Leesvordering:

’n Jaar in Nederland

Apr 8, 2024

Deur Anja Martin

Verbeel jou dit is middernag op ’n Saterdagaand op Amsterdam se Centraal-stasie. Die laaste trein na Apeldoorn, jou tuiste in die vreemde, het pas vertrek. Dit het meer as een keer met my gebeur en, al was die oomblik sleg, sal ek dit vir niks verruil nie. Want nooit het ek onveilig gevoel nie. 

Ek was in 2023 ’n au pair in Nederland en dit was die beste jaar van my lewe!  

Op 29 Desember 2022 het ek op Schiphol-lughawe in ’n nat, koue Amsterdam geland – doodmoeg, vreemd en onseker. Die gesin, met een negejarige seun, by wie ek sou bly, het my verwelkom met ’n bordjie met my naam op. In Apeldoorn, sowat ’n uur van Amsterdam, het hulle my met ’n groot beker warm tee probeer troos … want ek was moeg, tranerig en ver van die huis af!  

Na vyf maande in Apeldoorn het ek na ’n ander gesin geskuif – ’n jong Suid-Afrikaanse gesin met ’n tweejarige dogtertjie. Ek het my lewe weer in drie tasse gepak en op ’n Saterdagmiddag in Junie het hulle my kom haal, na die mooie universiteitstad Utrecht toe.

Die jaar in Nederland was vol opwinding, lag, huil en vriendskappe vorm wat die res van my lewe by my gaan bly. Dit was ’n jaar van avonture, krisisse, lewenslesse leer en grootword. 

My beste herinneringe fokus op belewenisse – nie altyd hoogtepunte nie, maar altyd onvergeetlike oomblikke.

Skaars ’n maand na my aankoms was ek en my vriendin op Best se stasie nadat die laaste trein vertrek het. Danksy Über, kon ons darem (teen ’n prys!) veilig tuis kom.

Ons eerste ‘buitelandse’ wegbreek was na België in Februarie. Ek sal dié besoek altyd onthou as ek Nicki Minaj se “Starships” hoor, want in ’n karaokekroeg in Antwerpen is dit wat ons gesing het!

In Maart het ek die eerste keer sneeu gesien en beleef. Dit was waarskynlik die koudste wat ek nog in my lewe gekry het, maar ek het in ’n park op die grond gaan lê en ’n sneeu-engel gemaak!

Op ’n besoek aan Amsterdam in April was ons by die Vondelpark, ’n reuse- openbare park (47 ha), en die Bloemenmarkt, die enigste drywende blommemark ter wêreld. ’n Besoek aan die Efteling-pretpark met sy fantasietema en vyf miljoen besoekers jaarliks, was ’n wonderlike ervaring.

Op 27 April word Koningsdag, die verjaardag van die Nederlandse koning, gevier. Dié dag is dit tyd vir die oranjegekte – die strate én mense is dié dag in oranje, die Nederlandse nasionale kleur, getooi. Wat ’n belewenis om deel van dié groot verjaardagpartytjie te kon wees!

’n Jaarlange besoek aan Nederland is nie afgerond sonder foto’s in ’n veld tulpe nie. In Mei het ons in die tulpvelde by Lisse gaan baljaar. Menige naweke in die loop van die jaar is afgesluit met broodjies, kouevleis en kaas terwyl ons die sonsondergang by Zandvoort bewonder.

In Junie het my ouers kom kuier. Vir my verjaarsdag was ons na A’dam Lookout in Amsterdam waar ek en my vriendin saam op die hoogste swaai in Europa, Over the Edge, geswaai het. Die swaai is op die boonste verdieping, 100 m hoog, en terwyl jy swaai, kan jy die hele Amsterdam sien.

Die volgende maand het ons weer ’n bietjie Suid-Afrika in Nederland gehad toe ons vir Spoegwolf in Amsterdam gaan kyk het.

My gunstelingmaand was Augustus, want toe was dit tyd vir ’n bietjie vakansie. Ons het in twee weke sewe lande gesien – Italië, Kroasië, Slowenië, Hongarye, Tsjeggiese Republiek, Oostenryk en Duitsland. Dit is een van die voorregte van au pair in Nederland, jy kan verken!

In September het ons Giethoorn, die Nederlandse Venesië, op bootjies verken op ’n au pair-dag van die agentskap. Later die maand was ek saam met my gasgesin per motor Frankryk toe, waar hulle ’n Wêreldbekerrugbywedstryd in Parys gaan kyk het.

Wêreldbekerkoors het voortgeduur in Oktober. In die kuierplek Coco’s Outback in Amsterdam was daar die meeste Suid-Afrikaners bymekaar wat ek in ’n lang tyd gesien het!

In November het ek en my vriendin saam Parys toe gegaan, ’n droom van ek ’n klein dogtertjie was. Om die Eiffel-toring se liggies te sien flikker en voor die Louvre se piramiede foto’s te neem, is ’n gevoel wat ek nooit sal kan beskryf nie!

Ons laaste groot uitstappie was om die Amerikaanse groep, The 502’s, in Den Haag te gaan kyk. Ek wou nie hê die aand moes eindig nie!  

Op 23 Desember het ek weer op die vliegtuig geklim, dié keer terug Suid-Afrika toe. Met opgewondenheid en hartseer in my hart was ek reg om ’n nuwe hoofstuk van my lewe te begin.

Ek mis Nederland en wens ek kon teruggaan om nog so een of twee keer koud te kry op ’n treinstasie. Ek mis die gesin by wie ek gebly het en hul dogtertjie wat so diep in my hart gekruip het.

Hoewel ek ’n nuwe waardering het vir huis en vir Suid-Afrika, was my besluit om te gaan au pair die beste wat ek vir myself kon neem.  

Wenke: 

  • Werk deur ’n agentskap, die agentskap wat ek gebruik het was The Au Pair.
  • Moenie dat vrees vir die onbekende jou terughou nie.
  • Die huis is net een oproep weg, en jy gaan gewoond raak om weg te wees. 
  • Al beleef jy moeilike dae onthou net baie het al deur dit gekom, jy gaan ook.
  • Spaar van die begin van die jaar af vir jou vakansie.
  • Sien soveel plekke as wat jy kan.
  • Geniet elke oomblik en elke ervaring – goed of sleg! 

Deel jou ervaring

Werk jy tans as ’n au pair in die buiteland? Dalk het jy ’n oorbruggingsjaar geneem en as au pair gaan werk. Deel jou ervaring met ons.  

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest