Leesvordering:

Afrikaanse idiome wat nét jy sal verstaan

Sep 16, 2022

Nadat die nedersetting in 1652 aan die Kaap gevestig is het dit in ’n kookpot van kulture ontaard. Hier het Franse Hugenote, Engelse, Portugese, Skandinawiërs, Maleiers en verskeie ander kulture hulle tuiste gevind. Dié diversiteit het genoodsaak dat ’n eenvoudige omgangstaal gebruik word, maar het ook tot ’n wye herkoms van idiome en gesegdes gelei.

Hier is die betekenis en herkoms van ’n paar van die bestes:

Vinkel en koljander, die een is soos die ander.

Betekenis: Twee dinge of mense is presies eenders.

Herkoms: Die gesegde verwys na vinkel- en koljanderplante wat soortgelyk lyk. Beide vinkel en koljander word gekweek vir hulle blare en vir hul sade. Beide se blare is kruie en hulle sade speserye. Daarom word hulle beide in kookkuns gebruik.

Soveel van iets weet as ’n kat van saffraan

Betekenis: Om niks te weet van ’n saak nie

Herkoms: Saffraan is ’n spesery wat uit die krokusplant geoes word. Die Maleierslawe aan die Kaap was groot kenners van speserye, omdat hulle uit die Ooste na die Kaap gebring is. Boonop was die Kaap op die seeroete tussen Europa en die Ooste, en saffraan was dus vir die Kapenaars niks vreemds nie. Alhoewel dit bekend sou wees vir diegene wat die duur spesery sou kon bekostig, sou dit van geen waarde vir ’n kat wees nie.

Die aap is uit die mou.

Betekenis: Wanneer iets publieke kennis word

Herkoms: Volgens oorlewering is die gesegde se herkoms die toertjie wat ’n kulkunstenaar met ’n apie gedoen het. Die apie was dan in die kulkunstenaar se kleed versteek en het dan vinnig te voorskyn gekom deur die wye moue van die kleed. Die toertjie het hofgangers in bewondering gelaat oor sy toorkuns.

Boontjie kry sy loontjie.

Betekenis: Elkeen kry sy verdiende loon.

Herkoms: Die gesegde se herkoms is ’n ou Nederlandse sprokie wat handel oor ’n ertjie, ’n boontjie, ’n strooitjie en ’n kooltjie vuur wat saam gaan wandel het. Die groepie kom toe by ’n rivier en wonder toe hoe hulle die ander wal sal bereik. Strooitjie bied aan om oor die water te lê en ertjie en boontjie loop toe oor hom. Maar toe kooltjie vuur oor strooitjie wou loop brand hy middeldeur en kooltjie val in die water. Boontjie lag toe so hard daarvoor dat hy bars – wat toe ook sy verdiende loon is.

Alle grappies op ’n stokkie

Betekenis: In alle erns, hou op grappies maak.

Herkoms: Die stokkie waarna hier verwys word is die sotskolf wat die nar in die koninklike hof gedra het. Dit was dikwels ’n stok met ore aan. “Alle grappies op ’n stokkie” is eintlik ’n waarskuwing dat die hofnar nou moet ernstig raak.

Om iemand van bakboord na stuurboord te stuur

Betekenis: Om iemand rond en bont te stuur

Herkoms: Die bakboord is die linkerkant van ’n skip wanneer jy na agter kyk en die stuurboord is die regterkant.

Laat jou Afrikaans tel en hou jou taal lewendig – selfs in die buiteland. Hoe goed ken jy jou Afrikaanse idiome en gesegdes? Laat weet ons wat is jou gunsteling-idioom of -gesegde.

LEES OOK: Sewe unieke Afrikaanse woorde en hul herkoms

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

Natuurhoekie 69: Giftige sampioene in Suid-Afrika

Natuurhoekie 69: Giftige sampioene in Suid-Afrika

Deur Alana Bailey Enkele jare gelede het my ma en ek in ’n gastehuis naby ’n woud in die Suid-Kaap gebly. Net na sonop het ons die gasvrou se ma met ’n mandjie vol sampioene deur die tuin sien loop. Sy het skrikwekkend baie na Sneeuwitjie se stiefma in my sprokiesboek...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest