Leesvordering:

Kuala Lumpur: Tempels en grotte

Jul 29, 2020

Ontdek Chinese kultuur by die Thean Hou-tempel

Die Thean Hou-tempel, wat deur vele as die mooiste tempel in die wêreld beskou word, is een van Kuala Lampur se toeriste-attraksies wat die meeste besoek word. Sedert die tempel in 1989 geopen het, het dit reeds miljoene aanbidders, toeriste en fotograwe deur sy deure verwelkom sodat hulle die duisende rooi en geel lanterns kan afneem. Die tempel, wat ses verdiepings beslaan, is een van die grootste tempels in Maleisië en Suidoos-Asië, en dien as funksionele ruimte vir gebeurlikhede soos die jaarlikse Chinese Nuwejaarsvieringe, voorspellingseremonies, gevegskunsdemonstrasies en -opleiding, en huwelike.

Voordat jy die Thean Hou-tempel besoek, is daar ’n paar goed om van kennis te neem. Eerstens is die tempel een van die min gratis aantreklikhede in Kuala Lampur, en by gebrek aan ’n amptelike ingangsfooi is dit raadsaam om ’n klein skenking te maak om die onderhoud van die tempel te help befonds. Die tempel is op die meeste dae tussen 08:00 en 22:00 oop, maar dit mag verander weens spesiale gebeurtenisse en vierings. Anders as ander tempels in Asië is die tempel meer ontspanne en daar is geen formele klerevoorskrifte nie. Dit bly egter ’n aanbiddingsplek, en daarom beveel ek aan dat jy kort rompies of broeke vermy uit respek vir ander.

Die Thean Hou-tempel ontleen sy ontwerpe en argitektoniese elemente aan tradisionele en moderne boutegnieke, hoewel dit heel uniek is deurdat dit sowel Boeddhistiese as Taoïstiese en Confuciaanse kultuurelemente betrek. Daar is heelwat om buite die tempel te bewonder, byvoorbeeld die standbeeld van die drie wyse mans, die standbeelde van die 12 diere van die Chinese diereriem (waar jy jou eie geboortejaar se dier kan opspoor en meer oor jou persoonlikheid kan uitvind), ’n skilpadpoel, ’n fontein en ’n indrukwekkende kruietuin vol zoemende bye en honderde vlinders. Regs van die tempel is ’n klein fontein waar die Godin van genade water uit ’n klein bekertjie giet, nog tuine wat versigtig onderhou word, ’n groot Chinese skaakbord en pragtige kleurvolle trappies wat na die agterkant van die tempel lei, waar daar nog meer Chinese standbeelde is.

Die sentrale binnehof en hoofsaal van die tempel is binne op die tweede vloer en versier met honderdduisende rooi, oranje en geel Chinese lanterns. Die gebedsaal lei uit die sentrale binnehof, en hier aanbid gelowiges voor drie oordadig versierde altare wat gewy is Thean Hou (die Godin van die see), Guan Yin (die Godin van genade) en Shui Wei Sheng Niang, die Godin van die waterfront. In die middel van die saal en tussen die altare is daar twee pare Kau Cim-orakels wat besoekers kan raadpleeg vir antwoorde of hul toekoms. As jy die sentrale binnehof en gebedsaal verlaat en met die trappe na die volgende vlak gaan, hou gerus ’n oog oop vir die tradisionele ontwerpe wat elke sentimeter van die tempel beslaan. Dié versierings, wat komplekse afwerking en ornate kerfwerk insluit, is ongelooflik gedetailleerd. Vanaf die boonste vlakke kan mens ook die mosaïekdrake en -fenikse – wat die tempel se gepunte dakoorhange versier – van nader beskou.

Die Thean Hou-tempel het in eie reg een van Kuala Lampur se grootste toeristeaantreklikhede geword. Dit tempel lok meer as 1 miljoen besoekers per jaar, waarvan die meeste om 09:00 per bus daar aankom as deel van georganiseerde toere. As jy die tempel dus sonder die skares wil besoek en mooi kiekies wil neem, is dit beter om reeds om 08:00 daar aan te kom. Om die Thean Hou-tempel met openbare vervoer te bereik, neem mens die metro of monorial na KL Sentral, vanwaar mens na Robson Hill stap en uitklim, wat ongeveer ’n uur neem. Neem kennis dat die laaste paar honderd meter baie styl is en veral in ekstreme hitte nogal uitputtend. As jy luierig voel en eerder met lugversorging na die tempel wil reis, gebruik gerus die Grab-toep en skiet per huurmotor na die tempel teen ongeveer RM10.

Besoek gerus my volledige reisblog by Exploring the Thean Hou Temple om meer oor die fantastiese Thean Hou-tempel te lees.

’n Dagreis na die Batu-grotte

As jy Instagram– of Pinterest-rekening het, is die kans groot dat jy al ’n miriade foto’s gesien het van die befaamde kleurvolle trappe wat na die Batu-grotte lei. Dié grotte – wat TripAdvisor as die beste daguitstappie vanaf Kuala Lampur aandui – het in die afgelope jare een van die mees gefotografeerde plekke in Asië geword en lok miljoene besoekers.

Die grotte is geleë in ’n kalksteenheuwel wat meer as 400 miljoen jaar oud is. Dit is oor jare heen deur erosie gevorm, wat versnel is deur die Sangai Batu (of Kliprivier) wat verby die heuwel vloei en waarna die grot vernoem is. Die grotte is eerste ontdek deur die Temaun-volk van die Orang Asli-stam, maar dis nie opgeteken voor 1879 nie, toe dit amptelik deur ’n jagparty ontdek is wat saam met die Amerikaanse dierkundige en omgewingsbewaarder William Temple Hornaday gereis het.

Die grootte het die media se aandag getrek, en in 1880 het ’n skatryk Indiese handelaar, K.T. Pillai, begin om die grotte as ’n Hindoe-aanbiddingsplek te bemark. Hy het die grotte en daaropvolgende tempel gewy aan die Hindoe God van oorlog, Heer Murugan. Ongeveer 30 jaar het verloop voordat die eerste houttrappe gebou is wat na die Batu-grotte lei. Die oorspronklike houttrappe is egter nie lank daarna nie met 272 betontrappe  vervang, wat in Augustus ’n nuwe, kleurvolle baadjie aangetrek het met die reënboogtrappe wat vandag te siene is.

Nadat jy die trappe bestyg het, gaan jy die hoofgrotkomplek binne. Dit staan as die Tempelgrot bekend, waar jy die vele Hindoe-bedevaartsplekke in die twee groot spelonke kan besoek. Maak seker dat jy dié bedevaartsplekke besoek en nie net die kleurvolle trappe nie! Daar is natuurlik ook 42,7 meter hoë standbeeld van die heer Murugan wat oor die grootte waak. Dit is gemaak van 250 ton staal, 300 liter goue verf en 1 550 m3 beton – en dus verreweg die langste standbeeld in Maleisië, en die derde grootste standbeeld van ’n Hindoe-godheid in die wêreld.

Hoewel ingang tot die Batu-grotte gratis is, sal jy ’n paar Maleisiese ringgit moet opdok as jy sommige van die kleiner tempels en bedevaartsplekke wil besoek. Soos in die geval van die meeste tempels in Asië, is dit beste praktyk om konserwatief aan te trek omdat jy nie toegelaat sal word om die trappe te klim of enige van die tempels te besoek as jou skouers en knieë kaal is nie. As jy in die Tempelgrot self is, moet jy verantwoordelik optree en die mense respekteer wat dié fantastiese plekke vir godsdienstige redes besoek. Benewens die duisende besoekers per dag, speel die Batu-grotte ook gasheer vir ’n buitengewone hoeveelheid ander lewende wesens. Buiten die honderde tropiese plantspesies wat in die humiede Maleisiese klimaat gedy, is die grotte ook die habitat van verskeie spesies vlermuise, paddas, akkedisse en slange, en uiteraard die ratse makaakse apies, wat baie astrant is, vermy moet word en nooit gevoer moet word nie. Hulle is bekend daarvoor om sakke, sonbrille, hoede en enige kos of drank uit mense se hande te gryp; maak dus seker dat jy sonder enige versnaperings daar aangaan en pas jou besittings op.

Neem ook maar kennis van die Thaipusam-fees, wanneer miljoene besoekers oor ’n enkele naweek in laat Januarie of vroeg Februarie na die trappe, grotte en tempels stroom. Die omgewing kan baie vuil en bemors raak, en dit is beter om dit tot ’n week of wat ná die fees te vermy.

As jy op soek is na die goedkoopste wyse om van die stad na die grotte te reis, gebruik die  KTM Komuter-trein, wat jou sowat 200 meter van die ingang van die Batu-grootte aflaai. Kaartjies is beskikbaar by die KTM Komuter-kaartjiekantoor in die KL Sentral KTM-stasie teen RM2,60 per persoon vir ’n enkelrigtingkaartjie. Die reis duur sowat 40 minute. Om foto’s te kan neem en die grootte in vrede te kan verken, is dit wys om vroeg reeds daar te wees. Die eerste trein van KL Sentral na die Batu-grotte vertrek reeds om 06:56 – maak dus seker dat jy aan boord is. Onthou ook om die KTM Komuter-tydrooster na te gaan ’n dag of wat voor jy beplan om te gaan vir in geval van enige veranderinge of kennisgewings. As jy ’n vrou is wat alleen reis, maak gerus gebruik van die vrouewaens vir bykomende gerustheid, veral as jy baie vroeg in die oggend reis.

Besoek gerus my volledige reisgids oor die Batu-grotte as ’n dagreis vanaf Kuala Lumpur.

Lees ook: Kuala Lumpur: Straatkos in Jalan Alor en ‘n vispedikuur by die Central Market

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest