Leesvordering:

Lewenskoste in die buiteland

Apr 20, 2022

Al ooit gewonder wat die werklike lewenskoste is in ander lande en hoe dit met Suid-Afrika vergelyk?

Behalwe vir lewenskoste moet die koopkrag, gemiddelde salarisse en die lewensgehalte ook in ag geneem word.

Pretoria vaar goed as dit by lewensgehalte kom, en word baie naby aan Londen en New York gereken. Kaapstad en Durban doen nog beter en die  lewensgehalte in hierdie stede word naby dié van Los Angeles en Brussels gereken. Al drie dié Suid-Afrikaanse stede word egter ook onder die topsesstede in die wêreld gelys wat die misdaad-indeks betref. Maar hoe vaar ander lande se lewenskoste teenoor Suid-Afrika?

VSA

Verbruikerspryse in die Verenigde State van Amerika (VSA) is 58% hoër as in Suid-Afrika, huurkostes is 169% hoër, restaurantpryse 61% en inkopies is 92% hoër. ’n Mens moet natuurlik die koopkrag ook in ag neem, aangesien die VSA se koopkrag 28,25% hoër is as in Suid-Afrika. As jy na spesifieke stede kyk, benodig jy omtrent R127 457 per maand in New York om dieselfde lewenstandaard vir R39 000 per maand in Pretoria te ervaar. Oor die algemeen sal ’n ete by ’n restaurant vir twee mense, wat in Suid-Afrika R600 kos, jou R881 in die VSA kos. ’n Cappuccino sal jou byna R65 kos.

Vrugte soos appels en lemoene sal jou omtrent dubbel kos as wat dit in Suid-Afrika is, terwyl items soos melk, Nike-tekkies en jeans jou tussen 15%-20% goedkoper sal uitwerk.

Om ’n eenslaapkamerwoonstel te huur kan jou tussen R17 854 en R22 534 kos, terwyl ’n drieslaapkamereenheid in die middestad tot R39 904 kan beloop. Rentekoerse is baie gunstig en is rondom die 3%-merk, teenoor Suid-Afrika wat rondom 8% is. Die gemiddelde salaris in Amerika is R52 912 per maand, wat 140% meer is as in Suid-Afrika.

  • Skoolopleiding: R230 550 per jaar per kind
  • Behuising (drieslaapkamerwoning buite die middestad): R31 442,52 per maand
  • Brandstof: R14,16 per liter

Nieu-Seeland

Die lewenskoste in Nieu-Seeland is hoër as in Amerika, Duitsland, Frankryk of die Verenigde Koninkryk. Om in Auckland te woon is dubbel so duur as in Kaapstad. As jy in beide gevalle ’n woonstel huur en jou uitgawes R43 000 per maand is in Kaapstad, gaan dit jou R83 066 ’n maand kos om in Auckland, Nieu-Seeland te woon. Wat verstommend is, is dat inkopies in Auckland 121% duurder is as in Kaapstad maar jou koopkrag net 9,24% sterker is. Dit is heelwat goedkoper om in Christchurch te woon – as jy van Johannesburg af daarheen emigreer is verbruikersgoedere sowat 68% duurder en inkopies net 104%, maar jy verdien ook heelwat minder en die koopkrag is slegs 3,2% sterker as iemand wat in Johannesburg woon.

Oor die algemeen, as jy Suid-Afrika met Nieu-Seeland vergelyk is verbruikersitems 75,91% duurder, huur 91% en restaurante sowat 76% duurder. ’n McDonalds-ete wat R65 in Suid-Afrika kos, kos R131,75 in Nieu-Seeland. ’n Dosyn eiers sal jou meer as R65 uit die sak jaag en ’n pakkie Marlboro-sigarette R357,24. ’n Gemiddelde bottel wyn, wat in Suid-Afrika R80 kos, is daar R152. Kleuterskole is veral duur en kan oor R11 000 per kind kos. Die groot voordeel van Nieu-Seeland is dat hulle gemiddelde salarisse redelik hoog is – dit word op sowat R41 463 gereken en hulle rentekoerse op huislenings is die helfte van Suid-Afrika s’n.

  • Skoolopleiding: R170 876,28 per jaar per kind
  • Behuising (drieslaapkamerwoning buite die middestad): R22 311,9 per maand
  • Brandstof: R28,53 per liter

Australië

Verbruikersgoedere is sowat 74% duurder in Perth as in Pretoria (landswye gemiddeld is 80% duurder), jou inkopies sal 113,32% duurder wees, jou huur 127% en restaurante 84,53%. ’n Mcdonalds-ete wat in Pretoria R70 kos, kos in Perth R137,39. Een kilogram beesvleis wat in Pretoria gemiddeld R116,33 kos, sal in Perth R193,72 wees. Om ’n plaaslike bier te drink in Perth kan jou amper R110 uit die sak jaag en ’n Coke kos sowat R40. Internet is effens goedkoper in Perth. ’n Toyota Corolla 1.6l sal sowat R20 000 goedkoper wees.

Oor die algemeen, as Australië met Suid-Afrika vergelyk word is die koopkrag in Australië meer as 45% beter, wat ’n groot verskil maak.

Rentekoerse is ook selfs beter as in Nieu-Seeland (sowat 3%). Wat interessant is, is dat die gemiddelde salaris in Australië byna drie keer soveel (R62 118) is as in Suid-Afrika. As dit in berekening gebring word, kom jy steeds verder met jou salaris in Australië as in Suid-Afrika, selfs al is die lewenskostes 80% duurder.

  • Skoolopleiding: R189 953,11 per jaar per kind
  • Behuising (drieslaapkamerwoning buite die middestad): R24 526,04 per maand
  • Brandstof: R21,83 per liter

Kanada

Kanada het ’n baie lae rentekoers van sowat 2,59% (teenoor Suid-Afrika se 8,23%). Die gemiddelde salaris is effens laer as in Australië, maar ook heelwat hoër as in Nieu-Seeland. Die grootste uitgawe in Kanada is verblyf, waar die prys van ’n woonstel per vierkante meter tussen 574% en 602% hoër is as in Suid-Afrika. Om te huur is ’n beter opsie, alhoewel ’n drieslaapkamereenheid tussen R25 249,59 en R29 847 kan kos. Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika en staan tans op R17,25 ’n liter.

’n Kilogram hoenderfilette, wat in Suid-Afrika amper R74 kos, is in Kanada R160. Piesangs is effens goedkoper per kilogram terwyl tamaties meer as dubbel so duur kan wees teen R53,14 ’n kilogram. ’n Ete by ’n goedkoop restaurant sal jou sowat R234 kos terwyl ’n driegangmaaltyd vir twee mense R936,17 sal wees. ’n Bier (500ml) by ’n restaurant is omtrent R70 en ’n bottel water R22. Internet is effens duurder as in Suid-Afrika terwyl kleuterskole amper R13 000 per maand kan wees per kind. Koopkrag in Kanada is meer as 44% meer as in Suid-Afrika terwyl algehele lewenskoste meer as 75% duurder is.

  • Skoolopleiding: R206 298,26 per jaar per kind
  • Behuising (drieslaapkamerwoning buite die middestad): R25 249,59 per maand
  • Brandstof: R17,30 per liter

LEES OOK: Lewenskoste in die buiteland – top-20-plekke om te bly

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest