Leesvordering:

Natuurhoekie – Vier jagluiperds “verlaat die nes”

Jun 30, 2023

Deur Alana Bailey

In 2022 het ons berig oor Njozi die jagluiperd wat op 14 Maart die natuurbewaarders van Rietvlei Natuurreservaat verras het toe sy haar verskyning met vyf welpies gemaak het. Daar is geskat dat hulle toe sowat ses weke oud was. Vir die eerste ses weke van hulle lewe sal welpies deeglik deur hulle ma’s versteek word en die skuilplekke sal ook gereeld verskuif word. Daarna begin die welpies saam met hulle ma’s in die veld rondbeweeg en aan die prooi wat sy vang, vreet tot hulle onafhanklik raak.

Jagluiperds word al sedert 2002 in hierdie reservaat gehuisves en dit vorm deel van ’n nasionale teelprogram. Mannetjies word geroteer om te verseker dat die genepoel van die jagluiperds gesond bly en welpies wat hier gebore word, word ook mettertyd na ander reservate verskuif. In September 2021 is ’n mannetjie, Thaba, hier vrygelaat as maat vir Njozi.

Die meeste mense weet dat jagluiperds die vinnigste landdiere is wat ’n spoed van 80 tot 128 kilometer per uur kan haal. Wat minder bekend is, is dat die wyfies meestal ’n enkellopende nomadiese bestaan voer, behalwe wanneer hulle hul welpies grootmaak. Die mannetjies is soms enkellopend, of voer ’n bestaan saam met ander mannetjies. Wyfies is vir drie maande dragtig en kan aan drie tot agt welpies geboorte skenk. Die welpies se nekke, skouers en rûe is aanvanklik met lang, grys-blou hare bedek wat help om hulle te kamoefleer, maar mettertyd uitval. Van so jonk af as ses maande kan hulle self prooi begin vang, maar eers teen sowat twintig maande sal die welpies hulle ma verlaat. Mannetjies word gemiddeld tien jaar oud en wyfies veertien tot vyftien jaar.

Njozi en haar vyf welpies was sedert hulle eerste verskyning ’n groot aantrekkingskrag en is derduisende kere gefotografeer. Hulle het ook vir heelwat pret gesorg, soos die keer wat hulle agterop ‘n besoeker se bakkie gespring het, en toe hulle hul onlangs in een van die skuilings vir voëlkykers tuigemaak het.

Die tyd het egter nou aangebreek vir die vier mannetjies om te groet. Hulle is nou onafhanklik en moet in ander reservate gehuisves word ter wille van die welstand van die genepoel en die teelprogram waarvan bo vertel word. Twee van hulle gaan na die Nyosi-wildreservaat in die Oos-Kaap en die ander twee na die Tshukudu-wildreservaat in Limpopo. Die oorblywende jagluiperd (’n wyfie) sal nog ‘n tydjie lank by haar ma bly en dan na die Makutsi-natuurreservaat in Limpopo verskuif word.

Tevore is dertien jagluiperds al van hierdie klein reservaat digby die middestad van Pretoria af na elders verskuif. Dit is van 2014 af deel van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se Metapopulasie Jagluiperdbewaringsprojek en speel ’n belangrike rol in die bewaring van hierdie pragtige diere.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Hierdie week se kollig is op KuierKos in Nederland. KuierKos is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest