Leesvordering:

AfriForum stel kuberboeliegids bekend in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, SECI, die Universiteit van Johannesburg en Unisa

Mei 29, 2023

Van links na regs Kaptein Veronica Banks (SECI), Yolandi Singleton (Ons Sentrum), Leandie Bräsler (AfriForum), adv. Phyllis Vorster (PVE) en prof. Basie von Solms (UJ).

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogafdeling en privaatvervolgingseenheid het op 29 Mei – die eerste dag van die Nasionale Kinderbeskermingsweek – ’n kuberboeliegids bekendgestel. Hierdie gids skep bewusmaking oor die gevare van tegnologie, sosiale media, seksskrywery (sexting) en kinderpornografie.

Die doel van hierdie gids is om ouers, onderwysers en leerders te bemagtig om #SkermSlim te wees. Dié gids is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid (SECI), die Universiteit van Johannesburg en Unisa saamgestel.

Wêreldwyd lê Suid-Afrika vierde hoogste wat kuberboeliery betref. Volgens marknavorsing deur die maatskappy Ipsos in 2018 het meer as die helfte (54%) van Suid-Afrikaanse ouers gesê dat hul kinders, of kinders in hul gemeenskap, slagoffers van kuberboeliery is. Hierdie statistiek kan egter veel hoër wees aangesien ouers nie altyd weet of hul kinders geboelie word nie. Sosiale media veroorsaak dat die boelie saam met die slagoffer huis toe gaan, boeliery is dus konstant.

“Boeliery wat eens net op die skoolterrein, of op die -bus plaasgevind het, het nou na sosiale media uitgekring – kuberboeliery. Die gids bespreek die erns van kuberboeliery, kinderpornografie en seksskrywery. Dit lig ouers en onderwysers in oor die gevare van die internet en sosialemediaplatforms. Ouers en onderwysers word ook gewys hoe om proaktief op te tree wanneer hul uitvind dat leerders onder kuberboeliery gebuk gaan, hoe om dit te hanteer en te voorkom,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Bewusmaking oor die gevare van sosiale media moet met leerders bespreek word, aangesien meer en meer leerders daardeur geraak word. Leerders weet nie noodwendig watter gevare en trauma dit vir hulself kan inhou nie, veral nie wat die deel van naakfoto’s betref nie. Ons wil leerders help om sosiale media beter te verstaan, en hoe om boeliegedrag aan te meld. Hierdie gids bevat ’n tabel met verskeie slimfoontoeps wat onder leerders gewild is, en watter gevare elke toep inhou. Ons moedig ouers aan om hulself goed van hierdie toeps te vergewis, en hoe dit werk sodat hulle hul kind(ers) beter kan beskerm,” sê Kaptein Veronica Banks van die SAPD se Gautengse misdaadeenheid vir elektroniese misdaad.

“Ondervinding wys dat die president, die minister van Justisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die howe slegs lippediens doen oor geslagsgebaseerde geweld en seksuele oortredings teenoor minderjariges. Opvoeders word daagliks gekonfronteer met ’n verskeidenheid van uiteenlopende voorvalle wat die toepassing van die reg in skole noodsaak. Kuberboeliery is die algemeenste en waarskynlik die moeilikste om te hanteer. Die enigste doeltreffende wyse om daarop te reageer is om te verseker dat die reg voorspelbaar is om sodoende as afskrikmiddel te dien. Die gids fokus op die Wet op Kubermisdade 19 van 2020 en  die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“’n Standvastige vertrouensverhouding tussen kind en ouer is ’n voorvereiste om ongemaklike gesprekke oor sosiale media en ander onderwerpe te hê. Daarom moet jy as ouer deurgaans hard werk aan jou verhouding met jou kind deur gehaltetyd met hulle te spandeer. Hierdie gids leer ouers en onderwysers hoe om situasies te hanteer wanneer hul kind met kuberboelies, kinderpornografie en seksskrywery te doen kry,” sê Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum.

“Ons is vinnig besig om die kubergenerasie te word. Die doel van die bewusmaking van kubersekuriteit is om alle gebruikers – ouers, leerders en opvoeders – daaroor in te lig. Ons glo hierdie gids sal die publiek meer bewus maak van kubersekuriteit. Leerders kan enige plek digitaal afgeknou word. Dit kan 24 uur, sewe dae per week gebeur – en baie keer weet die ouers nie dat hul kind(ers) geïntimideer word nie,” sê prof. Elmarie Kritzinger van Unisa.

“Ouers, grootouers, onderwysers en almal wat in enige tipe gesagsposisie is, moet die boodskap duidelik help oordra. As jy op enige wyse aan kuberboeliery deelneem kan jy vir die res van jou lewe ’n misdaadrekord hê,” sê prof. Basie von Solms aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit.

  • Klik hier vir meer inligting oor die gids
Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest