Leesvordering:

Kersfeesviering in Duitsland

Des 13, 2023

Deur Jolene Harley

Desember is ’n vreugdevolle tyd waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie terwyl die kleinspan Kerslysies opstel, maar tog hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld die viering op hulle eie voortsit.

Ons het die week met Jolene Harley gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Duitsland gaan vier.

Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies?

Adventkalenders, Adventkranse op jou voordeur, Kersbome en natuurlik Kersfeesmarkte – van die oudstes en bestes in die wêreld. Die groter markte is imposant, maar dié in die kleiner dorpies is ’n besoek werd. Dit is meer tradisioneel en die inwoners doen baie moeite om jou tuis te laat voel en hul tradisies te deel.

Geniet jy steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer jy nuwe disse?

Dit is gans te koud vir ’n tradisionele Suid-Afrikaanse Kersfees van slaaie en koue vleis waar jy die volgende dag met als toebroodjies kan maak.

Hier is warm stomende geregte aan die orde van dag.

  • Boerekoolen-worsbredie: Grünkohl, Wurst, Eintopf. Verkieslik met Bratwurst (braaiworsies) wat eie is aan jou area. In ons geval Nürnberger Bratwurst, wat ek graag op die proef wil stel. Ek heg ’n resep aan – ek sal julle laat weet of dit die moeite werd was.
  • Glühwein: warm wyn met speserye. (Volgens my is dit ’n skande om enigiets by ’n goeie rooiwyn te voeg, maar as jy Duitse rooiwyn proe dan is die byvoeg van speserye ’n verbetering. Suid-Afrikaanse wyn bly eenvoudig in my opinie die beste.) Op die markte koop jy dit in ’n bekertjie en jy betaal ’n deposito (pfant). Jy kan die bekertjies teruggee vir die geld. Die beker is versier met ’n prentjie van die dorp of mark. Baie mense versamel hierdie bekers.
  • Duitse vrugtekoek: Stollen
  • Gemmerkoek: Lébkuchen, jy plaas hulle onder jou kopkussing en dan sal dit waaroor jy droom waar word. (Ek verkies my ouma se gemmerkoekies. Hierdie benodig ’n hamer.)

Ek hou van Jamie se vinnige, praktiese resepte.

Boerekool-en-worsbredie

Bestanddele (A la Jamie Oliver)

  • olyfolie
  • 1 ui
  • 2 knoffelhuisies
  • 1 suurlemoen
  • 1 teelepel vinkelsaad
  • ½ teelepel fyngemaakte brandrissies
  • 1 vars lourierblaar
  • 6 worsies
  • 1½ eetlepels gewone meel
  • 1 x 400 g blikkie gekapte tamaties
  • 500 ml organiese groenteaftreksel
  • 1 groot handvol boerekool

Metode

  1. Skil en sny die ui in skywe, gooi dit in ’n pan met 1 eetlepel olie. Braai vir 5 tot 7 minute, of tot sag.
  2. Skil die knoffel, sny dit fyn en voeg dit by die uie. Skil drie repies suurlemoenskil van die suurlemoen. Voeg in die pan saam met die speserye en lourierblaar. Kook vir 1 tot 2 minute.
  3. Sny die worsies en meng dit met die meel, voeg dit in die pan en braai totdat dit eweredig bruin is.
  4. Gooi die tamaties en aftreksel by en laat dit vir so 20 minute prut. Sny die boerekool by en kook vir 5 minute voor opdiening.

Is daar die mooiste Kersliggies in jou buurt of ’n nuwe Kersfeesgier wat kop uitsteek in Duitsland?

Stadt Erlangen het elke jaar die mooiste liggies. Hierdie jaar fokus die stad en deelnemende besighede op volhoubaarheid en groen energie. Al die liggies is gekoppel aan groen energie. Hierdie tyd van die jaar begin dit 16:30 al donker word en dan word die Kersliggies aangeskakel tot 21:30.

Hierdie jaar het ons ook die eerste keer engelvlerkies (’n nuwe gier) waar jy kan foto’s neem.

Die Duitsers is baie lief vir sport op die ys, soveel so dat hul elke jaar ’n buiteskaatsbaan bou net vir Kersfees. Daar is yshokkie, Eisstockschießen (’n Beierse vorm van “curling”), “ringette”, “broomball”, “curling”, “rinkball” en “bandy”. Die oppervlak van die ysskaatsbaan is ’n spesiale plastiek wat soos ys reageer as jy daarop skaats, maar nie energie nodig het om “gevries” te bly nie. Gedurende die dag kan jy skaatse huur vir ysskaats. Maak nie saak hoe guur die weer nie, die mense daag op.

Hou julle by die ou tradisionele vieringe of vier julle Kersfees op nuwe maniere?

Ons as gesin se enigste werklike Kerstradisie is om Kersoggend ’n Kersdiens by te woon, maak nie saak waar ons onsself bevind nie. Verlede jaar het ons nog ons voete gevind en het geen klere gehad wat teen hierdie koue beskerming bied nie.

Ons was ook bitter min Duits magtig. Hierdie jaar begin Duits meer na Afrikaans klink as Grieks. Ons is ook hierdie jaar bewapen met beter klere en gaan Kersoggend by ons naaste Lutherse kerk in Büchenbach ’n diens in Duits bywoon. Die kerk is ook geaffilieer met die Gimnasium (hoërskool) wat ons dogter bywoon en hulle het pragtige skooldienste daar. Hier stap jy in die sneeu kerk toe. Versigtig, want sneeu is eintlik net mooi op Kerskaartjies. Ons weet ook nou dit is veilig om jou baadjie en sambreel by die deur te los.

Hoe behou julle kontak met familie wat ver is?

Ons Zoom so lank as wat ons kan of tot almal in Suid-Afrika afgesny word deur beurtkrag. Ons het ook Kersgeskenkies vir die nefie en niggie gestuur via ’n kollega wat hier was vir ’n kursus. Dit is ’n bonus as mense namens jou Kersvader kan speel.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest