Leesvordering:

Natuurhoekie – Kate red ’n bloukopkoggelmander

Sep 28, 2023

Beeldmateriaal vir vorige aflewerings van Natuurhoekie is deur Kate en André van Two-V Productions voorsien. Hulle YouTube-kanaal en Facebookblad bevat pragtige materiaal wat tydens hulle besoeke aan die Nasionale Krugerwildtuin verkry is. Boeke in hulle Op Vlerke-reeks kan ook aanlyn en in die winkels in ruskampe van die wildtuin gekry word.

Hierdie week vertel André van Kate en sy avontuur met ’n bloukopkoggelmander op hulle eie werf:

Nou, ’n dag of twee gelede, so ’n tydjie voor middagete, loer Kate aan die een kant van die huis oor die swembad uit of als nog reg is. Nét voor sy terugdraai, gewaar sy iets in die water by die uitlaat in die swembad. Sy dag eers dit is ’n blaar wat daar digby die skoonmaker se waterpyp te sien is, stap nader, en toé sien sy dit is ’n yslike bloukopkoggelmander, hy dryf op die een sy.

Sy vat toe ’n tak van ’n struik wat daar eenkant op die grond lê, steek dit in die water, kyk of hy nog lewe, en daar draai hy stadig om, penskant na onder, gee met moeite so ’n paar flou hale.

Ek loer toevallig in daardie stadium by die sitkamer se venster uit, sien sy kom met die net vooraan ’n lang paal waarmee ons blare uit die swembad skep nader gestap, steek dit daar ’n entjie van die kant af in die water. Ek loop om, gaan by die woonkamer se deur uit en is net betyds om te sien hoe sy die blou net uit die water lig met die koggelmander daarin.

Sy laat sak toe die net laag oor ’n bedding langs die huis waarin ’n impalalelie, spekboom en hen-en-kuikens groei, draai dit skuins dat hy kan afklim, maar hy klou, dit roer nie, loer net.

“Gaats,” sê ek vir Kate, “dis ’n mannetjie, ’n mens kan dit aan die grootte van die lyf en kop sien, sterk ontwikkelde stekels op die rug en aan die keel, maar sy hele lyf is dan donker van kleur, sy mooi helder metaalkleure is wég!”

“Dit moet verseker wees omrede dit nog nie somer is nie, nie paar- en broeityd nie,” vervolg ek. In daardie tye en as hy opgewonde word, sien mens die blou-pers vlamme wat in die nek en gesig optrek.

Hy het ’n breë plat kop, ’n skurwe, platterige lyf, ’n stert wat vas sit en nie maklik afbreek nie, dowwe skubbe op die vel wat meestal gepunt is en dikwels in die vorm van stekels voorkom sodat ’n kam op die rug en stert gevorm word, met klein oë wat van ooglede voorsien is, baie klein sny-, oog- en kiestande, en ’n kort, breë tong.

’n Rats dagdier.

Maar nou sit hy net daar op die net, pote uitmekaar geplant. Kate wag geduldig, draai die net meer skuins, wag, later klim hy stadig af, sit daar met die lyf oor die hen-en-kuikens gedrapeer.

Nou staan en beloer ek die petalje van so ’n paar meter weg. Kate het ook al teruggetree, kyk ook ewe belangstellend om te sien wat hy gaan maak. Later gaan sit sy die net weg.

Intussen beloer ek die water en sien ’n mens kan ook maar terwyl ons daar is, die swembad se watervlak aanvul. So laat ek toe die een kant van die tuinslang in die water afsak en gaan draai die kraan oop.

Met dié wat ek weer by die bedding gaan loer wat die koggelmander maak, sien ek hy sit nie meer daar nie. Nou soek ek …

Die koggelmander het die pad gevat, hy’s weg!

Die bloukopkoggelmander (Agama atra) kom wydverspreid in Suidelike-Afrika voor. Hulle dieet sluit insekte, eiers en plantmateriaal in. Hulle is eierlêende reptiele wat in warm, rotsagtige omgewings gedy.

Op die foto is ’n koggelmander wat bo Simonstad aangetref is.

Skryf vir ons

Is jy lief vir die natuur? Het jy al enige interessante dieremaniere dopgehou of pragtige landskappe in die buiteland ontdek? Deel jou staaltjies en foto’s met ons by wereldwyd@afriforum.co.za

Foto: cheryl-jayaratne-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest