Leesvordering:

“Die impak van persoonlikheidseienskappe op die emigrasiereis”

Mar 7, 2023

Deur dr. Sulette Ferreira

Baie Suid-Afrikaners oorweeg dit om die land te verlaat. Diegene wat uiteindelik die proses deursien, verteenwoordig egter ’n fraksie van dié wat aanvanklik die proses begin het. Nie almal het die begeerte, vermoë of geleentheid om te emigreer nie. Om jou werk te los (as jy een gehad het), jou huis te verkoop, kosbare besittings te stoor nadat jy die res verkoop het, en geliefdes agter te laat, vorm alles deel van die omslagtige en langdurige emigrasiereis.

So ’n besluit volg dikwels wanneer iemand by ’n belangrike kruispad in hul lewens te staan kom. Dit hou langdurige gevolge in, nie slegs vir die persoon wat die besluit neem nie, maar ook vir diegene wat deur die besluit geraak word. Dit is dus raadsaam om so realisties as moontlik oor jou verwagtinge te wees: nie net oor die bestemming nie, maar ook oor jouself. Emigrasie is ’n lewensgebeurtenis waar jy ’n doelbewuste besluit neem om van ’n gevestigde lewenstyl en ’n bekende omgewing afstand te doen. Dit is ’n reusebesluit. Eweneens mag daar nie noodwendig die geleentheid of fondse wees om weer terug te keer nie, sou die migrasieproses misluk. So ‘n ondervinding mag jou duur te staan kom.

Hierdie artikel is  nie bedoel om jou te oorreed om te bly of te gaan nie, maar jou eerder by te staan om ’n ingeligte besluit te neem; wat die besluit ook al mag wees.

’n Holistiese benadering

Die besluit om te emigreer word dikwels beskryf vanuit ’n ekonomiese perspektief; terwyl die emosionele aspekte daarvan minder aandag geniet1. Behalwe vir die talle formaliteite om af te handel (soos om visums en behuising te reël), is daar ook nog emosionele struikelblokke wat selfs meer uitdagend kan wees. Ten spyte van hierdie struikelblokke besluit baie mense egter steeds om die groot stap deur te sien.

Verskeie redes word aangevoer waarom mense emigreer. Talle Suid-Afrikaners word gedryf deur knaende kwessies in die land, soos die onseker politieke klimaat, gewelddadige misdaad, tekort aan werksgeleenthede, toenemende verval van infrastruktuur en korrupsie. Hoewel hierdie sosio-ekonomiese en politieke faktore gereeld genoem word, verklaar dit slegs gedeeltelik die behoefte om te emigreer. Hierdie verskynsel het verskillende fasette wat holisties benader moet word om seker te maak dat jou motiewe goed belyn is met die werklikheid.  

Alhoewel navorsing deur Boneva & Frieze (2001)2 toon dat persoonlikheidseienskappe ’n beduidende faktor kan wees om die sukses van die emigrasiereis te voorspel, word sulke “sagte” eienskappe dikwels geïgnoreer, en geniet ’n pragmatiese benadering meestal voorkeur. In hul studie het Boneva & Frieze met die beginsel van ’n “migrante persoonlikheid” vorendag gekom, wat van die veronderstelling uitgaan dat “suksesvolle emigrante” persoonlikheidseienskappe het wat verskil van dié wat besluit om te bly.

Die “vyffaktormodel van persoonlikheid”

Het mense wat vrywillig besluit om hul land van herkoms te verlaat ander persoonlikheidseienskappe as dié wat besluit om te bly? Volgens Boneva en Frieze is dit inderdaad die geval. Alhoewel dit nie impliseer dat emigrante almal dieselfde tipe persoonlikhede het nie, deel hierdie groep sekere eienskappe wat die moontlikheid om nuwe omgewings te verken, en uiteindelik in ’n nuwe land te hervestig, kan aandui. In dié opsig toon hul studie aan dat emigrante dikwels werkesels met baie ambisie is en ’n minder hegte band met familie en vriende het.

Die “vyffaktormodel van persoonlikheid” is ’n algemeen erkende model om vyf breë dimensies van persoonlikhede te verduidelik. Hierdie sluit in: ’n geneigdheid om oop te wees vir nuwe ervarings, om pligsgetrou te wees, om ’n ekstroverte persoonlikheid te hê, selfkennis te hê, om aangenaam te wees, en om neuroties te wees. ’n Mens se persoonlikheid word beskou as die dinamiese interaksie van al hierdie eienskappe. Dit bepaal hoe ’n individu in verskillende situasies dink, voel, en optree, en is geneig om met verloop van tyd konstant te bly.

Persoonlikheidseienskappe vorm deel van ’n kontinuum wat op ’n skaal deur teenoorgestelde pole uitgedruk kan word. Op so ’n skaal sal ’n ekstroverte geaardheid byvoorbeeld deur ’n introverte geaardheid op die ander end van die skaal gebalanseer word.

Persoonlikheidseienskappe en emigrasie

Persoonlikheidseienskappe kan waardevol wees om leidrade te verskaf wat suksesvolle emigrasie voorspel. Sommige persoonlikheidseienskappe kan beteken dat party mense meer geneig sal wees om te emigreer, terwyl ander eienskappe gepaard gaan met mense wat meer geneig sal wees om te bly.

1. Openheid vir nuwe ervarings

Mense wat toeganklik  en meer oopkop (“open-minded”) is, is geneig om meer avontuurlustig te wees. Hulle  openbaar ’n groter verdraagsaamheid vir diversiteit, het ’n positiewe ingesteldheid ten opsigte van ingewikkelde situasies, ’n wye verskeidenheid belangstellings en is meer geneig om kreatief te wees. Hulle is dikwels nuuskierig oor die wêreld en ander mense, gretig om nuwe dinge te leer en hulle geniet nuwe ervarings. Oopkop individue is ook geneig om meer aanpasbaar te wees met die uitdagings wat die lang en komplekse emigrasieproses inhou.

Dit is dus geen verrassing dat ’n geneigdheid om oop te wees vir nuwe ervarings gekoppel word aan die besluit om te emigreer nie. Emigrasie bied die geleentheid vir baie nuwe en uitdagende ervarings wat ligging, sosiale netwerke en kultuur aanbetref, en mense wat oopkop is hou gewoonlik hiervan.

2. Ekstroversie

Mense met ’n hoë vlak van ekstroversie het ’n energieke uitkyk op die lewe en is gewoonlik sosiaal en selfgeldend. Hulle is meer spraaksaam, avontuurlustig en kan hul emosies met gemak verwoord. Hulle put energie en opwinding uit sosialisering met ander mense. Ekstroversie speel ’n belangrike rol in emigrasie aangesien ’n mens dikwels sosiaal moet verkeer met mense wat totale vreemdelinge is. Hulle optimisme maak dat ekstroverte gewoonlik meer selfversekerd en suksesvol in ’n nuwe plek kan wees. Ekstroverte  sal makliker hul vlerke sprei en in ’n nuwe land gaan vestig.

3. Aangenaamheid

Mense wat aangenaam is beskik gewoonlik oor eienskappe soos vriendelikheid en is samewerkend. Ander mense se welstand is ook geneig om vir hulle belangrik te wees. Aangename mense identifiseer met die waardes en norme van hul plaaslike gemeenskap. Juis omdat die welstand van hul plaaslike gemeenskap vir hulle baie belangrik is, is hulle dus minder gewillig om dit agter te laat. Hulle het ’n sterker behoefte om betrokke te wees by die mense wat hulle ken en sal dus minder gemotiveerd wees om na ’n ander land te verhuis.

4. Pligsgetrouheid

Pligsgetrouheid word gekenmerk word deur kwaliteite soos verantwoordelikheid, betroubaarheid, selfdissipline en diens. Omdat voorspelbaarheid en orde vir hulle belangrik is, mag pligsgetroue persone ervaar dat die sielkundige prys van emigrasie te hoog is. Dit kan moontlik wees dat mense wat aangenaam en pligsgetrou is minder geneig is om te emigreer, aangesien hulle eerder by hulle bekende roetines en verpligtinge moet hou. Hulle is normaalweg meer tevrede in hul huidige omgewing en minder geneig om risiko’s te neem en groot veranderinge aan te pak.

5. Om neuroties te wees

Iemand wat neuroties is, ervaar meer dikwels negatiewe emosies soos angstigheid, vrees, hartseer, en skuldgevoelens, en is meer geneig om emosioneel onstabiel te wees. Hulle word dikwels beskryf as sensitief, angstig, buierig, en is geneig om gespanne te wees. Dit kan die aanpassingsproses in ’n nuwe omgewing en kultuur bemoeilik. In teenstelling is individue wat minder neuroties is gewoonlik meer emosioneel stabiel, wat dus die aanpassingsproses in ’n nuwe omgewing en kultuur kan vergemaklik.

Die vyf karaktereienskappe wat kortliks hier bespreek is, is nie beperk tot mense wat emigreer nie, maar is iets waaroor ons almal oor ’n meerdere of mindere mate beskik. Die feit dat jy hier bly, beteken nie dat jy minder ambisie het, dat jy minder hardwerkend is, of nie kans sien om nuwe uitdagings aan te pak nie. As jy egter wel besluit om te emigreer, vergemaklik veral twee karaktereienskappe die proses: aanpasbaarheid en ekstroversie.

Die besluit om te emigreer en die bestuur van die emigrasieproses vereis dat jy ’n goeie begrip van jou eie persoonlikheidseienskappe het. ’n Persoon se posisie op die kontinuum van elk van hierdie vyf eienskappe kan aandui hoe hulle die emigrasiereis gaan aanpak en die moontlike sukses daarvan. Hierdie eienskappe kan ook help om emosionele reaksies wat met nuwe situasies gepaard gaan te voorspel en te verstaan.

Ken jouself

Om ontwortel te word en weer in ’n onbekende omgewing oorgeplant te word, het beslis sosiale, sielkundige, ekonomiese en kulturele implikasies. Selfs al mag die fisiese reis lig wees, moet die emosionele las van emigrasie nie onderskat word nie. Sommige mense sal emigrasie beleef as bevrydend en as ’n positiewe belewenis, terwyl ander ’n diep gevoel van emosionele ontworteling, verlies en pyn ervaar waarby hulle moeilik kan aanpas.

Dit gebeur dikwels dat ’n mens jouself dan die knaende vraag vra: “Doen ek die regte ding?” Dit is baie natuurlik om in jouself  te begin twyfel. Juis om hierdie rede is dit voordelig om ’n professionele persoon te raadpleeg. Lees wyd op oor die werklike lewe in die land waarheen jy beplan om te emigreer. Dit sal verseker dat jou besluit met jou dryfvere en prioriteite belyn is.

Introspeksie sal help dat jy geanker bly wanneer die sielkundige uitdagings wat met emigrasie gepaard gaan op jou pad kom. Wees nugter en realisties oor jou verwagtinge en drome. Deur jouself te ken, kan jy die emosionele bagasie bietjie ligter maak en beter voorbereid wees vir enige onsekerhede wat vir jou mag voorlê.

 Dit is inderdaad nie ’n besluit wat ligtelik geneem moet word nie.


1.http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0037-80542020000300007

“A license to leave South Africa”: a qualitative study of South African parents’ narratives of their children’s reasons for emigration

Sulette FerreiraI; Charlene CarbonattoII

2.Boneva BS & Frieze IH 2001. Toward a concept of a migrant personality [aanlyn]. Journal of Social Issues, 57, 3: 477–491. Beskikbaar by: https://spssi.onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1111/0022-4537.00224 [Geraadpleeg Desember 2022]

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest