Leesvordering:

Nuwe bagasiemaatreëls by O.R. Tambo Internasionale Lughawe 

Apr 10, 2019

’n Nuwe stel bagasiemaatreëls is sedert 25 Maart 2019 by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe van toepassing. Dít volg ná ’n lang konsultasieproses, aangesien sekere tipes bagasie voorheen ’n blokkasie in die bagasieafleweringstelsel veroorsaak het. Volgens die lughawe is die grootste oorsaak van die blokkasie bagasie wat nie ’n plat oppervlak het nie, rond is, skerp hoeke het of bande het wat verstrengel kan raak.

Die nuwe bagasiemaatreëls vir ongewone bagasie is soos volg:

  • Slegs bagasie wat ’n plat oppervlak het sal ingeboek kan word.
  • Bagasie wat rond is of lang bande het wat kan verstrengel, sal nie toegelaat word nie.
  • Alternatiewelik het passasiers die opsie om ’n plat oppervlak aan hulle bagasie aan te bring, wat deur die aangewysde toedraaistasies gedoen kan word.

Let wel dat die maatreëls slegs van toepassing is op passasiers wat vanaf die O.R. Tambo Internasionale Lughawe vertrek. Dié maatreëls is ook ’n internasionale standaard en geld ook byvoorbeeld by Terminaal 1 van die Dubai Internasionale Lughawe. Dié lughawe meen dat talle passasiers dikwels lank vir hulle bagasie moet wag weens die feit dat die stelsel deur bagasie geblokkeer word wat buitengewone vorms en oppervlaktes het. Hoewel dit vir sekere passasiers ekstra kostes gaan beteken, sal dit beslis ook vinniger aflewering van bagasie vir die meeste ander passasiers beteken.

Indien jy nie dikwels met buitengewone bagasie vlieg nie, is jy minstens veilig, maar wat is die gewigsbeperkings waaraan jy moet voldoen?

Bagasiebeperkings

Volgens navorsing wat deur Skyscanner gedoen is, betaal een uit elke vier mense addisionele fooie omdat hulle bagasiebeperkings oorskry. ’n Verdere probleem is dat elke lugredery sy eie stel maatreëls het. Met Kulula kan jy byvoorbeeld tot en met 20 kg inboekbagasie en 7 kg handbagasie saamneem, terwyl die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ’n maksimum van 23 kg toelaat. Internasionale lugrederye wat die meeste bagasie toelaat is British Airways, EasyJet en Iberia, wat geen gewigsbeperkings het nie. Die beste voorsorg is om vooraf met die lugredery van jou keuse te bevestig hoeveel tasse en met watter gewigsbeperkings jy kan inboek. Die dimensie van jou bagasie wat ingeboek mag word wissel gewoonlik tussen 55 cm x 40 cm x 20 cm en 56 cm x 45 cm x 25 cm.

Wenke: Wat om waar te pak

Wanneer jy beplan om te vlieg dink ’n mens nie altyd aan alles wat deur die lughawe as ’n gevaar beskou kan word nie. Vermy byvoorbeeld om toegedraaide geskenke in jou bagasie saam te dra, omdat sekuriteit dit heel moontlik gaan moet oopmaak. Onthou ook om die batterye van jou e-sigaret uit te haal, asook om alle ander batterye in jou handbagasie te hou eerder as jou ingeboekte bagasie. Vir gewone sigarette kan jy jou aansteker saamneem, maar nie vuurhoutjies nie, en maak seker die tas wat jy inboek staan nooit hoër as 158 cm nie.

Maak vooraf ’n lysie om seker te wees dat jy alles pak wat nodig is en begin altyd by die belangrikste – jou beursie, voorgeskrewe medikasie, paspoort of ID en selfoonlaaier! Indien dit ’n lang vlug is, pak vir jouself ’n ekstra stel klere of onderklere in en maak seker jy het ’n klein buisie tandepasta, ’n houertjie gesigroom en ’n botteltjie onderarmsprei byderhand om jouself te verfris. Dit is ook wys om jou skootrekenaar buite jou handbagasie saam te dra, aangesien jy in elk geval jou rekenaar uit jou handbagasie sal moet haal wanneer jy deur sekuriteit gaan. En skaf reeds voor die tyd vir jou ’n handskaal aan sodat jy jou tasse kan weeg; dit maak dit ook maklik om vooraf reeds bagasie van een tas na ’n ander te verskuif indien nodig.

Lekker reis!

 

Lees ook: Wat om als op Suid-Afrikaanse lughawens te verklaar

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest