Leesvordering:

“Ek verlang na jou” – Die tydlose lied van verlange

Aug 19, 2021

Titel: “Ek verlang na jou”
Woorde: Jan de Wet en F.C. Hamman
Musiek: Jan de Wet en F.C. Hamman
Opgeneem deur: Sonja Herholdt op die enkelsnitplaat (“seven single”) saam met “Waar gaan jy heen?” in 1975. In 1976 verskyn dit op die vollengte-album Sonja.

 Dit is reeds meer as 45 jaar sedert die liedjie “Ek verlang na jou” die eerste keer vir die rolprent Sarah deur die nou legendariese Sonja Herholdt opgeneem is en steeds maak dit ongekende emosies in mense wakker.

Volgens Herholdt het dié liedjie ’n onverwagte begin gehad: ’n Liefdesbrief was die eerste stap in die lied se pad na roem. Herholdt, wat in 1952 in Nigel gebore is, het in 1974, terwyl sy nog ’n student aan die Goudstad Onderwyskollege was, eintlik toevallig van die liedjie te hore gekom. Sy en ’n groep was in Aucklandpark om vir ’n dominee te gaan sing. In ’n stadium begin die groep spontaan ’n lied sing wat Herholdt nog nooit vantevore gehoor het nie. Die woorde en wysie het egter vasgesteek. Later skryf sy in ’n brief dié woorde aan haar kêrel (en latere man) F.C. Hamman wat toe as ’n kameraman aan die Afrikaanse rolprent Sarah gewerk het. Sy het beloof om dit vir hom te sing wanneer hy terugkom.

Hamman was dadelik beïndruk en het voorgestel dat dié liedjie (waarvan die skrywer toe nog onbekend was) as temaliedjie in Sarah gebruik word. Hy het aanbeveel dat die koorgedeelte aangepas word om beter by die rolprent in te pas. Hy het die koor herskryf en die bekende “Waai wind, bring hom terug na my” was die resultaat. Herholdt is gevra om die temalied te sing. Dit is opgeneem in ’n klein ateljee wat destyds met eierhouertjies klankdig gemaak is, lag Herholdt.

Sarah het ’n beperkte uitreiking gehad en hoewel daar gereken word dat dit een van die beste Afrikaanse rolprente uit dié era was, het dit waarskynlik nie ’n noemenswaardige rol gespeel in die uiteindelike sukses van “Ek verlang na jou” nie. Die rolprent, onder regie van Gordon Vorster wat ook die hoofrol teenoor Trix Pienaar vertolk het, vertel die verhaal van Karel, ’n moordenaar, wat Noord-Kaap toe vlug en tussen die duine op die plaas van ’n weduwee, Sarah, beland. ’n Hegte band ontstaan tussen die twee, maar later vind Sarah van Karel se duistere verlede uit.

Volgens Herholdt was dit Hennie Smit, die bekende akteur en radiopersoonlikheid wat in daardie stadium by Springbok Radio en die SAUK betrokke was, wat deur sy “gesmous” met “Ek verlang na jou” luisteraars van dié nuwe liedjie en stem in Afrikaanse musiek bewus gemaak het. Toe die liedjie vir ’n tweede keer opgeneem is, moes sy vir die skool waar sy onderwyser was, ’n witleuen vertel oor haar doen en late. Sy het aangevoer dat sy die een betrokke dag siek was, maar eintlik is “Ek verlang na jou” daardie dag deur Brigadiers/EMI opgeneem.

Herholdt meen dié liedjie het in die 1970’s die verlange van soveel Suid-Afrikaners verwoord wat óf self op die grens was óf iemand geken het wat in dié oorlog geveg het. Sy reken dat dit mense geraak het juis omdat dit ’n liedjie met betekenis is. Die liedjie bly gewild en maak steeds emosie by mense wakker omdat daar vandag weer soveel families is wat verlang na mense wat deesdae in die buiteland woon.

Eers met die opname van “Ek verlang na jou” op Herholdt se eerste vollengte-album is daar vasgestel dat die bekende gospelsanger, Jan de Wet, die oorspronklike skrywer van die lied is.

Lied van verlange stap ’n ver pad

Die sanger en liedjieskrywer Jan de Wet is vandag veral bekend as gospelsanger wat steeds aktief besig is met, wat hy noem, “musiekbediening”. Hy kan ook as die baanbreker van Afrikaanse geestelike musiek beskou word.

Musiek was nog altyd ’n groot deel van De Wet se lewe. As kind in ’n predikanthuis, waar beide ouers hul liefde vir sang uitgeleef het, was De Wet as’t ware in die wieg gelê vir musiekmaak. In matriek het hy reeds saam met sy hoërskoolorkes, Die Elektra Band, sy eerste album opgeneem. Louis Drummond van Rensburg (broer en swaer van Johan van Rensburg en Rina Hugo) was leier van dié orkes wat “lekker luistermusiek” gespeel het. In De Wet se eerste jaar by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) het hy ’n oudisie by die Afrikaanse platemaatskappy Brigadiers gedoen en ’n platekontrak het gevolg.

Sy loopbaan het as deel van die sangpaar Jan en Marti begin en verskeie albums is uitgereik. Dit was veral hul tweede en derde album (Dis waar en Jongeling) wat die Afrikaanse publiek se aandag getrek het. Dis waar word beskou as die eerste Afrikaanse geestelike album en beide albums – uitgereik in 1972 en 1975 – was uiters gewild onder jong mense.

Terwyl De Wet nog in Suid-Afrika sy studie voortgesit het, het sy verloofde, sy latere vrou Jeanette, reeds in Duitswes (die huidige Namibië) begin skoolhou. Dit was juis in hierdie tyd (1972) wat hy die liedjie “Ek verlang na jou” geskryf het om sy verlange na Jeanette te verwoord. Intussen het hy ook die liedjie aan Brigadiers voorgelê. Daar is besluit om dié liedjie op ’n album van die sangpaar Boet en Sus (Fransie en Anita Briel, kinders van die bekende Frans en Sannie Briel) in te sluit. Die album is in 1973 uitgereik, maar dit het nie ’n goeie ontvangs gekry nie. Daarom het De Wet gereken dat “Ek verlang na jou” ’n stille dood gesterf het.

Volgens De Wet was hy baie gefrustreerd omdat hy geglo het dat daar “soveel potensiaal” in die liedjie was. In antwoord op sy frustrasie skryf hy as’t ware ’n “kopie” van “Ek verlang na jou” en só is die liedjie “Kaalvoet in die reën” gebore. “Kaalvoet” was ’n treffer vir die sangeres Carike Keuzenkamp. (Met die skryf van dié liedjie het De Wet by Jeanette in Duitswes aangesluit en daarom vertel dit, as die opvolg van “Ek verlang na jou”, van ’n paartjie wat weer by mekaar is.)

Min wetende het “Ek verlang na jou” egter intussen onder die studente van RAU en die Goudstad Onderwyskollege as ’n serenadelied posgevat, en dit is hier waar Herholdt ook die eerste keer van die liedjie te hore gekom het.

Die artikel spruit uit persoonlike onderhoude wat op 3 November 2014 met Sonja Herholdt en op 18 November 2014 met Jan de Wet gevoer is.

LEES OOK: Vrouemaand: Die ánder vroueoptog na die Uniegebou

 

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze is die publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest