Leesvordering:

Lewenskostes in die buiteland: Peperduur hiér – maar is dit werklik beter dáár?

Nov 11, 2022

Lewenskostes in Suid-Afrika bly styg, maar is die gras groener in die buiteland? Ons stel ondersoek in om te bepaal of lewe in die Verenigde Koninkryk (VK), die Verenigde State van Amerika (VSA), Duitsland en Nederland goedkoper is (of nie) as hier in Suid-Afrika.

Mens moet ook onthou dat, benewens die lewenskoste self, mens ook koopkrag, gemiddelde salarisse en die lewensgehalte natuurlik ook in berekening bring.

Met stygende brandstofpryse en bykans onbekostigbare kospryse smag ’n magdom Suid-Afrikaners na die groener weivelde van die buiteland. Is dit egter die moeite werd om jou heil elders te loop soek? Kom ons vergelyk lewenskostes in Suid-Afrika met ooreenstemmende kostes in dié vier lande om te bepaal of die skuif werklik vanuit hierdie oogpunt sin maak.

Vir ’n gesin van vier mense is die gemiddelde maandelikse lewenskoste in Suid-Afrika ongeveer R31 934 (sonder huuruitgawes). ’n Enkelpersoon sal waarskynlik ongeveer R9 183 betaal (ook met huuruitgawes uitgesluit).[1] Oor die algemeen is lewenskostes meer as 50% laer in Suid-Afrika as in die VSA; huuruitgawes is ongeveer 70% laer.[2] Ons delf ’n bietjie dieper om agter die kap van die byl te kom.

Kos jou kos jou ’n arm en ’n been?

Deesdae kan ’n uitstappie winkel toe ’n mens maklik ’n arm en ’n been kos, maar is dit dan orals so? Terwyl pryse in Suid-Afrika vir sy burgers te vinnig styg, wonder mens of mense in die buiteland ook so sukkel. Hieronder word die verskille in kospryse uiteengesit om aan te dui hoe Suid-Afrika se kospryse met dié van ander lande vergelyk.[3]

Tabel 1: Vergelyking tussen kospryse in Suid-Afrika met ander lande

Gemiddelde prys in ZAR
Suid-Afrika VK VSA Duitsland Nederland
1 ℓ melk 16,28 19,35 13,37 15,72 17,31
Witbrood 14,28 20,49 42,72 24,18 33,99
12 eiers 30,06 40,59 35,51 41,83 32,64
1 kg appels 23,49 38,43 70,17 41,78 42,74
1 kg aartappels 18,59 22,56 39,75 23,43 19,59
1 kg hoenderfilette 72,76 113,03 143,50 121,95 135,86
1 kg biefstuk 111,92 170,93 199,12 184,48 410,49
1 kg uie 17,53 20,35 39,46 22,56 17,35
Blaarslaai 16,15 14,78 25,58 17,82 12,88
Totale koste 321,06 460,51 609,18 493,75 722,85

In Suid-Afrika is ons inkopies miskien duur, maar tog goedkoper as daar buite.

Wat kos gesondheidsorg in die buiteland?

In Suid-Afrika word basiese mediese onkostes in die openbare gesondheidsbedryf bereken op grond van die pasiënt se inkomste en aantal afhanklikes. Die nadeel van die openbare gesondheidsorgstelsel is egter dat dit dikwels ontoereikend is om die groot massas mense te behandel, wat daartoe lei dat mense in lang rye by die staatshospitale moet wag. Daarom verkies Suid-Afrikaners wat dit kan bekostig om van privaat skemas gebruik te maak. ’n Basiese hospitaalsorgplan vir drie mense begin by ongeveer R5 700.[4], [5]

In die VK sorg die nasionale gesondheidsdiens dat alle burgers toegang het tot gratis gesondheidsorg, wat deur belasting befonds word. Ongelukkig is die VK se gesondheidsdienste ook alombekend vir lang wagtydperke, wat landsburgers met ernstige gesondheidsprobleme kan benadeel.[6], [7] In die VSA is daar geen universele gesondheidsorg nie, wat beteken dat die regering slegs ’n gedeelte van burgers se mediese onkostes dek; vir die res maak mense grootliks op privaat mediese fondse staat.[8]

Hoewel alle Duitsers toegang het tot basiese gesondheidsorg, is dit ’n vereiste dat hulle ook aan ’n mediese fonds moet behoort.[9] Nederland is soortgelyk aan Duitsland in die sin dat mediese fondse ook van elke Nederlandse burger vereis word, wat tussen €100 en  €120 per persoon per maand kos.[10]

Die kinders moet skool toe: Hoe gemaak?

Dit is makliker om die boompie met gehalteonderrig te buig solank hy jonk is. Hoewel Suid-Afrika oor ’n groot aantal gehalte- openbare skole beskik, is dit beter om, vir doeleindes van vergelyking met die buiteland, te kyk hoe privaat skoolonderrig in Suid-Afrika vergelyk met skole in die buiteland.[11]

Tabel 2: Privaatskoolonderrigkostes in Suid-Afrika en ander lande

Gemiddelde koste in ZAR
Suid-Afrika VK VSA Duitsland Nederland
Kleuterskoolkostes
(per kind per maand)
3 269,93 19 773,40 14 480,75 5 716,31 25 830,33
Laerskoolkostes
(per kind per jaar)
74 360,59 273 644,47 240 643,20 212 380,09 124 579,17

Hieruit kan ons aflei dat onderrig in Suid-Afrika baie meer bekostigbaar is as in die buiteland. Nou maar toe — dis alles goed en wel dat die kinders onderrig word, maar wat dan van ’n blyplek?

Huur bly duur!

Dit is aansienlik goedkoper om in Suid-Afrika te huur as in die buiteland. Volgens Intergate Immigration is die gemiddelde huuruitgawes in die vier lande onder oorsig baie hoër as in ons eie land.[12]

Tabel 3: Verskil in gemiddelde huuruitgawes teenoor Suid-Afrika

Variansie
VK 90,45% hoër
VSA 151,73% hoër
Duitsland 65,10% hoër
Nederland 114,81% hoër

Hoewel mens dit amper nie kan glo nie, is dit waar dat huuruitgawes in Suid-Afrika baie laer is as dié in die vier ander lande. Kom ons vergelyk die huuruitgawes in die middestad met dié buite die stad.[13]

Tabel 4: Gemiddelde huuruitgawes in Suid-Afrika en ander lande

Gemiddelde koste in ZAR
Suid-Afrika VK VSA Duitsland Nederland
Eenslaapkamerwoonstel in die middestad 6 872,13 15 840,59 20 875,89 12 873,01 18 818,48
Eenslaapkamerwoonstel buite die stad 5 971,67 13 068,18 16 952,54 9 657,63 14 785,97

Buiten ’n dak oor jou kop moet mens brandstofuitgawes ook in berekening bring.

Petrolpryse in Suid-Afrika en die buiteland

Mens kry ’n gewone hoofpyn en ’n hoofpyn wat deur ’n styging in die petrolprys veroorsaak word. Alle Suid-Afrikaners ken dié pyn! Glo dit of nie, maar tans is die petrolprys ter wêreld só hoog dat dit nie net ons is wat sukkel nie. Loer gerus hier onder na die gemiddelde petrolprys per liter per land vir 22 Oktober 2022:[14]

Tabel 5: Petrolprys in Suid-Afrika en ander lande

Gemiddelde petrolprys per liter in ZAR
Suid-Afrika 22,49
VK 34,08
VSA 20,01
Duitsland 35,41
Nederland 35,95

Die stand van sake in Suid-Afrika lyk dan nou só: Die lewe is dalk duur, maar tog relatief goedkoper as in die buiteland.


[1]      Numbeo. 2022. Cost of living in South Africa. Beskikbaar by https://www.numbeo.com/cost-of-living/country_result.jsp?country=South+Africa. Geraadpleeg op 8 November 2022.

[2]      Numbeo, 2022. Cost of living comparison between United States and South Africa. Beskikbaar by https://www.numbeo.com/cost-of-living/compare_countries_result.jsp?country1=United+States&country2=South+Africa. Geraadpleeg op 8 November 2022.

[3]     Intergate immigration, 2022. The cost of living in South Africa: How does it compare? (2022). Beskikbaar by https://www.intergate-immigration.com/blog/cost-of-living-in-south-africa-ultimate-guide/. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022

[4]     Buswell, G. 2022. The healthcare system in South Africa. Expatica, 3 Oktober. Beskikbaar by https://www.expatica.com/za/healthcare/healthcare-basics/healthcare-in-south-africa-105896/#Overview. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[5]     Allianz Care, Healthcare in South Africa. Beskikbaar by https://www.allianzcare.com/en/support/health-and-wellness/national-healthcare-systems/healthcare-in-south-africa.html. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[6]     Thorlby, R. 2020. International Health Care System Profiles England. The Commonwealth Fund, 5 Junie. Beskikbaar by https://www.commonwealthfund.org/international-health-policy-center/countries/england. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[7]     Suphanida, 2020. An overview of the United Kingdom healthcare system. Pacific Prime UK, 11 Junie. Beskikbaar by https://www.pacificprime.co.uk/blog/an-overview-of-the-united-kingdom-healthcaresystem/#:~:text=The%20NHS%20is%20notorious%20for,A%26E%20are%20also%20routinely%20missed. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[8]     Tikkanen, R., Osborn, R., Mossialos, E., Djordjevic, A., & Wharton, G.A. 2020. International health care system profile: United State. Beskikbaar by https://www.commonwealthfund.org/international-health-policy-center/countries/united-states. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[9]     InterNations, Health insurance and healthcare in Germany explained. Beskikbaar by https://www.internations.org/germany-expats/guide/healthcare. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[10]   Peratello, G. 2022. Healthcare in the Netherlands: full guide (2022). Wise, 22 Februarie. Beskikbaar by https://wise.com/us/blog/healthcare-system-in-the-netherlands. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022.

[11]   Intergate immigration, 2022. The cost of living in South Africa: How does it compare? (2022). Beskikbaar by https://www.intergate-immigration.com/blog/cost-of-living-in-south-africa-ultimate-guide/. Geraadpleeg op 27 Oktober 2022

[12]   Idem.

[13]   Idem.

[14]   Global PetrolPrices.com, 2022. Gasoline prices, litre, 24-Oct-2022. Beskikbaar by https://www.globalpetrolprices.com/gasoline_prices/. Geraadpleeg op 24 Oktober 2022.

Meer oor die outeur

AfriForum

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest