Leesvordering:

’n Ouma vra: “Onthou my”

Sep 29, 2022

Deur dr. Sulette Ferreira

Ons onthou heel dikwels nie spesifieke dae of ure nie, maar wel oomblikke. Betekenisvolle oomblikke. Soos om ʼn grootouer te word.

“Julle gaan oupa en ouma word.” – Hierdie aankondiging is só ’n besonderse, lewensveranderende gebeurtenis. Talle grootouers ervaar hierdie nuwe rol op ʼn spirituele[1] vlak, selfs as ʼn religieuse gebeurtenis. Grootouerskap bied die geleentheid om opnuut by jou kinders se lewe betrokke te raak en ʼn dieper betekenis in jou eie lewe te vind. Dit bied die geleentheid om die kleinkinders te sien ontwikkel en op ʼn liefdevolle manier ʼn impak op hulle lewens te kan hê. Hierdie emosionele betrokkenheid van die grootouer lê ʼn sterk grondslag in die kleinkind se ontwikkeling. Op hul beurt gee die kleinkinders groter betekenis aan die grootouer se lewe, wat noodsaaklik is vir gebalanseerde veroudering.

Daar is egter ook ander betekenisvolle oomblikke: “Pa, Ma, ons gaan emigreer!”

Die emigrasie van individue en gesinne is vandag baie Suid-Afrikaners se werklikheid. Jong mense soek na groener weivelde. Hierdie groot verandering eis ʼn tol op die emigrante én diegene wat in Suid-Afrika agterbly. Benewens ouderdom wat ’n rol speel in die intensiteit van die emosionele ervaring, moet die invloed van die afstand van verwydering ook in gedagte gehou word: Verhuising binne Suid-Afrika maak reeds ’n groot impak; verhuising na ’n ander kontinent kan as traumaties ervaar word.

Vir diegene wat agterbly, was daar soveel verwagtinge van ʼn gedeelde toekoms wat nou stomp beëindig is. Onuitgeklaarde verlies loop soos ʼn goue draad deur hierdie verhale.

Waar wetenskap en kuns ontmoet

As navorser het ek die voorreg om emigrante en hul geliefdes se lewensreise te deel en ’n blik in hul leefwêrelde te verkry. Maar met die kliniese rapportering van hierdie wetenskaplike navorsing is die fokus dikwels op statistiek. Wanneer die getalle op die voorgrond tree, raak die mens agter die statistiek maklik verlore. In teenstelling met hierdie kliniese aanslag kan digkuns innerlike beelde by die leser oproep.

In my navorsing oor die grootouer se belewenis van die emigrasie van hul kinders en kleinkinders was ek bevoorreg om ʼn spesiale gedig te ontdek wat hierdie bevindinge op ʼn heel ander wyse weergee. ʼn Gedig het die potensiaal om die klinies-rasionele te oortref en op ’n baie meer emosionele vlak tot ʼn mens te spreek. Met hierdie gedig word ons gedwing om verby die statistiek te kyk en te fokus op die individu en haar emosies, hoe die ervaring van emigrasie haar menswees raak. Die skanse vervaag, en skielik het ons met ʼn mens te doen. Die stem van ʼn digter, in hierdie geval ʼn ouma, word ontdek.

Dit het gevoel asof hierdie ouma haar hart uit haar lyf haal, dit op die tafel voor my neersit en my uitnooi om mooi te kyk.

Sy skryf:

Onthou my
Kinderdrukkies, skaterlaggies
Trippelvoetjies onder draairokkantjies
Dimpelarmdrukkies
Hou my vas, hou my vas

Die groot voël kom haal jou
Vat jou ver oor die see
Sy groot blink vlerke sprei
Donker skadu’s bo-oor my

Pak my in, Poppielop
Vat my saam, Lolliepop
In “onthou” trek ek saam
Soos die hasie op die maan

Jou skeefkrom reënboogprentjie
Is al wat agterbly
Verkreukel op my yskas
Hou my vas, hou my vas

Draai-draai saam met my
Vir oulaas voor jy gaan
Sing “Rol op die tolletjie”
En klap jou handjies saam

Nog ʼn soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan
Pak my in, Poppielop
Vat my saam, Lolliepop

Onthou my …
Soos die hasie op die maan

                                                  Corné Kruger

ʼn Gedig kan brûe bou

Ons word na ʼn gedig aangetrek wanneer ons aanklank vind by die digter se emosies – wanneer iets uit ons leefwêreld ons kan laat verstaan hoe die digter voel. ’n Wedersydse begrip ontstaan: Dit word een van daardie “aha!”-oomblikke wanneer jy ervaar dat die ander persoon presies verstaan wat jy probeer verduidelik.

Soms kan ’n gedig met jou hart in gesprek tree. Op só ’n manier kan ʼn gedig ’n dialoog tot gevolg hê; ’n gesprek waartydens jy ervaar dat die ander persoon regtig na jou luister en empatie toon. Vir ʼn paar oomblikke is daar ʼn ware konneksie.

Hierdie gedig word gebruik om die verlies in die lewens van grootouers te illustreer om sodoende die navorsing vanuit ʼn ander perspektief te belig. Die ouma se emosie word intuïtief deur die gedig gedeel, wat op sy beurt my navorsing bevindinge so goed verwoord en wat op ʼn verstaanbare wyse gestalte gee aan statistiese bevindinge.

Met die lees van die gedig “Onthou my …” het dit gevoel asof ek die skrywer se binnelewe betree en haar pyn kon proe; ’n gekristalliseerde herinnering aan die talle kere wat ek daardie emosies ervaar het tydens my gesprekke met ma’s en oumas.

Grootouers se belewenis van emigrasie

Emigrasie is ʼn unieke ervaring vir elke rolspeler. Die proses het egter oor die algemeen ’n vasgestelde emosionele verloop wat volgens my navorsing in die drie fases geskied. Elke fase word doeltreffend deur ’n uittreksel uit die gedig verwoord.

1. “Ons gaan Australië toe”: Volwasse kinders maak bekend dat hulle emigreer

Kinderdrukkies, skaterlaggies
Trippelvoetjies onder draairokkantjies
Dimpelarmdrukkies
hou my vas, hou my vas

Die emigrasie laat die ouer met teenstrydige gevoelens. Wanneer die kinders hul besluit om te emigreer vir die eerste keer bekendmaak, is dit die begin van ’n onkeerbare domino-effek met transnasionalisme as uiteinde. Die ouer ervaar teenstrydige gevoelens. Hulle redeneer dat dit beter en veiliger is vir die kind om elders te gaan vestig en stel dan ook die kind se geluk voorop. Maar die verwesenliking van die kinders se droom is gewoonlik ook die versplintering van hul eie toekomsvisie.

Die gedagte om te laat gaan is amper onuithoudbaar, daarom dié versoek: “Hou my vas, hou my vas”. Die verlies aan die betrokkenheid by die kleinkinders en die betekenis wat kleinkinders tot hul lewens toevoeg, tree op die voorgrond.

Die grootouer se introspeksie lei tot gevoelens van kwesbaarheid. Die bekommernis om alleen agter te bly, om sonder die hulp en ondersteuning van die volwasse kind alleen voort te gaan, word beklemtoon. Verder lei die afwagting van die verlies van die kinders se praktiese hulp tot onsekerheid en angs.

In die ouer se gedagtewêreld begin hulle selfs die moontlikheid oorweeg om te onderhandel om saam met die kinders te gaan:

Pak my in, Poppielop
Vat my saam, Lolliepop

Die grootouer besef die realiteit: dit is nie moontlik om saam te gaan nie. Hul hoop word daarop gevestig dat hul kinders en kleinkinders hulle as grootouer in hul harte sal “inpak”, dat die grootouer in herinnering en wedersydse verlange in die nuwe land deel sal wees van hul kinders en kleinkinders se lewe.

Draai-draai saam met my
Vir oulaas voor jy gaan
Sing “Rol op die tolletjie”
En klap jou handjies saam

Nog ʼn soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan

Veral voor die kinders se fisiese vertrek ervaar die ouer die vooruitsig van die verlies van die nabyheid van kinders en kleinkinders, wat ook tot onsekerheid en angs kan lei.

Die geleentheid om fisiese kontak met die kleinkinders te hê, word daagliks minder. Veral met die aankondiging van die vertrekdatum word die besef van verlies ’n harde werklikheid. Die fisiese liefkosing van die kleinkind met elke sintuig word dus al hoe minder; dit is asof die uurglas al vinniger uitloop. As sy kon, sou die digter die uurglas probeer omdraai om die tyd net vir ’n rukkie te laat stilstaan:

En klap jou handjies saam
Nog ’n soen in die nek
Nog een druk voor jy gaan

2. “Totsiens, Ouma”: Afskeid word geneem

Hierdie kort maar emosiebelaaide fase dui op die fisiese vertrek van die kinders en kleinkinders as die tasbare bewys van die verandering in die bestaande verhouding. In hierdie fase is die lughawe en dus ook veral vliegtuie baie prominent en dit vorm ’n belangrike skakel in die emigrasieproses. Die afskeid is vir al die partye ’n nuwe ervaring, en daar bestaan geen gevestigde rituele in die hantering daarvan nie.

Die groot voël kom haal jou
Vat jou ver oor die see
Sy groot blink vlerke sprei
Donker skadu’s bo-oor my

Hierdie strofe verwys na kinders wat in die groot vliegtuig met sy blink vlerke op pad is na ’n nuwe lewe, vol opwinding oor die nuwe ervarings, terwyl die ouma in die skadu van hierdie “groot voël” staan. Die vliegtuig versinnebeeld die afskeid wat die son wegneem uit die ouma se lewe. Alhoewel die son weer skyn as die vliegtuig buite sig is, sal dit nooit weer dieselfde wees ná die kinders weg is nie. Die verhouding het nou onherroeplik verander.

Hierdie fase volbring die oorgang van ouma na transnasionale ouma.

3. “Prentjies op die yskas”: Die post-emigrasiefase

Tydens die post-emigrasiefase is die volwasse kinders en kleinkinders fisies nie meer in Suid-Afrika nie en die uitleef van die verhouding het verander. Die geografiese afstand en ander tydsones het die verhouding onherroeplik verander. Onuitgeklaarde verlies kan ervaar word. Die grootouer pas aan by die feit dat die kinders en kleinkinders in ’n ander land woon. Vanweë die groot afstand en die beperkings van hulle gesondheid, het grootouers minder geleentheid om prakties teenwoordig en betrokke te kan wees by die kleinkinders.

Tydens die post-emigrasiefase word verlies ’n werklikheid:

Jou skeefkrom reënboogprentjie
Is al wat agterbly
Verkreukel op my yskas

Die reënboog dui op die vrolikheid wat was – dit is deur die kleuter geskep toe alles nog “normaal” was en die gesinslede fisies naby aan mekaar was. Die woord “verkreukel” dui op die feit dat nuwe prentjies dalk nie gou hierdie een sal kan vervang nie. Die verkreukelde prentjie is ook ’n bevestiging dat die era van kleinkinders wat by die kleuterskool vir hul ouma ’n prentjie maak, wat dan ʼn spesiale plek op die yskas kry, nou verby is. Vir grootouers is hierdie prentjies wat met soveel liefde en trots aangedra word vir die yskas ’n belangrike versekering dat die kleinkinders aan hulle dink en na hulle verlang.

Grootouers vrees onder meer dat hulle die belangrike lewensfases van die kleinkinders gaan misloop. Dit is vir die grootouers uiters belangrik om deel te bly van hul kinders se lewens en dat die kleinkinders hulle sal onthou.

Onthou my …
Soos die hasie op die maan

Die ouma verwys na die pret wat hulle voorheen gehad het, met ʼn beroep om die naghemel en die maan te gebruik om ʼn onsigbare band oor kontinente heen te behou.

Tydens hierdie fase vind ’n grootouer troos in dit waarin hulle die kleinkinders kan onthou, soos foto’s en kunswerkies of geskenkies. Kommunikasie via die internet hou die grootouer betrokke by die kinders en kleinkinders. Afgesien van e-pos en foto’s, is internetkommunikasie deur stem- en videogesprekke noodsaaklik sodat die grootouer betrokke bly by die kinders en kleinkinders. Dit is daarom noodsaaklik dat die grootouer kreatiewe middele ondersoek om met die kleinkinders te kommunikeer. Die onus is veral ook op die volwasse kind om die verhouding lewend te hou.

Asseblief, onthou my …

Weens globalisering is emigrasie en die emosionele effek daarvan vir Suid-Afrikaners ʼn teer punt. Dit is noodsaaklik dat die soeklig op die effek van transnasionalisme gewerp word. ’n Groter bewustheid van transnasionalisme is die eerste stap in die proses om nuwe maniere van saamwees, asook maniere om die verlies en verlange te hanteer, die hoof te bied.

Die kwesbaarheid van hierdie openhartige en eerlike gedig gee nuwe insig in die ervaringswêreld van die transnasionale grootouer. Deur hierdie kunsvorm vind die emosionele impak neerslag in elke leser se eie lewe, met ʼn potensieel unieke interpretasie daarvan vir elkeen. In die afwesigheid van meer formele ondersteuning bied herinneringe en kreatiwiteit verligting van die aanhoudende verlies. Met hierdie kunsvorm word die verlies versag om uiteindelik te lei tot berusting:

In “onthou” trek ek saam
Soos die hasie op die maan

Dankie aan Menitza Botha en Cilliers Willers vir die hulp met die teks en alle insette.

Hierdie artikel het oorspronklik in LitNet verskyn.


[1] https://www.litnet.co.za/die-onderskatte-rol-van-die-oupa-en-die-storie-van-danie-reenwolf-du-toit-en-sy-oupa-danie-du-toit/

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Plaasmoorde: Amper een moord per week en tog kyk regering anderpad

Plaasmoorde: Amper een moord per week en tog kyk regering anderpad

Ons vra nie spesiale behandeling nie, ons vra net gelyke behandeling – AfriForum Nagenoeg een moord per week het gedurende 2023 op Suid-Afrikaanse plase afgespeel in die 296 plaasaanvalle wat gedurende dié tyd plaasgevind het. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering...

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest