Leesvordering:

Nog ’n besoek aan Cornwall, 25 Mei 2021

Mei 31, 2021

Deur Anton van Zyl

Aan die begin van April is die inperking in Engeland, een van die ergste inperkings ter wêreld, gedeeltelik opgehef, en ons is Cornwall toe. Ons het ’n geruime tyd tevore reeds die risiko’s opgeweeg en ‘n week in ‘n selfsorgkothuis bespreek wat ons nou kon besoek.

Dit was ons derde besoek aan Cornwall binne ‘n jaar. Nie net omdat ons nie oorsee kon reis nie, maar ook omdat Cornwall so besonders is. As jy eers van Cornwall se water gedrink en die lug ingeasem het, gaan jy altyd weer terug daarheen.

Van Londen af is dit ongeveer ses tot sewe uur se ry, maar omdat ons oral stop, neem dit ons gewoonlik ’n bietjie langer. Ons eerste stop was vir ’n Starbucks net anderkant Stonehenge – gelukkig sonder die verwagte verkeersknoop. Toe is ons Fistral Beach toe in Newquay, ’n wêreldbekende branderplankryplek met ’n Rick Stein-afsetpunt. Daar het ons ’n vis-en-tjips-middagete geniet in die geselskap van ’n swerm gespikkelde spreeus wat die plaaslike strandkafees gereeld besoek. Om te kyk hoe die branderplankryers die koue Atlantiese water aandurf, is ’n ware genot.

Ons eindbestemming was Sennen Cove, ‘n klein dorpie ’n entjie van Land’s End af aan die Atlantiese Oseaan. Dit is ‘n tradisionele vissersdorpie in Cornwall, en ons het ’n paar oggende gekyk hoe die plaaslike bote hul vangs van die vorige nag aan land bring; dit was pollak, (soort vis), tyd.

’n Geselsie met plaaslike inwoners in die kusdorpies is insiggewend. Van ons dak af kon ons tot by Cape Cornwall sien en die ongelooflikste sonsondergange en sonsopkomste beleef. Dit is Poldark- en Doc Martin-wêreld, en langs die plaaspaaie ontdek jy baie interessante plekkies. Cornwall bestaan egter uit baie meer as net vissersdorpies; dit het ’n lang en kleurryke geskiedenis.

Die tweede of derde dag besluit ons om na St Michael’s Mount naby Marazion te gaan kyk. Dit is ‘n kasteel wat op ’n eiland in die see gebou is en slegs tydens laagwater te voet oor ’n voetpad onder die water bereik kan word. Die monnike wat eeue gelede daar gebly het, het nog destyds die voetpad gebou.

St Michael’s Mount het ’n wonderlike uitsig oor die baai tot by Mousehole, nog ’n ouwêreldse dorpie wat ons voorheen al besoek het. Ons het die heuwel uitgeklim tot by die kasteel en ’n koue melk koffie geniet in die amper tropiese tuin wat in die beskutting van die kasteel groei. Alles hoogs aanbevelenswaardig.

Die volgende dag het ons ’n antieke dorp uit die Steentydperk genaamd Carn Euny besoek. Dit is slegs bereikbaar deur ’n paar kilometer op Cornwall se “snelweë” te ry – baie smal kronkelpaadjies met klipmure aan weerskante wat deur die plaaslike boere ook gebruik word. Dit is so rustiek dat die pad soms oor die plase loop, en in een geval selfs tussen die skuur en plaashuis deur. Dit is ’n bietjie senutergend maar tog opwindend.

Ons het ’n rukkie tussen die ruïnes van die klipdakhutte rondgeklim. ’n Lang tonnel lei na een wat nog staan.

Die stilte was verstommend. Daar het ander mense opgedaag net toe ons wou vertrek.

Na ’n baie ontspanne week het ons ingepak en huiswaarts gekeer, maar ons het die reis in twee verdeel met ‘n oorslaap by die Jamaica Inn op Bodmin Moor. Volgens rekords dateer hierdie antieke plekkie uit die 1700’s. Dit is in die middel van Cornwall tussen die twee kuste geleë en was destyds ‘n herberg en ’n soort basis vir Corniese seerowers en smokkelaars. Daar is ’n duidelik gemerkte plek in een van die tavernesale waar ’n bekende beskermheer eeue gelede vermoor is, en die atmosfeer is gelaai. Daar is spooktoere en folk-aande. Die hele scenario roep herinneringe aan die Engelse poësie op wat ek in die 1980’s op universiteit gelees het. Die gedig “The Highwayman” van Alfred Noyes kon netsowel daar afgespeel het.

Ongelukkig gaan die tyd te vinnig verby. Ons is onwillig terug huis toe met goeie herinneringe en die vaste voorneme om terug te keer, want Cornwall het nog baie om te bied – baie meer as wat ons in die bestek van ’n kort wekie kon ontdek.

Foto’s geneem deur Ronel van Zyl.

Meer oor die outeur

Anton van Zyl

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Om teen treine te skree: 11 nuwe dramas vir hoërskole

Deur Tanya Viviers Die bundel bevat elf nuutgeskrewe dramas met as sentrale tema tieners se smagting na aanvaarding en om as jong volwassenes in die samelewing hul eie identiteit te vind. Die tekste wys onder meer hoe tieners as helde en gewilde mense deur hul...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest