Leesvordering:

My eerste indrukke van Kanada (as ‘n toeris)

Apr 8, 2020

Ek het onlangs die ongelooflike geleentheid gehad om Kanada eerstehands te beleef. Me, myself and I. Nie net as ‘n welverdiende wegbreek nie, maar ook om my eie indrukke van die land en sy mense te vorm. Dit is mos anders om ‘n plek self te beleef. Geen poskaart of stock foto is heeltemal getrou aan die werklikheid nie en ‘n mens moet daai soort koue aan jou eie bas voel! Boonop het ek nog nooit voorheen sneeu gesien nie, so dit was ‘n bonus om my kuier vir die winter te beplan.

Ek sou via Frankfurt (ek was baie beïndruk met die SAL-vlug) en Montreal na Halifax, Nova Scotia reis. In Montreal het daar egter ‘n sneeustorm vir my gewag. My vlug na Halifax is drie keer gekanselleer weens die slegte weer en in só geval maak die lugdiens nie voorsiening vir hotelverblyf vir gestrande toeriste nie. Ek was amper ‘n dag lank vasgekeer op ‘n lughawe waar die meeste mense nie eens Engels praat nie en boonop nie baie vriendelik is nie.

Ek was gereed om handdoek in te gooi en sommer net huis toe te gaan toe Iris Inkpen oor my pad kom. Sy is ‘n ouma van Newfoundland, ‘n provinsie wat bekend is vir gawe mense met ruim harte. Blykbaar tel sy gereeld afvlerkvoëltjies op en sy het haar oor my ontferm. Ons het ‘n hotelkamer gedeel ná die lugdiens al die passasiers op ons laaste vlug, net voor middernag, na die volgende oggend geskuif het. Sonder dat ek dit verwag het, het sy vir die kamer betaal. “Ek moet buitendien die kamer gebruik. Volgende keer help jy weer iemand anders,” het sy beleefd gesê. Ek was stomgeslaan! Maar so dankbaar. Toe ons uiteindelik op die vliegtuig sit en dit wel opstyg, vind ons toevallig uit dat ons ‘n verjaarsdag deel. Ek het haar besonderhede neergeskryf sodat ek later weer met haar kan kontak maak, en ek dink steeds gereeld aan haar.

Halifax is ‘n eiland aan Kanada se ooskus. Ek het by vriende tuisgegaan. Louis en Debbie bly op ‘n kleinhoewe met ‘n woud in hul agterplaas. Dit is prentjiemooi! Die weer was gematig vir Februarie – die temperatuur het gewissel tussen -2 °C en 2 °C bedags maar snags tot -17 °C gedaal. Die huis binne is egter heerlik knus! Die meeste huise in Kanada het ‘n kelderverdieping en dit is waar ek geslaap het.

Ek het baie vinnig besef my skoene is nie sneeubestand nie en op dag twee belê in ‘n paar waterdigte sneeustewels wat jou voete by temperature van -40°C steeds warm hou. Ek het daarin geleef! Ek het ook daarmee nie so maklik op die gladde ys gegly nie. Party oggende was die sneeu ‘n goeie 10 cm diep en indien jou kar buite staan, moet jy dit skoonvee voor jy kan ry. Die strate word vroegoggend al geskraap en gesout maar jou oprit is jou eie verantwoordelikheid. Almal hou dit getrou skoon; jy doen dit eenvoudig net.

Ek kon fyn waarneem hoe ‘n gesin se week in Kanada lyk – waar hulle inkopies doen, watter soort produkte in die winkels beskikbaar is, die skoolbusetiket, hoe vullis gesorteer word (een drom vir herwinning, een vir kompos en een vir algemene rommel) en dat ‘n tuimeldroër ‘n absolute noodsaaklikheid is. Ek het ook twee kerkdienste saam met hulle bygewoon. Ek het Peggy’s Cove aan die kus, die Titanic-begraafplaas en die waterfront besoek waar ek ‘n Tim Hortons-oliebol en koffie geniet het. Tim Hortons is ‘n Kanadese instelling en daar is soms ‘n tak op elke hoek te vind.

Vandaar is ek na Winnipeg in Manitoba, ‘n provinsie wat omtrent in die middel van die land lê. Die dorp waar ons gesin gaan woon, Altona, is so ‘n uur en ‘n half suid van die hoofstad. Die hotel waar ek tuisgegaan het, is sentraal geleë, so alles is binne stapafstand. Dit is aansienlik kouer daar as in Halifax! Hoewel dit nie tydens my besoek gesneeu het nie was daar oral dik sneeu en yslae op die pad, want dit is te koud om te smelt. Die donsbaadjie wat ek by ‘n kollega geleen het, was ‘n seën, en jy waag dit nie buite sonder ‘n toque (dit is ‘n mus in Kanada), ‘n dik serp en handskoene nie. Die dagtemperatuur het tussen -20 °C en -5 °C gewissel en die nagte was selfs kouer. Die weer het my egter nie afgeskrik nie! Ek het heelwat mense ontmoet, almal besonder aangenaam, en sien uit daarna om by die gemeenskap in te skakel.

‘n Paar interessanthede oor Kanada

  • Dit was aanvanklik ‘n uitdaging om aan die regterkant van die pad te bestuur, maar ‘n mens raak dit gou gewoond. Dit het gehelp dat my gehuurde motor outomaties was en die verhitte sitplekke (en stuurwiel!) was ‘n bonus.
  • Daar is ‘n kragprop in elke muur van elke vertrek, selfs die badkamer. Dit maak vir my baie meer sin as die ellelange verlengkoorde wat ons in Suid-Afrika nodig het.
  • Voetgangers kry altyd voorrang. As jy oor die pad begin stap (by ‘n wettige voetoorgang, natuurlik), stop die verkeer dadelik.
  • In die winkelsentrums is daar oral vullishouers en jy moet jou rommel in die regte drom gooi vir herwinning.
  • Rooibostee is oral beskikbaar.
  • Belasting is nie by die prys op winkelrakke ingesluit nie, en provinsies se belasting verskil van mekaar.
  • Daar is nie ‘n muur of heining in sig nie, ook nie rondom skole nie. Baie mense het ook nie gordyne voor hulle vensters nie.
  • In Kanada praat jy nie van yshokkie nie – dit is net hokkie. Jy praat van “veldhokkie” as jy na die ander variëteit verwys.
  • Die spoedgrens is stadiger as in Suid-Afrika – 50 km/h in woonbuurte en 100 km/h op die snelweg. Spoedboetes is dubbel naby skole.
  • Jy het “binne-” en “buiteskoene”, en jy trek jou skoene uit as jy in iemand se huis instap.
  • Almal het gesukkel om my naam uit te spreek…
Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest