Deur Ilze Nieuwoudt
Die bosstories van Dalene Matthee het in 1984 vir die eerste keer in die harte en gedagtes van Afrikaanse lesers gekruip met die bekendstelling van Matthee se eerste bosboek – “Kringe in ’n bos”. Hierdie verhaal oor die uitwissing van Knysna se olifante en die uitbuiting van die bosmense was ’n wegholsukses. Dit is sedertdien in sestien tale vertaal. ’n Jaar later het “Fiela se kind” verskyn en in 1987 was die derde bosboek, “Moerbeibos”, op die rak. Dié boek vertel die verhaal van ’n groep Italiaanse sywurmboere wat in 1882 in die Knysnabos by Gouna gevestig is onder die voorwendsel dat omstandighede daar gunstig sou wees vir die vestiging van ’n florerende industrie, net om liederlik teleurgestel te word met die wete dat die moerbeibome net nie in dié bos wil wortelskiet nie. Hoewel Matthee ná die publikasie van “Moerbeibos” oortuig was dat dié “driepoottafel” van bosboeke afgehandel is, verskyn ’n vierde bosboek, “Toorbos”, in 2003, sowat twintig jaar ná die eerste verskyning van “Kringe”. Matthee het volgens nóg ’n bekroonde Afrikaanse skrywer Elsa Joubert dit “reggekry dat mense wat nooit Afrikaans lees nie, Afrikaans lees – en dit is ’n wonderlike bydrae.” Die Afrikaanse kortverhaalskrywer Abraham H. de Vries het ná Matthee se dood in 2005 haar uitsonderlike skryftalent benadruk:
Haar stem is dalk uitgedoof, maar haar bosstories leef voort en is vandag nog nou verweef met die Knysnabos (meer hieroor in ’n volgende inskrywing). Vier gerus vandeesmaand ons groenerfenis en gaan stof weer een van Matthee se geliefde bosstories af.