Leesvordering:

Gestrand weens die virus – bly waaksaam!

Apr 15, 2020

Een van die onvoorsiene gevolge van verskillende lande se uiteenlopende inperkingsmaatreëls tydens die COVID-19-pandemie, is dat mense gestrand raak in lande waar hulle nie wil wees nie. Tans word AfriForum en Wêreldwyd daagliks gekontak deur Suid-Afrikaners wat op vele plekke op die aardbol gestrand is, maar ook Suid-Afrikaners wat “tuis” is, maar weer wil buiteland toe gaan omdat hulle tydelik of permanent daar werk. Voorlopig bly die grense egter redelik dig en spook die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking om Suid-Afrikaners wat wil terugkeer na die land, te repatrieer. Sake word verder gekompliseer deur lande se verskeidenheid vereistes vir die afsondering van reisigers en grensbeheer.

Hierdie uitdagings tref nie net Suid-Afrikaners nie – een van Wêreldwyd se getroue medewerkers, dr. Pieter de Lange, het verlede week berig dat sowat ’n miljoen Britte in daardie stadium in die buiteland was, en dat die dienssentrum wat hulle moes help repatrieer, tot 15 000 oproepe per dag ontvang het. So het die meeste lande burgers wat om hulp aanklop oor reisreëlings.

Uiteraard is mense wat só gestrand raak, aan baie spanning onderworpe. Dikwels raak hulle fondse en data op, hulle sukkel om met die betrokke owerhede te kommunikeer, hulle is bekommerd oor die virus, hulle is bekommerd oor vriende en familie tuis, hulle kan noodsaaklike verpligtinge nie nakom nie … kortom, hulle sit in ’n ongemaklike situasie wat onvoorspelbaar verloop.

Helaas is daar ook mense wat die weerloosheid wat so ’n situasie veroorsaak, probeer uitbuit. Hiermee dus ons raad aan almal wat steeds gestrand is in ’n land waar hulle nie nou wil wees nie. Ten eerste, skakel met die konsulêre personeel van die land waarvan jy ’n burger is om ingelig te bly en hulle in te lig oor waar jy is. Tweedens, daar ontstaan in die tyd nogal baie mediagroepies, soos op WhatsApp, vir mense wat in bepaalde lande “vasgekeer” is. Sluit daarby aan, dit sorg vir vinnige en goedkoop kommunikasie, maar bly waaksaam. Sulke groepies versprei ook soms vals gerugte of word deur misdadigers misbruik om slenters te bedryf. Kontroleer inligting en moenie enige betalings maak as jy nie seker is dat dit vir jou verblyf, lewensmiddele, of amptelik goedgekeurde reisreëlings aangewend sal word nie.

Dan ook, met die oog op die toekoms, die volgende advies. Hopelik sal die lewe tot ’n groot mate weer terugkeer tot wat ons voor 2020 “normaal” genoem het. Baie van ons sal dan weer reis – sommige vir werk, ander vir plesier, ander om familie en vriende in die buiteland te gaan opsoek. Mense wat langer in ’n land bly as wat dié land se visumvereistes bepaal, word gewoonlik internasionaal op ’n swartlys geplaas. Aansoekvorms vir visums vra altyd of jy al ooit ’n visum geweier is, of nie by vereistes gehou het nie. Hier waar ons nou is, lyk dit vanselfsprekend dat dit niemand se skuld is wat tans gestrand is nie, maar tyd stap aan en oor ’n paar jaar is daardie herinneringe nie meer so vars nie. Lande wat doeltreffende administratiewe stelsels het, sal besef waarom daar dalk ’n “oortreding” in 2020 op jou rekord verskyn en sal dit nie teen jou hou nie, maar ander lande mag wel later onredelik hieroor wees, of om meer inligting vra. Moet dus nooit jou ou paspoorte weggooi of vernietig nie – hou dit as bewys van waar jy was. As jy tans ook enige korrespondensie met die konsulaat of ander owerhede voer, en kan bewys dat jy alles moontlik gedoen het om die land wat die visum uitgereik het, betyds te verlaat, hou ook daardie korrespondensie vir toekomstige bewyse. Dalk kry jy dit nooit nodig nie, en dan is dit net ’n aandenking aan hierdie vreemde tyd. Sou dit egter ooit nodig wees, het jy dit byderhand en spaar dit moeite en tyd.

Baie sterkte aan almal, waar julle ook al mag wees. Kom intussen virtueel tuis by Wêreldwyd, die kuierplek vir alle Suid-Afrikaners wat geen visums vereis nie!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest