Leesvordering:

Met my honde – ’n merkwaardige leeservaring

Jun 13, 2023

Alana Bailey

Die boek, Met my honde, is ’n leeservaring wat geen hondeliefhebber mag misloop nie. Dit vertel die merkwaardige verhaal van Kobus Olivier en sy vier hondemaats, Tiekie, Jessie, Kaya en Ollie se lewe saam in Kijif wat uitloop op ’n lang en voortdurend angswekkende vlugtog na veiligheid toe Rusland Oekraïne in 2022 aanval.

Die verhaal word deur Kobus self, in samewerking met die joernalis Hilda van Dyk vertel, en is moeilik om neer te sit.

In die eerste plek is Kobus se lewensverhaal baie interessant – naas honde, is sy groot liefde krieket. Hy het jare lank krieket gespeel in die Westelike Provinsie, Boland, Skotland en Holland. Verder was hy veertien jaar lank die direkteur van krieket by die Universiteit van Kaapstad, sportorganiseerder by ’n skool in Kaapstad, uitvoerende hoof van Kenia Krieket en direkteur van krieket in Dubai. Tydens sy verblyf in Dubai het Tiekie oor sy pad gekom – later sou sy die ma word van Jessie, Kaya en Ollie. Óók in die tyd het hy moeg geword vir die hitte van Dubai en ’n vakansiebestemming gesoek waar dit sneeu. So het hy die eerste keer in Kijif beland en dolverlief op die stad geraak.

Suid-Afrikaners is gewoond aan stories van mense wat verhuis om beter loopbaangeleenthede te soek, of ’n veiliger toekoms vir hulle kinders probeer vind. Dit gebeur selde dat ’n mens van iemand hoor wat verlief raak op ’n ander stad, land, kultuur of lewenswyse. Kobus se ervarings teen die tyd wat die eerste ontploffings Kijif uitmekaar begin skiet, vertel ook die ander kant van immigrante se verhaal – van hoe jy onwillig ’n slagoffer kan word van kulturele en politieke botsings waaraan jy geen deel het of wil hê nie.

Die boek lees veral lekker omdat Kobus sy verhaal bondig vertel, sonder uitgerekte jammerklagtes en melodrama. Juis dit maak dit soveel meer aangrypend. Die spanning om alleen te besluit oor wanneer jy aksie moet neem, waarheen jy volgende gaan en hoe jy in ’n onbekende land met ’n vreemde taal en taai immigrasiewette gaan oorleef, gryp ’n mens aan. Dan word Kobus se lewe ook nog meer ingewikkeld gemaak deur sy liefde vir sy vier hondjies. Sy geloof en die omgee van mense (dikwels vreemdelinge) vir mekaar onder moeilike omstandighede, gee ’n mens hoop.

Vir my as hondeliefhebber is Kobus se optrede verstaanbaar en lofwaardig. Nooit oorweeg hy ’n maklike uitweg vir homself wat ten koste van die honde sou wees nie. Jy kan nie help om te wens dat alle mense maar só sterk oor hulle troeteldiere, of selfs hulle kinders gevoel het nie …

Kobus se avonture is ook in ’n dokumentêr, War Dogs, vasgevang – dit is in Desember 2022 op M-Net uitgesaai en is steeds op Catch-Up te sien. Verskeie onderhoude met hom is ook aanlyn beskikbaar, byvoorbeeld een met die jongste nuus oor hom en die viertal, asook pragtige foto’s op Afrikaans.com.

Met My Honde is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Ek beveel dit nie net vir mense met ’n hart vir diere aan nie, maar ook vir enigeen wat al self die uitdagings van migrasie beleef het, of wat verkeerdelik dink dat landsverhuising ’n moeitelose proses of kitsoplossing vir probleme is.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest