Leesvordering:

Internasionale Moedertaaldag 2023

Feb 20, 2023

Deur Alana Bailey

Jaarliks word Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier. Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het dié datum gekies ter herdenking aan 21 Februarie 1952, toe Bengaalse studente in opstand gekom het omdat Pakistan wetgewing in plek gestel het om hulle te dwing om slegs in Oerdoe te kan studeer. Vyf studente het gesterf en verskeie is gewond, maar vandag kan studente in Bangladesj in Bengaals studeer.

Vreemd genoeg is die verbintenis jeens moedertaal in Suid-Afrika veel swakker. Een van die redes hiervoor is (en ek is nie sarkasties as ek dit sê nie) dat Afrikaanse mense eenvoudig te ordentlik is. As tien Afrikaanssprekendes sit en gesels, of selfs in ’n lesingsaal sit, en een Engelssprekende stap in, is die groot groep dadelik bereid om na Engels oor te slaan. Daarenteen het ek al plaaslik by gesprekke in Zulu aangesluit waar ek eenvoudig geïgnoreer is, en by Engelse gesprekke waar die houding was dat “almal mos Engels kan verstaan”, wat glad nie altyd waar is nie.

Toe AfriForum met die inisiatief begin het om ’n databasis van Afrikaanse besighede te skep – dit wat vandag as die AfriForum Sakenetwerk bekendstaan – het ons die publiek herinner aan die feit dat sowat ’n derde van die handelsmark in die land Afrikaans is. Let wel Afrikaans beteken mense van alle rasse. Tog hou vele besighede by ’n beleid van slegs Engels en adverteer ook net in Engels.

’n Prettige uitsondering is Checkers wat selfs rym in Afrikaans vir hulle Sixty60-diens. Nog meer verrassend is die lugredery Emirates wat deesdae gereeld Afrikaanse radio-advertensies laat hoor. Terwyl plaaslike besighede bibberend alle Christelike en Afrikaanse verwysings vermy “omdat dit kan aanstoot gee”, het Emirates geen probleem om produkte in netjiese Afrikaans aan te bied en aan boord die opsie te gee dat passasiers die Koran kan lees of na voorlesings daaruit kan luister nie. Hopelik leer ons iets daaruit?

Deesdae val dit my dikwels op wanneer ek na media-onderhoude luister of kyk, hoe mense in Suid-Afrika hulle taal meng, maar Afrikaanssprekendes in die buiteland moeite doen om tydens onderhoude met Afrikaanse nuusmedia suiwer Afrikaans te praat.

Professionaliteit sluit in dat ’n mens sover as moontlik die gebruikstaal van die instelling met wie jy kommunikeer moet gebruik, die taal suiwer inspan en indien die instelling jou eie taal insluit, dan die opsie kies om dit te gebruik.

Net voor Kersfees skryf ’n lid aan ons oor ’n restaurant in Hartenbos. Kan daar ’n plek op aarde wees wat meer Afrikaans as Hartenbos is, vra ek uit eie ondervinding na ’n onlangse lang verblyf daar. Die restaurant se naam is Engels en toe die lid ’n Afrikaanse spyskaart vra, is hy meegedeel dat slegs Engelse spyskaarte beskikbaar is. Hoe dom kan so ’n besigheid wees – as ’n internasionale redery soos Emirates selfs Afrikaans ondersteun, waarom nie ’n klein restaurant in die land nie? Dieselfde beginsel geld natuurlik ook vir die etikette van produkte soos wyn en speserye.

Vir die kliënt, klant of koper bied ’n besigheid met ’n Afrikaanse naam, Afrikaanse spyskaart of etikettering in dié taal iets uniek. Om die rede lys AfriForum Wêreldwyd ook graag besighede in die buiteland wat dit kan aanbied. Dit hoef geen mense uit te sluit nie. Rekenaar-vertaalprogramme help blitsig om te vertaal as iemand nie seker is wat ’n dis of produk is nie, ’n hedendaagse voordeel wat ’n paar dekades gelede ondenkbaar was.

As ons meer inheemse tale soos Afrikaans op etikette, in besigheidsname en advertensies gebruik, gaan dit bydra tot buitelanders se eiesoortige belewenis van ons land en sy ryk kulturele skatte, insluitend ons tale.

Oor Internasionale Moedertaaldag sê Unesco dat dit almal nooi om die dag in soveel tale as moontlik te vier as ’n herinnering dat taalverskeidenheid en veeltaligheid noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling is. “Tale is die kragtigste instrumente om ons tasbare en ontasbare erfenis te bewaar en te ontwikkel. Alle pogings om die verspreiding van moedertale te bevorder sal nie net dien om linguistiese diversiteit en veeltalige onderwys aan te moedig nie, maar ook om ’n groter bewustheid van taal- en kulturele tradisies regoor die wêreld te ontwikkel, om … begrip, verdraagsaamheid en gesprek aan te moedig,” word deur hulle verklaar.

Ons pleidooi is dat dié ingesteldheid nie net op 21 Februarie moet geld nie, maar dwarsdeur die jaar, en dat ons waar moontlik ook buite die landsgrense ons geliefde moedertaal, Afrikaans, sonder huiwering moet gebruik.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest