Leesvordering:

POPIA in sy volle swang (en dit het die meeste van ons op hol)

Jul 21, 2021

Meer as ’n dekade nadat die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, beter bekend as “POPIA”, op die tafel gelê is, is dié wet uiteindelik vanaf 1 Julie 2021 in volle werking.

Sedert die wet van krag geword het, skarrel die meeste ondernemings nog rond – met die meeste van ons wat verswelg voel in ’n see van boodskappe van diensverskaffers, maatskappye en ander instellings oor POPIA. Maar wat beteken dit nou vir besighede – en wat van jou WhatsApp-groepe? Met baie vrae wat dalk nog in die lug mag hang, het ons besluit om jou gemoed te sus met ’n kort opsomming van die wet en die regulasies.

Wat behels POPIA?

POPIA dwing strenger regulasies af oor die hantering en die beskerming van persoonlike inligting. Dit bevorder ook die balans tussen die reg tot privaatheid en ander regte, soos die reg tot die toegang tot inligting.

Volgens Michalsons, ’n prokureursfirma wat in POPIA en databeskerming spesialiseer, is die beskerming van privaatheid noodsaaklik.

“Die privaatheidsklousule in artikel 14 van die Grondwet bepaal dat die Suid-Afrikaanse regering die reg op privaatheid moet implementeer deur ’n wet soos POPIA in te stel.

Ons vorige wetgewing, soos die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Ecta) en Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie (Rica), is eenvoudig nie voldoende om die ingewikkelde reg op privaatheid te bestuur nie,” sê die regsfirma.

Maar volgens Elizabeth de Stadler, ’n prokureur wat spesialiseer in databeskerming en medeskrywer van die boek Over-thinking the Protection of Personal Information Act: The last POPIA Book You’ll ever need, is POPIA nie net wit en swart nie.

“Dit sê nie jy mag nie meer inligting of data insamel nie. POPIA fokus ook nie net op datadiefstal nie, wat maar 30% van databeskermingsoortredings uitmaak, nie. Hierdie wet wil veral die 70% reguleer wat data mág insamel. Dit sê onder meer jy moet die wetlike prosesse volg wanneer jy inligting insamel, ’n geldige rede hê waarom jy dit doen en dat jy daardie data in jou besit moet beskerm,” sê sy.

Wie word geraak?

Alhoewel groot ondernemings grootliks deur POPIA geraak word en die meeste tans miljoene rande moet bestee om te voorkom dat data kan uitlek, is die wet op elke enkele Suid-Afrikaner van toepassing.

“Dit beskerm jou teen maatskappye, identiteitsdiewe – en selfs die regering,” sê De Stadler.

Verder gee die nuwe wet “data-onderwerpe” ook nuwe regte. ’n Data-onderwerp kan ’n regspersoon soos ’n organisasie of maatskappy wees, of ’n individu wie se persoonlike inligting of data verwerk en versamel word.

Dié nuwe regte sluit in die reg om te weet watter inligting oor jou beskikbaar is, die reg tot toegang tot jou persoonlike inligting, die reg om irrelevante inligting oor jou te laat uitwis, die reg om foutiewe inligting reg te stel en die reg om nie aan outomatiese besluite onderwerp te word nie, aldus Michalsons.

Wat is die gevolge vir moontlike oortreders?

Volgens Michalsons sal daar swaar strawwe en gevolge wees indien daar oortredings van die wet is.

Die aanspreeklike partye sal ’n boete van R1 miljoen tot R10 miljoen moet betaal of een tot tien jaar tronkstraf moet uitdien. Skuldiges sal ook moontlik skadevergoeding moet betaal aan die mense wie se privaatheid in gedrang gebring is, wie se data misbruik is, wat reputasieskade gely het, of vir die verlies van werknemers en klante.

“Die doel van die wet is om mense teen skade te beskerm – deur die beskerming van hul persoonlike inligting, deur oor die algemeen hul privaatheid (’n fundamentele mensereg) te beskerm en ook om te keer dat hul geld en identiteit gesteel word. Om dit te bereik, stel POPIA voorwaardes vir wanneer dit wettig is vir iemand om ’n ander se persoonlike inligting te verwerk,” sê Michalsons.

En wat van jou Whatsapp-groepe?

Daar is nie veel veranderinge wat op WhatsApp-groepe plaasvind nie. As jy egter besluit het om op ’n groep te bly, gee jy toestemming aan die administrateur van die groep om jou kontakbesonderhede te besit – en so ook al die ander mense op die groep. Die administrateur, asook enigiemand anders op die groep, het wel die verantwoordelikheid om jou inligting veilig te hou en mag dit nie aan ander uitruil sonder jou toestemming nie. So dink maar eers twee keer voordat jy weer ’n nommer aan ’n vriend gee.

Bronne:

Netwerk 24

Huisgenoot

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest