Leesvordering:

Laat jou taal leef – selfs al is jy in die buiteland

Feb 15, 2023

As jy in die buiteland woon en werk is dit maklik om van jou moedertaal verwyderd te raak. Selfs al slaag hulle daarin om steeds genoeg Afrikaans te kan praat, het baie Suid-Afrikaners in die buiteland ’n behoefte om hulle taal lewendig te hou. Hoe kan jy steeds jou taal laat groei en daartoe bydra, selfs al werk jy permanent of tydelik in die buiteland?

Hier is vyf praktiese maniere waarop jy jou taal steeds lewendig kan hou:

1. Kyk Afrikaanse films

Die beste manier waarop jy kan bydra tot Afrikaans, is deur ’n behoefte aan Afrikaanse produkte en produksies te skep. As filmsyfers wys dat daar ’n behoefte is na Afrikaanse films, dan word daar nog meer verfilm. Of dit ’n film is wat jy aanlyn huur of as daar dalk ’n Afrikaanse film op AfriForumTV, of Netflix verskyn, maak seker jy help om ’n aanvraag te skep!

2. Praat Afrikaans waar jy kan

As jy ander Suid-Afrikaners in die buiteland ontmoet, praat Afrikaans! Dit gebeur so maklik dat Afrikaners met mekaar in Engels praat by ’n byeenkoms, veral as hulle tussen baie Engelssprekendes is. Gebruik die geleentheid en praat soveel moontlik in jou moedertaal. Jy bou bewustheid van die taal as die mense om julle julle Afrikaans hoor praat. Hulle mag dalk daaroor uitvra en self nuuskierig word oor Afrikaans. Jy kan selfs van jou gunsteling- Afrikaanse woorde en gesegdes aanhou gebruik, selfs al praat jy by jou werk ’n ander taal. Sluip Afrikaanse frases en woorde in die woordeskat van ander tale in. Integreer dit met jou normale vloei van taal en jy sal meer soos jouself voel as jy steeds Afrikaans gebruik, selfs al praat jy dalk meestal Engels. Jou aksent, jou woorde en jou manier van praat is deel van wie jy is, deel van jou persoonlikheid. Moenie gedruk word om totaal en al te assimileer nie, jy maak juis die wêreld ’n ryker plek deur anders te wees!

3. Praat met jou kinders

As jy kinders het is dit belangrik om met hulle Afrikaans te praat, vir hulle Afrikaanse storieboeke te lees en hulle te bemagtig om in Afrikaans met oupa en ouma in Suid-Afrika oor Skype te gesels. Jy kan hulle ook formele klasse en selfs aanlyn klasse laat bywoon om hulle Afrikaans skerp te hou.

’n Onlangse studie in Australië, waar hulle ’n groep van 35 Koreaanse volwassenes bestudeer het wat kort ná geboorte deur Hollandse families aangeneem is, het bevind dat elke persoon steeds hulle moedertaal kon herroep. Hulle taalbasis was steeds so sterk dat daar bevind is dat jy nie jou moedertaal kan vergeet nie. Die moedertaalgesprekke wat ’n baba selfs net tydens ’n paar maande ná geboorte gehoor het, maak dit makliker vir so iemand om as ’n volwassene weer sy moedertaal te leer.

4. Skryf en lees in Afrikaans

’n Taal is veel meer as ’n kommunikasiemedium, dit is ’n manier van uitdrukking en iets wat nie net in ons koppe leef nie, maar ook in ons hart. Lees Afrikaanse gedigte en probeer selfs om jou eie gedig te skryf. As jy op Facebook is, maak Afrikaanse plasings en deel die mooi van ons taal. Koop Afrikaanse boeke en ondersteun skrywers wat hulle geld deur Afrikaans verdien. As ’n Afrikaanse boek op Amazon soos soetkoek verkoop, gaan dit meebring dat Afrikaanse boeke toenemend beskikbaar gaan wees.

5. Ondersteun Afrikaans-vriendelike besighede

As jy lief is vir jou taal, versier jou huis in Afrikaanse dekor en koop jou produkte by ’n aanlyn Afrikaanse onderneming. Of nog beter, ondersteun Afrikaanse produkte as dit beskikbaar is in die land waar jy is. Koop vir jou vriende – of hulle Suid-Afrikaners is of nie – trots Afrikaanse produkte vir hulle verjaarsdae! Afrikaans is gasvry en uniek, en jou vriende sal te bly wees om ’n paar vellies, ’n tolletjiebrei of varsgemaakte makataankonfyt as ’n geskenk te kry!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest