Leesvordering:

A(H)A!

Nov 7, 2022

Deur Maxie Heppell

Laurika Rauch sing al oor die 20 jaar van die mense op die bus en hoe hulle die lewe sien.

Die mense op die bus beskou
Die liefde soos die oggenddou
My hart is lankal reeds gebreek
Ek het dit net-net weggesteek

Die mense op die bus wil hoor
Waar het jy eers jou hart verloor?
Die mense op die bus sê nee
Daar’s baie visse in die see

Ek is nie op Laurika se bus nie, maar op die rooi 211 deur Chelsea op pad Victoriastasie toe.  En soos die gesiggies opklim en afklim en verander wonder ek hoe hulle elkeen se dag daar uitsien.

Sien, die mense op die bus het altyd ’n opinie oor die ander mense op die bus, vlugvoetig gemaak in die 20 sekondes wat hulle by jou verbyskuur, of terwyl jy hulle ongemerk probeer dophou vir die volgende 20 stoppe.

Dophou en luister. Want tensy jy in jou eie stereo-oorfoonwêreldjie is, raak die mense op die bus willig of onwillig deel van daardie paar stoppe in die lewe van die ander mense op die bus.

Die een tannie bly al 60 jaar by dieselfde adres, maar deesdae ken sy geeneen van haar bure meer nie.

Haar praatmaat gaan loer so af en toe in op die boonste vloer by ’n ander tannie van 94 wat al soveel jaar alleen bly.

Niemand anders doen dit nie, so hoor ek.

Ons is klein-klein geleer afluister is verkeerd. Maar is afluister altyd ’n slegte ding?

Wat as afluister jou goeie skietgoed gee vir wanneer ’n vriendin se selftwyfel dreig om haar te verwurg en jy sodoende die greep op haar siel kan laat verslap?

Wat as afluister jou in staat stel om iemand se voete te was, sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen?

(die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad:
Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus
“Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.”
Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”
Markus 5:36 Die Boodskap

Jesus het dit gehoor.

Hierdie manne het nie met Jesus gepraat nie, maar Hy was in hulle nabye omgewing en het gehoor. En Sy eerste reaksie was om dit wat Hy gehoor het, in ’n goeie gawe om te sit.

Hoeveel van dít wat ek hoor maak daardie eerste reaksie by my wakker?

Hoeveel van dít wat ek hoor laat my kreatiwiteit in “overdrive” gaan om seker te maak iemand anders word geseën bloot omdat ek daar was om te hoor?

Random Acts of Kindness (RAOF) is ’n beweging wat al baie jare aan die gang is.  Dit is nou waar mense vir mekaar goed is, sommer net. 

Vandag wonder ek of RAOF’e dan nie juis aangevuur moet word deur ’n nuwe beweging van Alewige (Heilige) Afluister nie?  

A(H)A!

Dit sal nou wees waar jy met aandag luister na ander se publieke gesprekke – by die tafel langsaan in die restaurant, by die skool se hek, in die ry by die pannekoektafel, in die dokter se spreekkamer, tussen die betaalpunte by SPAR.

Nie om daarvan skinderkos te maak nie.

Om vir die praters in te tree in gebed, of fisies uit te help waar dit knap gaan, of hulle te ondersteun sonder dat hulle eens weet waar dit vandaan kom.

Want sou jy nie ook graag wou hê iemand met die beste intensies moet jou eie moeilike gesprekke afluister nie?

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest