Leesvordering:

Volg die regte prosesse om krediete op buitelandse belasting te eis

Aug 4, 2022

Deur Amanda Visser

Mense geniet dit nie om belasting te betaal nie. Dit is selfs nog minder aangenaam as hulle dubbeld belasting moet betaal op dieselfde inkomste. Dit kan gebeur wanneer mense buite Suid-Afrika werk en nie kwalifiseer vir vrystelling op inkomste uit buitelandse indiensneming nie of as hul vergoeding R1,25 miljoen oorskry. Suid-Afrikaanse belastinginwoners kan ’n krediet eis op buitelandse belasting wat betaal is, maar daar moet aan sekere vereistes voldoen word, sê Carmen Westermeyer, belastingvennoot by Maitland and Associates.

Volgens haar is een van die grootste bekommernisse vir mense wat buitelandse inkomste verdien, hoe om te bewys dat hulle buitelandse belasting betaal het. Om daarin te slaag om vir die krediet te kwalifiseer moet daar aan sekere kriteria voldoen word:

  • Daar moet ’n buitelandse belasting wees.
  • Die belasting moet werklik deur die belastingbetaler betaal word.
  • Dit moet buitelandse inkomste wees.
  • Dit moet ingesluit wees in die Suid-Afrikaanse belasbare inkomste.

Westermeyer sê as daar aan enige van hierdie kriteria nie voldoen word nie, sal die belastingbetaler nie vir die krediet kwalifiseer nie. Dit kan moontlik gebeur as die belastings verkeerdelik of in stryd met die betrokke land se dubbelbelastingooreenkoms (DBO) met Suid-Afrika gehef is, as die buitelandse verdienste óf vrygestel is óf ‘n aangeslane verlies tot gevolg het, of as die bedrag nie eintlik ’n belasting is nie, byvoorbeeld koerse of sekere gesondheidsversekeringsbetalings.

Tydens ’n onlangse webinaar wat deur The Tax Faculty aangebied is, het Westermeyer ’n voorbeeld gegee van ’n buitelandse filiaal wat dividendbelasting teen ’n koers van 30% op die bedrag betaalbaar aan ’n Suid-Afrikaanse maatskappy terughou.  

Die filiaal is in die Verenigde Koninkryk gebaseer en volgens die DBO word dit slegs toegelaat om dividendbelasting van 15% of 5% terug te hou, afhangende van die kriteria. In hierdie geval sal die Suid-Afrikaanse maatskappy nie geregtig wees om ’n volle krediet op die buitelandse belasting te eis nie aangesien dit in stryd met die belastingverdrag gehef is.

Dokumentvereistes

Die dokumentvereistes mag dalk op die oog af eenvoudig lyk, maar die meeste mense sal dit dalk nie dadelik beskikbaar hê nie, of dit dalk nie reg verstaan nie, sê Westermeyer in ‘n artikel wat deur Accountancy SA gepubliseer is.

Die basiese inligting wat benodig word is die buitelandse belastingjaar waartydens die inkomste ontvang is. In Suid-Afrika loop die belastingjaar van Maart tot Februarie, maar in die ander land kan dit dalk van Januarie tot Desember duur.

SARS sal ook wil weet in watter land die belasting gehef is, asook die naam van die soort belasting, die wetgewing waaronder die belasting opgelê was en die liggaam en status van die owerheid (nasionaal of plaaslik)  wat die belasting gehef het. As die inkomste wat in die buitelandse jurisdiksie verdien is, laer is as R1,25 miljoen, sal die Suid-Afrikaanse belastingburger nie aanspreeklik wees vir belasting in Suid-Afrika nie. As dit egter die vrygestelde bedrag oorskry of as hy die persoon nie vir ’n krediet kwalifiseer nie, kan hul Suid-Afrikaanse werkgewer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aansoek doen vir ’n opdrag. Die opdrag sal die werkgewer toelaat om die bedrag van werknemersbelasting wat maandeliks van die vergoeding teruggehou moet word, op ’n ander basis te bereken.

Die berekening sal die potensiële buitelandse krediet in ag neem om die hoeveelheid belasting te verminder wat in Suid-Afrika teruggehou moet word vir werknemersbelastingdoeleindes (PAYE). As daar geen opdrag is nie, moet die belastingbetaler die krediet in hul jaarlikse belastingopgawe eis. Belastingbetalers wat vir die buitelandse inkomstevrystelling kwalifiseer, moet ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner wees; hulle moet in die buiteland werk (selfs al is die werkgewer in Suid-Afrika gebaseer); en hulle moet ’n werknemer wees. Hulle moet vir 183 dae in ’n tydperk van 12 maande in die buiteland wees, waarvan 60 opeenvolgend moet wees. 

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest