Leesvordering:

’n “Bitteramandel” om te sluk

Sep 21, 2022

Deur Ilze Nieuwoudt

Kort nadat die VOC in 1652 ’n nedersetting aan die Kaap gevestig het, was daar reeds konflik tussen die amptenare en die plaaslike Khoi-mense. In 1655 het die kommissaris Ryckloff van Goens selfs aanbeveel dat die VOC-stasie in die Kaapse Skiereiland deur middel van ’n kanaal afgesluit moet word van die Khoi. Volgens Van Goens moes ’n kanaal gegrawe word vanaf Tafelbaai na Valsbaai. (Op die nouste punt tussen dié twee baaie sou die kanaal oor sowat 20 km moes strek!) Daar is wel teen dié plan besluit, maar toe omstandighede teen 1660 steeds ernstig vyandig was, is die buitegrens van die VOC se nedersetting opgemeet. Dit het ’n boog van sowat 13 km geloop (sien kaart) vanaf die mond van die Soutrivier, langs die Swartrivier, oor die destydse Boschheuwel (Wynbergheuwel) en tot teen Tafelberg by Leenderts Bosch (tans Kirstenbosch). Daar is besluit om ’n heining van bitteramandel (Brabejum stellatifolium) aan te plant. Die afsperring van grondgebied op dié manier was algemeen onder grondbesitters in Duitsland. Die plan was om ’n strook van een roede breed (oftewel 3,6 m) om te ploeg sodat die bitteramandel aangeplant kon word. Die bitteramandel het massiewe takke wat verstrengeld groei en derhalwe ’n baie doeltreffende grenslyn kan vorm. Benewens die bitteramandel moes snelgroeiende doringbosse tussenin geplant word sodat die grens ondeurdringbaar sou wees. Niemand sou van binne die vesting toegelaat word om die grens oor te steek nie. Van Riebeeck het teen 20 Desember 1660 ’n intekening in sy dagboek gemaak en gemeld dat die heining goed groei. Tog moes Van Riebeeck later ontdek dat sy plan nie werklik vrugte kon afwerp nie (iets wat seker ’n bitter pil was om te sluk), want kort voor lank is besef dat weiding binne die kamp onvoldoende was en dat daar na buite die grensgebied getrek moes word. Gedeeltes van Van Riebeeck se bitteramandelheining is steeds sigbaar in die Kirstenbosch Botaniese Tuin en in die Bishopscourt-buurt en word bewaar as nasionale monumente.

Meer oor die bittere bitteramandel

  • Die vrug van die bitteramandelboom was verantwoordelik vir die eerste opgetekende geval van vergiftiging van ’n mens in Suid-Afrika. Blykbaar het ’n lid van Jan Wintervogel se geselskap in 1655 omgekom nadat hy te veel bitteramandels geëet het. Bitteramandels bevat sianied en is giftig indien dit nie korrek verwerk word nie. Dié amandels is dikwels deur Khoi-mense geëet nadat dit geweek en gerooster is. 
  • Hoewel die bitteramandel sy naam kry vanweë sy trekke na ware amandels, is dit glad nie deel van die amandelfamilie nie. Die bitteramandel is egter deel van die proteafamilie, en is nou verwant aan ’n soort makadamia wat in Australië voorkom.
  • Ander algemene name vir dié boom is die ghoeboontjie en die ghoekoffie.

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest