Leesvordering:

Nuus van moddereiland – Pieter de Lange

Jan 25, 2017

Nuwe jaar, nuwe begin, altyd buitengewone dinge wat die aandag trek en die lewe interessant maak. Terwyl julle mense in die pragtige sonskynlande baie tyd en geleentheid het vir al julle lekker buitelug-goeters moet ons vinnig skarrel as daar net ’n teken van ’n flou sonnetjie is om darem bietjie uit te kom. Maar in die winter kry ons darem immers kans om te lees en daar is altyd die ou buitengewone nuusbrokkies wat die oog vang. Dis verseker ’n goeie weergawe van die tipe gemeenskap waarin jy jou bevind.

Morris ‘dancing’ is ’n eeue oue Engelse volksdans wat sy oorsprong het in tradisies wat tot in die 15de eeu nagespoor kan word. Die dansers, geklee in jasse of toiings, het gewoonlik klokkies om hulle bene net onder die knieë, en hulle dans met swaarde of stokke en die orkes kap dit flou op konsertinas, viole en tamboeryne. Hulle gesigte is swartgesmeer en volgens oorlewering het dit te doen met ’n verwysing na ’n moontlike Moorse oorsprong of na myners of skoorsteenveërs. ’n Groep van die Morris dansers is gedreig en as rassiste uitgekryt toe hulle nou in Birmingham opgetree het. Van die aggressiewe toeskouers het tot van die dansers se hoede afgeklap en die arme omies het tevergeefs probeer verduidelik dat daar geen rassekonnotasies in hulle optrede is nie. David Cameron was ook gekritiseer toe hy in 2014 saam met Morris-dansers met swart gesigte op ’n foto verskyn het.

Hier is ’n goeie wenk as jy dalk die somer in Engeland wil kom kamp: Dit is nou moontlik om in sekere kerke oor te slaap wat deur die Churches Conservation Trust bestuur word. Verlede jaar het 650 ‘champers’, soos hulle genoem word, daarvan gebruik gemaak. Die pragtige ou geboue is geleë in die ‘counties’ van Warwickshire, Norfolk en Northamptonshire.

Annabelle Blackham, van Active Outdoorsy, beskryf dit as ’n aandoenlike en uiters rustige ervaring, met die maanlig wat deur die groot vensters geskyn het en haar laat dink het aan al die dinge wat met mense oor honderde jare tussen die mure gebeur het. Daar is natuurlik geen sentrale verhitting of storte in die massiewe ou geboue nie, maar hulle het darem die basiese toiletgeriewe. Hulle verwag dat ’n verdere vier kerke dié jaar deel van die skema sal word, insluitende die een in Billesley, waar Shakespeare volgens gerugte getroud is met Anne Hathaway. Die pragtigste kerk is St Michael the Archangel’s Church in Booton in Norfolk. Die seisoen begin teen die einde van Maart en hou aan tot einde September.

Ongelukkig is daar geen af-seisoen vir wilddiewe nie; dis net die teikens wat verskil in die verskillende omgewings. In Afrika is dit die stroping van renosterhorings en olifanttande wat kommer wek, maar hier is dit die eiers van die swerfvalk oftewel die ‘peregrine falcon’ wat wilddiewe lok. Hierdie valkie is die vinnigste voël in die lug en kan tot 389 km/h bereik in ’n duikslag. Die eiers is baie gesog, veral in die Midde Ooste, en die Arabiese valk-entoesiaste is bereid om $6 000 vir een eier te betaal. Die berugste valkeierdief hier is Jeffrey Lendrum, wat vroeër jare in die Rhodesiese SAS gedien het. Hy gebruik sy militêre agtergrond om by die neste uit te kom, en het al vanuit helikopters gehang en teen kranse af geabseil om die gesogte eiers te bekom. Hy het sy misdaadloopbaan in Zimbabwe afgeskop in 1984 toe hy gevonnis was en daarna is hy gearresteer in Kanada, Wallis, Engeland en onlangs in Sao Paulo in Brasilië toe hy met albino valkeiers betrap is wat hy in Chile bekom het.

Ek onthou goed hoe ons destyds trapkarresies by Tuks se hoofkampus gehad het. Dit was ’n groot kompetisie tussen die koshuise se spanne. Maar hier naby ons in Sutton Valence, waar die Afrikaanse kerkdiens een maal per maand plaasvind, is daar ’n gereelde stootwaentjieresies ten bate van liefdadigheid, wat al vir 37 jaar aan die gang is. Die deelnemers, wat almal baie kleurvol aangetrek is, moet twee rondes om die ‘village’ of dorpie voltooi, en dan sommer ’n paar pinte bier sink by die ‘pubs’ wat in die roete is. Daar is ’n kwaai afdraande en met moderne tegnologie het die stootwaentjies al hoe vinniger begin rol by die bult af, met sommige wat tot 40 km/h bereik. Dit het nou tot ’n tragedie gelei met die dood van Titch, soos hy bekend gestaan het, as gevolg van kopbeserings. Titch was aangetrek in die drag van ’n Tweede Wêreldoorlog-loods, met stofbrille en ’n leerhelmhoed. Dit is sekerlik nie altyd maklik om die balans reg te kry tussen tradisie, veiligheidsregulasies en moderne tegnologie nie.

Ons het waarskuwings gekry oor moontlike sneeustorms in Januarie, maar toe ek met my vriend in Kiëf in die Oekraïne gesels en hy my vertel hoe sy honde in die sneeu baljaar in temperature van -20 °C het ek weereens besef dat die Engelse klimaat tog nie so erg is nie.

Pieter de Lange

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest