Leesvordering:

Nuut by LAPA in April

Apr 8, 2020

Maak oop jou mond en sê: Eeeeeeeee…

Jip. LAPA skep ’n liefde vir lees in die tyd van Corona. Ons kan jou ook help om lekker en gesond te eet, of om te leer hekel.

Ons weet jy kan nie tans papierboeke koop nie. Maar ons het e-boeke!

LAPA se e-boeke kan op ’n spesiale LAPA-toep of op Amazon se Kindle-toep gelees word.

Amazon se Kindle kan op die meeste platforms werk, laai net eers die toep af volgens jou platform se spesifikasie.

Om meer te leer oor ons toep: https://lapa.co.za/hulp-met-e-boeke

Fiksie

Kanaän

Sophia Kapp

Druknaam: LAPA

Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman.

Hulle moes nooit ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop Catherine in Chrisjan arms in.

Wanneer die wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel. Kort voor lank besef Catherine dat Chrisjan meer vir haar beteken as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Sal sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, kan betaal?

Die roman sal later ook as papierboek in die winkels wees.

As dit voel soos liefde

Didi Potgieter

Druknaam: LAPA Uitgewers

Dit is of sy vir die heel eerste keer kan vóél. Tog, terwyl Natasha haar huwelik probeer ontbind, klou haar ontroue man onverwags daaraan vas; dit is glad nie omdat hy haar skielik lief het nie.

Tydens die stuiptrekkings van hierdie huwelik, verskyn ’n ander komplikasie in haar lewe: Sy het Marc vier jaar gelede op haar wittebrood gesien, en kon hom nooit vergeet nie.

Daar is ’n aantrekkingskrag tussen Natasha en Marc. Albei weet egter dié ding gaan hulle seer maak. Sý wil haar nooit weer in ’n huwelik begewe omdat dit die regte ding is om te doen nie. Hy glo glad nie in die huwelik nie en, omdat hy so dikwels vir sy werk in Londen moet wees, is dit nie eens ’n opsie nie.

Toe gebeur daar iets wat hul lewe totaal omvergooi en hulle moet sterk staan in omstandighede wat nie een van hulle voorsien het nie.

Die roman sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Niefiksie

Ons het hierdie vyf e-boeke geskep om te help gedurende inperking! Hulle sal hierdie week beskikbaar word.

Inspirasie vir isolasie: Bant saam met Armand

Armand Aucamp

Resepteboek

Druknaam: LAPA

Jy hoef nie vet te word in isolasie nie. Leer om gesond te kook, Armand wys jou hoe met 14 heerlike resepte. Wat meer is, die e-boek is bekostigbaar. Dit kos slegs R49,00 as jy dit deur ons toep koop; of ongeveer US$3,00 op Kindle.

Tim Noakes se siening oor kos help talle mense om nie vet te word nie. Armand wys ons hoe om weer na ons eetgewoontes te kyk, beter keuses te maak en weer ’n konneksie met als om ons te koester; veral ook kos.

Hier is ’n boodskap van Armand

Ek moet bieg, ek was vas oortuig dat plae en wêreldwye pandemies iets van die verlede was; iets uit die geskiedenisboeke, die Bybel en Hollywood-films (moet asseblief nie in hierdie tyd die film Contagion kyk nie).

Maar hier is ons nou. Die meeste van ons is in selfisolasie, werk van die huis af, vermy  groepe mense groter as 100, selfs koffiewinkels loop leeg. Dit voel werklik onwerklik. Nietemin, ons as Afrikaners én Suid-Afrikaners het nog altyd die vermoë gehad om na die blink kant van sake te kyk.

Ek kyk, luister en lees hoe ons mense die beste van hierdie slegte situasie maak. Ek hoor van mense wat vir hulle kinders allerlei speletjies leer, ’n nuwe instrument leer speel, dalk ’n nuwe taal aandurf of weer, vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n romantiese ete vir hul geliefdes voorberei.

Ek dink hierdie tyd van isolasie is ook die perfekte tyd om weer na ons eetgewoontes te kyk, beter keuses te maak en weer ’n konneksie met als om ons te koester; veral ook kos.

Begin weer self kook. Kook vir jou man of vrou. Kook vir jou kinders. Kook sommer vir jouself ook! Eksperimenteer. Laat jou kinders jou help voorberei, of laat hulle sommer self iets maak en met trots vir die familie voorsit. Ek onthou nou nog hoeveel genot ek as kind uit Klein kook en geniet  geput het.  Plaatkoekies en fudge en eierdrankies is drie van die resepte wat ek nooit sal vergeet nie.

Ons moet weer ’n konneksie maak, met onsself en ons geliefdes. Ons het só besig geraak, soveel van ons aandag laat aflei. Ons het  toegelaat dat ons verder en verder van mekaar wegdryf en nou is die tyd om weer terug te keer, na onsself en na mekaar. En wat is makliker en lekkerder as om dit om ’n tafel met liefde, geselskap, lag en goeie kos te doen.

Armand

Isolasie-inspirasie: 14 Hekelpatrone vir 14 dae

Nadia de Kock & Hilda Steyn

Handwerk

Druknaam: LAPA

Geen partytjies om by te woon nie, geen afsprake om na te kom nie, geen afleiding of geruis van buite nie; net jy en jou gesin by die huis. Covid-19 het die wêreld tot stilstand geruk en ons almal gedwing om na binne te keer. Nog nooit was daar ’n beter tyd vir hekel nie! Geniet dié 14 patrone, ’n keur uit ons terapeutiese boek Hekel en word heel, en vind weer sin en betekenis in die huislike en alledaagse.

Dit kos slegs R49,00 as jy dit deur ons toep koop; of ongeveer US$3,00 op Kindle.

Isolasie-inspirasie: Trooskos

Clover

Resepteboek

Druknaam: LAPA

Kook soos jou ma en jou ouma gekook het! Geen meer wegneemetes of Uber Eats nie, geen meer mikrogolfdis wat jy vinnig ná werk kan oppik nie. Nou is dit net jy, jou volgepakte spens en jou gesin se honger oë…

Hier is 14 smullekker trooskosresepte wat jou en jou gesin van Covid-19 en inperking sal laat vergeet. Ons voorouers het hierdie resepte gemaak in tye van oorlog, swaarkry en depressie om almal se gemoed te lig. Doen dieselfde en koester jouself en jou gesin deur elke dag een van dié heerlike troosdisse op te tower.

Die 14 resepte is ’n keur uit die gewilde boek Clover Onthoukos (LAPA, 2018).

Jeugboeke

Sanri Steyn: Die geraamte se geheim 

Theresa van Baalen

Illustreerder: Johann Strauss

Druknaam: LAPA Uitgewers

Daar is ’n nuwe seun in Sanri en Markus se klas, hy het ’n buikspraakpop wat soos ’n geraamte lyk. Is Bennie Bene regtig net ’n pop? Is Jamahl werklik só ’n goeie buikspreker? Super joernalis Sanri Steyn stel ondersoek in toe Bennie Bene een aand verdwyn.

Sy skrik nie vir ’n geraamte nie.

Die jeugroman sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Romanza

Vir altyd lente

Marilé Cloete

Druknaam: Romanza

Jennie Mouton is ’n verstandige meisie wat ’n enkele dwase besluit in haar lewe geneem het. Terwyl sy op haar eie in Europa toer, trek sy halsoorkop by ’n vurige Pool in.

Die verhouding word gou afbrekend en toksies. Toe sy uitvind sy is swanger, breek sy weg en keer terug na haar ouers en haar vriendekring in die Klein-Karoo.

By haar ouers is daar aanvanklik nie genade nie, maar in haar vriendekring word sy met liefde ontvang en aanvaar.

Herman Fick is die macho haarkapper, die hartebreker, die grapmaker, maar ook die man wat sy dogter alleen grootgemaak het. Niemand op die dorp weet wat tussen hom en die ma van sy kind gebeur het nie en niemand vermoed dat hy die een kon wees wat mishandel is nie.

Wanneer Herman sy geheim met Jennie deel, vorm dit die grondslag vir ’n veel dieper verhouding tussen hulle.

Die romanse sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Ayla se sonde

Alma Carstens

Druknaam: Romanza

Ayla vind met ’n skok uit dat sy swanger is. Die simptome was daar, maar sy het bly hoop dat sy iets anders makeer. Sy is sedert haar skooljare verlief op Adam Durandt, die kroonprins van die Durandt-sakeryk. Hulle het tydens ’n vriendin se verlowingspartytjie te ver gegaan, maar nou wil hy niks met die gevolge van daardie een aand te doen hê nie. Adam se skatryk familie verwag van hom om met die ewe ryk Patricia Bicknell te trou, maar dis glad nie wat hy wil hê nie.

Ayla en haar alkoholispa het aan die verkeerde en armste kant van die dorp in Bloekomlaan gebly, daarom sal Ayla nooit goed genoeg wees vir die ryk Adam Durandt nie, al droom sy al jare lank oor hom.

Haar swangerskap verpletter egter haar drome, ook nog meer toe Adam aanvanklik niks wil weet van die baba nie. Vir hom is dit ook ’n verleentheid, maar sal dié kind dalk ’n seën wees en hom die uitkoms bied waarna hy verlang?

Die romanse sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Om die sterre te raak

Renda de Waal-Fourie

Druknaam: Romanza

Rachelle de Villiers raak smoorverlief op haar stiefbroer, Jakobus (Jakes) Fouché, Dit blyk dat hy haar betowerend vind, maar sy besluit om op Stellenbosch te gaan swot, ver van Pretoria, haar tuisstad.

Sy verban Jakes uit haar lewe en oortuig haarself dat sy niks van hom dink nie. Meer as ses jaar verloop voordat sy teruggaan Pretoria toe om by haar stiefpa te kuier, vas onder die indruk dat Jakes nog lank oorsee gaan wees met ’n projek waaraan hy werk.

Jakes kom vroeër terug, en die ou aantrekkingskrag tussen hulle vlam weer op. Sy hoor ’n gesprek wat sy nie moes hoor nie en begin ernstig twyfel of sy en Jakes ooit vir mekaar bestem is.

Die romanse sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Kiekies en koffie

Louise van der Merwe

Druknaam: Romanza

Christelle het die perfekte lewe met die perfekte lewensmaat (haar wit Labrador, Walter); dit is nou tot Joshua Steyn dié prentjie kom omvêr gooi.

Joshua is voorspelbaar en loopbaangedrewe. Christelle se chaotiese manewales laat hom pens en potjies in die warmwater én buite sy gemaksones beland; hy kan dit nie help nie maar hy hou daarvan!

Gaan dit werk vir die twee?

Die romanse sal later ook as papierboek in die winkels wees.

Pikkewynnuus

LAPA is nou deel van Penguin Random House South Africa, en daarom deel ons ook twee hoogtepunte uit hulle e-strategie.

Virus-proof Your Small Business: 50 ways to survive the Covid-19 crisis

Douglas Kruger

Imprint: Penguin

Nonfiction

Douglas Kruger verskaf 50 praktiese stappe vir die eienaars van klein besighede om hulle koste laag te hou, sodat hul winste nie in die onseker tye laer daal sal as hul uitgawes nie. As eienaars dít kan regkry, sal hulle hul eie toekoms verseker, maar ook die lewens van hulle personeel draagliker kan maak.

Afterland

Lauren Beukes

Dystopian fiction

Imprint: Umuzi

’n Pandemie het 99,9% van die wêreld se mans doodgemaak. Vrouewetenskaplikes probeer nou Homo Sapiens red. Iewers in ’n VSA wat deur die pandemie vernietig is, vlug ’n ma en haar twaalfjarige seun… Die seun is natuurlik vermom.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest