aandag aftrek nie. Selfs al is hy uiters aantreklik en betowerend.

Kiki se kroonprins: Kiki moet ’n onderhoud voer met ’n skatryk, hubare sakeman wat die erfgenaam van Kroukamp Internasionaal is, Olaf Kroukamp. Hulle voer klere en skoonheidsmiddele uit. Hy het ook ’n boek geskryf wat mense aan die praat het en verkoop selfs die filmregte daarvoor. Kiki lê hom voor toe hy met sy honde gaan stap. Later pas sy sy herehuis en honde op. Olaf wen ’n literêre prys en vra Kiki om hom te vergesel. Haar ekskêrel, Roger, sien die insetsel op televisie en spoor haar op. Hy doen alles in sy vermoë om Kiki en Olaf se verhouding te laat sneuwel.

Sieraad uit as: Janette gaan woon ’n week lank in afsondering as proefkonyn vir navorsing oor die rookgewoonte. Kameras volg inwoners se verslawing. Sy sukkel om haar gevoelens vir die ghoeroe, Marnitz Marais, te onderdruk. Janette is ook die troostante vir die tydskrif waarvoor sy as joernalis werk. ’n Super Girl sorg vir heelwat intrige en doen alles in haar vermoë om Marnitz en Janette se ontluikende verhouding te saboteer …

’n Man soos Lodewijk

Magdaleen Walters

ISBN: 9780799388503

R90,00

Kon dit nie maar ’n ouer tannie gewees het wat langs Lucy intrek nie? Of ’n stil skrywer? Nou is dit Lodewijk met sy breë skouers, glimlag en lieflike lang lyf. Sy wil trou met ’n kultureel-verfynde man, maar sy kan nie vir Lodewijk uit haar gedagtes kry nie.

Opa vir die liefde

René van Zyl

ISBN: 9780799388534

R90,00

Athina is uiteindelik gelukkig met haar lewe op die Griekse eiland, Antiparos. Sy het haar kat, winkel en haar geliefde ‘Baba’. Toe Jason Haven met sy kuiltjies en pragtige lyf opdaag, ervaar sy vergete emosies. En met een soen steel hy haar vrede.

René spreek in hierdie verhaal mishandeling aan en die wyse waarop dit steeds na ’n tydperk ’n invloed op die persoon se lewe het.

Haar hart se tuiskoms

Annetjie van Tonder

ISBN: 9780799391350

R90,00

Ná Lana se egskeiding, fokus sy op haarself en haar kinders. Romanse is nie welkom in haar huis nie. Maar haar buurman, Daniël, maak met sy outydse sjarme en mooi blou oë haar hart weer fiks vir liefde.

Sy twyfel nie meer nie

Louise Minnaar

ISBN: 9780799391381

R90,00

Marisna is smoorkwaad vir die man wat voor haar motor ingedraai het. In die beplanning vir die volgende paar maande het sy nie tyd ingewerk om haar motor te laat regmaak nie … ook nie om verlief te raak nie. Maar haar hart sal tyd maak vir Riaan.

 

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest