Leesvordering:

Die kissie op Kilimandjaro

Aug 4, 2022

Deur Ilze Nieuwoudt

  • Ter ere aan wyle J.C. Steyn (wat die afgelope naweek sy 84ste verjaarsdag sou vier en wie se laaste boek, So is onse mense, later vandeesmaand by AfriForum Uitgewers vrygestel word) en ter viering van Taalmaand, plaas AfriForum Uitgewers graag die onderstaande rubriek. “Die kissie op Kilimandjaro” verskyn in So is onse mense. Die boek is beskikbaar in die uitgewer se aanlyn winkel.

Vandat ek dit die eerste keer gelees het, fassineer die storie van die kissie op Kilimandjaro my. Die skrywer Déki, skuilnaam van H.J.C. Pieterse, vertel dit in deel III van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie (1947). Kilimandjaro is die hoogste berg in Afrika en die hoogste alleenstaande berg op aarde. Dit lê in die noordooste van Tanzanië naby die grens met Kenia.

Déki was ’n onderwyser van die Hoërskool Maitland, Kaapstad, wat in die 1930’s en 1940’s die oorlogsherinneringe van twee oudstryders uit die Tweede Vryheidsoorlog opgeteken het. Sy Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan is in 1939 en 1940 in Die Huisgenoot geplaas en daarna in Ons Geskiedenis-serie uitgegee.

Nog ’n pionier wie se herinneringe deur Pieterse neergeskryf is, is P.C. Joubert, oudlid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Pieterse se Volksaltare, of ’n Veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog (in 1940 in Ons Geskiedenis-serie) handel daaroor. Joubert se herinneringe aan die Tweede Vryheidsoorlog verskyn in My tweede vryheidstryd.

Pieterse het self ook in Tanganjika (saam met Zanzibar die huidige Tanzanië) skoolgehou. Dit lyk asof hy ’n baie idealistiese man was – trots op Afrikaans en vol hoë verwagtings van die toekoms. Hy skryf in die Kinderensiklopedie-artikel dat hy in 1928 by die eerste ingang tot die roete na die top van Kilimandjaro die Suid-Afrikaanse Unievlag en die proefvertaling van die Afrikaanse Bybel in ’n ystertrommeltjie gesit en dit by trommeltjies van ander nasies geplaas het.

Hy het dit gedoen met “’n gevoel van trots by die gedagte daaraan dat die Afrikaner op sy Noordwaartse Beweging, wat ná Jan van Riebeeck aan die suidpunt van Afrika begin het, tot aan die voet van Kilimandjaro deurgedring het, dwarsoor die sonlyn.”

Malan en Joubert was twee van ’n aantal Afrikaners wat ná die Tweede Vryheidsoorlog na Duits-Oos-Afrika uitgewyk het. Joubert het een van die grootste trekke na Oos-Afrika gelei; “ek het lank reeds besluit dat ek in my vaderland nie onder die Britse vlag sou leef nie.”

Maar die noordwaartse beweging van Afrikaners wat wou ontkom aan ’n Suid-Afrika onder die Britse vlag, kon plaasvind juis as gevolg van die koloniale gesag, veral Britse gesag, in die lande noord van Suid-Afrika.

Die proefvertaling van die Bybel is erg gekritiseer en is in 1933 gevolg deur ’n vertaling waarvan daar miljoene eksemplare verkoop is. ’n Paar jaar later as Pieterse het ds. G. Steyn ’n Afrikaanse Bybel van 1933 in ’n trommeltjie op die berg geplaas.

Wat het van daardie kissie geword? Wat van die vlag geword het, weet ons: Dit wapper nie meer nie. En die taal? En die trots?

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest