Die grense is skielik oop en ons vat ons kans. Ons moes al ses maande gelede in Pole aangekom het, toe tref daai virus ons. Almal hol gou vir oulaas toilet toe. Ons speel Tetris om alles in die kar te kry. Alles pas! O, ja, die hond moet nog ’n draai loop. Uiteindelik almal in die kar.
Rye en rye chaos, want almal moet weer onthou hoe lughawens werk. Ons kry instruksies oor waar om Jabu, ons hond in te gee. My hart sink. Hoe moet hy dit verstaan? Is die hok groot genoeg? Gaan hy veilig wees met turbulensie? Hoe gemaak as daar vertragings is en hy moet piepie? Piepie! Hy moet nog sy besigheid doen! Manlief vat hom uit, hard op soek na ‘n stukkie gras wat nêrens te vinde is nie.
By die afgeepunt sukkel ons om Jabu in die hok te kry. Waar is die droëwors? My dogtertjie klim selfs in die hok en probeer hom paai. Hy wil niks weet nie. My dogtertjie wil nie uit die hok nie. My geduld is op. Senuwees gaar. Met ’n suigstokkie lok ons haar daar uit en met ’n stukkie vis lok ons Jabu in die hok in. Trane lê vlak.
Met elke hop en stamp tydens die vlug, dink ek aan Jabu en al sy dokumentasie, wat as iets skort? Paniekerig vroetel ek deur papierwerk vir gemoedsrus.
Ons stryk neer. Ons is hier! Hoe ons van die vliegtuig af gekom het tot by die bagasieband is ’n totale waas. My oë soek-soek ’n inligtingtoonbank. Dis ’n spookdorp, daar is skaars genoeg ligte aan. Ek verstaan niks wat ek lees nie. Pluk my foon uit vir Google Translate, maar ek moet eers op die wi-fi kom. Verdomp, dis ook in Pools! Ah, ’n Engelse vlaggie. Ek sien ’n vrou met ’n uniform, sy lyk belangrik!
By doeane is dit tyd vir papierwerk. En o, jitte, die Pole hou van papierwerk. Omtrent so baie soos die vismotte in jou ouma se gangkas. Ek pluk sy dokumente uit en prop dit in ’n uniform se hande. Sy praat Engels! Sy is dierbaar. Sy papiere is in orde. Sy moet nou net nog sy temperatuur meet en kyk of daar iets ooglopend skort met hom. My hart vergeet om te klop; hy sal kwarantyn nie oorleef nie – óns het dit amper nie oorleef nie! Ek huiwer om Jabu uit te laat, want ons gaan hom met al die biltong in die wêreld nie weer daar in kry nie.
Ons maak die deurtjie oop, en my liewe, lawwe lummel breek daar los met lekke van kop tot tone. Die vrou gee hom die groenlig. Ek wil haar omhels! Sy deins terug. Ek tree terug, bedank haar en stap vinnig verder.
My blaas is vol en haal dit uit op my bene. Hulle wil nie meer lekker loop nie. Maar hy sal homself nog net vyf minute moet inhou, want Jabu kort sy eerste graspolletjie in Pole.
LEES OOK: Taalblapse in die buiteland