Leesvordering:

Desember 2022 leeslyste

Des 5, 2022

Voorskool

Hier is ons wonderlike vakansieleeslys vir voorskoolse kinders!

DRAKE DEEL NOOIT NIE – Nicola Kinnear

Kan ‘n draak leer hoe om te deel? Rissie is ‘n baie soet draak. Sy volg al die reëls in die Reëlboek vir Drake: Sy steel by almal, en wil nie haar skatte met ENIGE IEMAND deel nie! Die ander diere het genoeg gehad. As hulle maar die draakreëls kon verander . . . ‘n Pragtige prenteboek oor die belangrikheid van deel, vertaal deur Jaco Jacobs.

NAG APIE (4 in reeks)

Apie wil altyd die beste in alles wees. Maar hoogmoed kom voor die val en hy leer gou dat om ‘n goeie maatjie te wees die heel beste van alles is. Hierdie pragtige slaaptydboek met foto-illustrasies en eenvoudige stories sal jou kleinding in ’n kits droomland toe stuur. Nag eendjie is net so oulik.

MY EERSTE TWEETALIGE WOORDEBOEK

Kinders kan hulle wêreld met hierdie prettige eerste woordeboek verken en die name van allerlei dinge rondom hulle leer. Elke bladsy is vol prente en dinge om te soek en oor te praat. Dié boeke is hardeband met volkleur illustrasies. 

WILDE DIERE – LOER BINNE

Hierdie kartonboek is die jongste toevoeging tot die Loer binne-reeks. Die tien lig-en-loerflappies is sterk genoeg vir die gryperigste klein handjies en sal keer op keer pret verskaf. Die lewendige illustrasies sal kinders se aandag behou en dit nog lekkerder maak om die wilde diere te ontdek. Kom kuier saam in die woestyn en in die woud!

VERF EN LEER KLEURE (2 in reeks)

Hierdie hardebandboeke het versteekte prente om te vind sodat kinders na die kleure kan kyk! Kinders kan water oor die wit agtergrond verf en kleur sal verskyn. Die kleur sal weer verdwyn en die prente kan oor en oor gebruik word. ‘n Kwas word ingesluit! Verf en leer 123 ook beskikbaar.

MY LAPBOEK – PLAASDIERE/FARM ANIMALS

Die tema van hierdie boek is plaasdiere! Op elke bladsy is ‘n pragtige illustrasie van ‘n Suid-Afrikaanse plaasdier met die dier se naam in Afrikaans en Engels, vir kleintjies om nuwe woorde te leer. Die boeke bevat ook kreukelpapier in die eerste bladsy waaraan hulle vir ure lank kan vat en voel. 

Vir verdere leesinspirasie, klik op die skakel na ons webwerf.

6-9 jr.

Hier is ons wonderlike vakansieleeslys vir leerders in die Grondslagfase!

LEKKERLAG PRETBOEK – De Wet Hugo

Die pretboek beloof ure se vermaak! Hier is grappe wat jou sal laat skater en raaisels wat jou sal laat kopkrap. Hier is ook vreeslike vreemde feite, prettige speletjies en snaakse limerieke. Jy sal giggel wanneer jy hoor waarom spoke nie leuens kan vertel nie. Jou oë sal rek as jy uitvind wat gebeur as mens te veel wortels eet! En jy gaan op die grond rondrol as jou maats moet verduidelik waarom hulle kies om ’n mak krokodil se tande te borsel óf eerder in ’n swembad vol spoeg sal swem!

THE A-Z ANIMAL JOKES/DINOSAUR JOKES –

Each of these joke books, about animals and dinosaurs respectively, is packed with 300 hilarious one-line jokes that are bound to appeal to young comedians. The jokes have been arranged from A to Z, so finding the perfect gag for every occasion is easy. The jokes are kid-safe and family friendly and include golden oldies as well as brand-new material.

DISASTER AT GOGO’S SPAZA – Salamina Mosese

Tumi visits her Gogo in Soweto for the holidays. She and her twin cousins often help Gogo in her spaza shop. Gogo’s Goodies is the oldest spaza in all of Soweto and Gogo’s pride and joy. When Gogo leaves for a few days, Tumi has one of her crazy ideas: They will open the shop and run it themselves and earn loads of money! But they’ve never had to do it without Gogo, and things quickly get out of hand, making the spaza more famous than ever . . . 

DIE HOLDERSTEBOLDER HONDEPARTYTJIE

Vir sy 10de verjaardag wens Jaco net vir een ding: ‘n hond! En hy wil ‘n hondepartytjie hê, met hondekolwyntjies. Maar gaan sy ouers vir hom die geskenk van sy drome gee? Sal sy gunsteling-sanggroep, Wagter en die waghonde, by sy partytjie kan wees? En wie moet hy nooi: net sy maats wat van honde hou of almal in sy klas? En wat moet hy doen as sy partytjie skielik heeltemal skeef loop, of as die hond wat hy kry in iets eienaardigs verander? ‘n Storie propvol kinkels en keuses! Jy besluit self hoe hierdie storie eindig!

DIE SEEROWERS EN DIE MONSTER SE SKAT – Jonny Duddle

Kom span die seile saam met Matilda, Basjan en die Van der Branders, en geniet hulle opwindende seeroweravonture. Hierdie keer soek hulle na ‘n skat, maar ‘n vioolspeler waarsku hulle teen ‘n monster wat almal wat sy goud wil kom steel, OPVREET … Dit is die derde titel in die gewilde Seerower-reeks! ‘n Lekker leeservaring vir kinders wat pas hulle eerste hoofstukboeke begin lees het. 

STORIES IN DIE WIND – Deidre Jantjies

Tien verhale wat die minder bekende stories van die mense van die Richtersveld, Namakwaland en Kalahari vertel. Die karakters is diere, mense, die son, maan en sterre. Skilpad en Volstruis sê mekaar die stryd aan. Sal Jakkals en Leeu kan saamwerk om te jag? Die mense van Hoerikwaggo trek //Hui !Gaeb toe. Daar is die Gariep se watergees in die vorm van ‘n vrou. Pragtig vertel om lesers se verbeelding aan te wakker.

KAPTEIN ONDERBROEK – Dav Pilkey

George en Harold het die grootste superheld in die geskiedenis van hulle laerskool geskep – en nou gaan hulle lewe aan hom gee! Ontmoet kaptein Onderbroek! Sy ware identiteit is só ’n groot geheim dat selfs hý nie weet wie hy is nie!
Lees hierdie reeks deur dieselfde skrywer as Hondman. Skreeusnaaks en perfek vir eerste of trae lesers! 

DIE STOUTSTE KLAS OP AARDE WORD STOUTER #2 – Joanna Nadin

Volgens die skoolhoof is 4B DIE STOUTSTE KLAS OP AARDE. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor LEER. Maar Alex en Manjit het LETTERLIK nie bedoel om die toilette te verstop terwyl hulle die skoolgrond moes oppas nie. En hulle het definitief nie bedoel om LETTERLIK ‘n pikkewyn vanaf die dieretuin skool toe te bring na hulle skooluitstappie nie. Hierdie goed gebeur net al het hulle ‘n perfekte plan gehad om daarmee weg te kom! 

Vir verdere leesinspirasie, klik op die skakel na ons webwerf.

10-14 jr.

Hier is ons wonderlike vakansieleeslys vir leerders in die Intermediêre fase!

SKOOL VIR TALENTE – Silke Schellhammer

Alva is in graad vier, en kan diere hoor praat. En hulle LAWAAI! Maar dié talent is niks vreemds by haar nuwe kosskool op ’n verlate eiland nie. Ander kinders daar verander van vorm, krimp, of kan water beheer. Vlieënde klasmaats en kinders wat deur deure loop, is doodgewoon. ’n Resep vir CHAOS! Maar hoekom praat die gebreekte kennisgewingbord in die kafeteria in raaisels?

LOTTA #13 WOEF-WAFF – Alice Pantermuller

Lotta se klas gaan hierdie week na hulle ouers se werksplek toe om te kyk wat hulle beroep is. Pappa is een van die ouers. Net die gedagte dat hulle na sy skool toe gaan, gee haar ’n NAAR KOL op haar maag. Gelukkig gaan hulle darem van ander cool beroepe ook leer. Leigh-Anne se ma werk by ’n hondesalon, en hulle gaan ook inloer by die DIERESKUILING waar mnr. Lategan vrywillige werk doen. Lotta en Chantelle se liefiehonde, WOLLIE en STOFFIE, is daar en hulle gaan ook eendag daar werk.

DAGBOEK VAN ‘N DORK #6 – Rachel Renee Russel

Dagboek van ‘n dork is vir almal wat al ooit soos die grootste dork in die wêreld gevoel het. ‘n Reeks oor Nikki Maxwell en haar lewe vol drama en dinge. Brandon vra uiteindelik amper vir Nikki uit! Maar hy begin vreemd optree en sy is bekommerd dat hy nie eintlik van haar hou nie. Die meisies moet boonop die seuns na die skooldans vra! Lees Nikki se dagboek en maak reg om die dork in jou ’n drukkie te gee!

SPEURDER SAMMI – DIE BLOU STEEN – Chrystal-Donna Roberts

Sammi is 13 en bly saam met haar tannie Valerie, ‘n kunstenaar. Hulle gaan kuier vir die vakansie by Oumie en Dedda in die Noord-Kaap. Sammi gaan haar vriendinne April en Lerato mis, maar die klein dorpie gaan ‘n goeie change of scene vir haar wees. Dit sal haar gedagtes afvat van Richfire Arts Academy, die kunsteskool waar sy so graag wil inkom. Maar die platteland is vol verrassings. En kansvatters. Sal sy vir Dedda en Oumie kan help as die slymerige George sy flikkers kom gooi? 

HONDMAN 3 KATKENADES – Dav Pilkey

Die superspeurder kom weer te staan teen sy groot vyand, Ramkat, wat die lewe vir die polisie moeilik maak. Ramkat ontsnap uit die tronk en breek in by ’n laboratorium. Hy steel ’n masjien en maak ’n miniatuurkloon van homself, Kleinkat. Intussen ontvries ’n professor ’n psigokentiese vis om sy brein te bestudeer, maar Hondman breek per ongeluk al die grate in sy lyf. Die professor opereer die vis en maak ’n supervis.

NET ALIENS EET SPINASIE – Jaco Jacobs

‘n Alien land in ‘n swembad, kinders verdwyn in ‘n biblioteek, ‘n monsterhond word ‘n woefie-woef en ‘n vampier-jagter-ouma bestorm ‘n skool met ‘n knoffel-bazooka . . . Maar dis nog lank nie al nie! 
Hierdie versameling van tonekrul-lekker stories deur Jaco Jacobs is al meer as ‘n dekade lank gewild. Die nuwe uitgawe met fassinerende illustrasies deur Iain Rennie sal lesers laat gril en ril van plesier. En die beste van alles? Een splinternuwe storie is bygevoeg!

FELINA KAT GEHEIME AGENT -Louise Smit

Timo wonder wie die geheimsinnige inwoner op die boonste verdieping van hulle woonstelblok is. Wanneer hy gaan ondersoek instel, verander sy vervelige skoolvakansie skielik in ’n groot avontuur! Hy maak kennis met Felina Kat, maar sy is geen gewone kat nie . . .  Sy is ’n GEHEIME AGENT. Speurder Skote Petoors het ’n probleem. ’n Kosbare blou diamantring is gesteel en daar is nog geen leidraad nie. Die Geheime Agent moet kom help. Sal Felina, Skote en Timo saam die skurke kan vastrek? 

WATERMEISIE – Marissa Badenhorst

In ’n wêreld waar water al skaarser word, onderneem die dapper jong Akwa ’n epiese tog uit Vervlakte. Sy oorreed Orrelman om haar met sy motor te neem na Wonderstroom, waar daar nog baie water is. Onderweg ontmoet hulle vir Watersmous. Daar is vele ontberings op hulle ekspedisie, en later word Akwa en Orrelman gevange geneem deur Neptunus – ’n wreedaard wat die streek se water opgepot het en daaroor heerskappy voer. Dit is ook Neptunus wat weet wat met Akwa se pa, Akwarius, gebeur het.

Vir verdere leesinspirasie, klik op die skakel na ons webwerf.

14+ jr.

Hier is ons wonderlike vakansieleeslys vir die Senior- en VOO-fases!

DRYF – Cecilia Steyn

Mense glo daar’s ’n vloek oor Stormwater. Die see roep elke jaar sy slagoffers. Is dit waarom Caleb se pa se vliegtuig neergestort het? Caleb moet sy matriekvakansie opoffer om die geheim te ontrafel. Freya word ook gedwing om haar somer in die vreemde kusdorp deur te bring – asof vars lug ‘n kitskuur sal wees vir haar kroniese siekte. Saam speel hulle speurder. Maar wat as die waarheid ‘n tsunami is wat wag om hulle te verswelg?  

CROSSING THE RIVER – Fred Khumalo

Nozizwe and her mother, sister and aunt escape a group of rebels that have captured them to be sold into slavery. In their escape they end up in the clutches of human traffickers, imprisoned on a Limpopo farm. Nozizwe escapes, pretending to be a boy, and makes her way to Johannesburg. No one she approaches believes her fantastic tale.

VUURVRETER – Joha van Dyk

Malherbe Albertyn, oftewel Vuur, beplan om sy somer in Kransbos te spandeer om die magiese Ylwoud te vind. Desperaat op soek na die antwoorde, na iets buiten die Bloedskuld wat hy en sy bendebroers steeds in die arena betaal. Desperaatheid dryf ook vir Mieke om te waag om haar drome na te jaag. Maar dit beteken sy moet Vuur se vertroue wen – die een ou wat haar nie kan verdra nie. En dan is daar Jak, en alles wat ongesê bly tussen hulle . . . Kan sy ontsnap deur saam met Malherbe in ‘n onvoorspelbare bos te gaan verdwaal? Is Ylwoud die antwoord op Malherbe se suster se verdwyning? Vir beide Mieke en Malherbe wag daar ‘n besluit: waag of waarheid . . . Maar daar is nie altyd ‘n keuse nie.  

ELF DAE IN AMSTERDAM – Elizabeth Wasserman

Millie is in Amsterdam om haar tante te help aansterk na ’n knie-operasie. Maar toe die tante langer in die hospitaal moet bly, is Millie gestrand! Sy leer ken toevallig vir Pim, ‘n Amsterdammer met wortels in Suid-Afrika. Maar hoekom het haar ma haar ouma se dagboek uit haar tienerjare in Amsterdam tydens die Tweede Wêreldoorlog in haar tas gestop? Bewaar die stad van kanale en fietse dalk ook geheime van Millie se familie in Suid-Afrika?

CHRISTINE LE ROUX KEUR 8 – Eleanor Baker

Christine le Roux Keur 8 bevat drie immergroen liefdesverhale.

In Geskenk uit die hemel leer die suksesvolle sakeman Pieter Louw vir Maja ken nadat hy haar per ongeluk raak ry. Só begin ’n voorlopige verblyfreëling wat tot talle onmoontlike en baie snaakse situasies lei.

In Die lente kom weer moet Frans Fourie aan ’n nuwe sekretaresse gewoond raak. Kristien is ’n uitstekende plaasvervanger, maar hoekom is hy teleurgesteld oor haar koel en onbetrokke houding?

En in Kosbaar soos die lewe bedank Elizabeth Benade haar werk by ’n rekenaarfirma en gaan werk vir die moeilike dokter Richard Nel. Dis nie lank voor Elizabeth betrokke raak by dié dokter en sy seun se lewe nie.

JUNGU JOSH 3 – DIE WATERS VAN WAFU – Constant van Graan

Na die ontstellende gebeure by die viering van sy ma se terugkeer, vlug Josh van Liba af weg. Op soek na slaapplek dwaal hy en Charlie die misterieuse Geelwoud binne. Hier vind Josh tydelik geluk wanneer die kinders van die Nuwe Jerusalem hulle in hulle boomdorpie laat bly. En Jandja, die tienerleier van die groep, is ‘n seun soos hy. Maar Josh weet Kalimbula brand. Hy moet iets doen. Dan is daar nog vrae: Het Njeri hom regtig verraai? En wat lê agter tannie Verona se obsessie met die Wafu-water?

WEERLIG OOR MTWANA – Christien Neser

Dis al Maart. Mieke het nog nie met Fen gepraat vandat hy koshuis toe is nie. Hy bel nie, kom nie naweke huis toe nie. Op Mtwana hang daar ‘n skadu van onsekerheid. Die Phiri-bende is oorkant die rivier aktief. Hulle teiken hoofsaaklik olifante.  Mieke sit haar voet neer en bel vir Fen by die koshuis.  ‘n Boelie gryp sy foon en ‘n bakleiery breek uit. In die gestoei breek Fen sy spanmaat, Jock, se neus. Fen én Jock word geskors. Hulle straf: twee weke se harde arbeid op Mtwana. 

KIES DIE LEWE – Ivor Swartz

Ivor Swartz is ’n depressielyer, maar hy kies die lewe. Ivor verwys hier na sy eie depressie en pleit dat ons geen mens oordeel vir wat hulle in die donkerste oomblikke gekies het nie. Hy gesels oor depressie onder tieners en reik ‘n sagte hand uit na ouers wat ‘n kind aan selfdood verloor het. In hierdie intense persoonlike, dog toeganklike reis gee Ivor nie maklike antwoorde nie, maar vra dat ons ons oë sal oopmaak vir mense rondom ons, en dat ons hulle sal ondersteun. Luisterboek ook beskikbaar.

Vir verdere leesinspirasie, klik op die skakel na ons webwerf.

Uitgewer:nb uitgewers

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest