Leesvordering:

Nuuskommentaar: Remigrasie

Mar 2, 2023

Deur Alana Bailey

Op 6 Maart 2003, dus twintig jaar gelede, het Solidariteit en die destydse Maatskappy vir Immigrasie die Kom Huistoe-Veldtog bekendgestel. Die doel was om Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, maar wou terugkeer, met betroubare advies by te staan. (Terloops, hierdie samewerkingspoging het aanleiding gegee tot die totstandkoming van AfriForum twee jaar later).

Die veldtog is met oorweldigende reaksie begroet. In die eerste vier maande is die webwerf met inligting meer as 50 000 keer besoek. Daaruit het honderde individuele navrae gespruit wat gehandel het oor burgerskap, werkverskaffing, evaluering van buitelandse kwalifikasies, terugbring van huisraad of troeteldiere, finansiële sake, studiegeleenthede, mediese fondse, skoolplasing van kinders en vele meer. Positiewe en negatiewe kommentaar is ook op die projek ontvang en hulp is deur ’n netwerk kundiges aangebied.

Die aantal lande waaruit die navrae afkomstig was, het weer bevestig hoe wyd ons mense oor die aardbol versprei het. Daar was onder meer e-posse uit Engeland, Skotland, die VSA, Nederland, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Ierland, Italië, Zimbabwe, Saoedi-Arabië, Zambië, Swede, België, Bulgarye, Abu-Dhabi, Oman, Malawi, Frankryk, Hongkong, Korea, Thailand, Denemarke, Nigerië, Duitsland, Taiwan en Dubai.

Sedertdien het emigrasie toenames en afnames getoon, maar so ook die aantal mense wat terugkeer, of te wel remigreer. Hulle redes is uiteenlopend – van verlange na geliefdes, hulle eie kultuur en die bekende landskap, tot die vermoë om uit die buiteland unieke besigheidsmoontlikhede in die land raak te sien en daarop voort te bou.

Frustrasies soos die burokratiese rompslomp waarmee die terugkeer gepaard gaan, het nie minder geword nie, maar deesdae is daar al meer diensverskaffers wat hierdie irritasies help oorbrug.

Remigrante kyk soms die realiteit mis dat die land wat jy verlaat het, nie die een is waarheen jy terugkeer nie – mense en stelsels het aanbeweeg tydens jou afwesigheid en lewenskoste het gestyg. Tog getuig remigrante van toegevoegde lewensgehalte waarop hulle nie noodwendig in die buiteland kon reken nie, insluitend om persoonlike kontak met geliefdes te hê. Die reisinperkings tydens die Covid-19-tyd het weer geleer dat afstand en grense letterlik onoorbrugbaar kan raak en dat kontak deur sosiale media net nie dieselfde is as om fisies bymekaar te wees nie.

Suksesvolle internasionale lande behandel hulle emigrante en remigrante met respek en waardeer hulle kundigheid en ervaring. Nederland en Vlaandere het byvoorbeeld op Moedertaaldag 2023 inligtingsblaaie vir remigrante op die Nederlandse Taalunie se webtuiste bekendgestel. In Dublin bring die indrukwekkende “EPIC Ierse Emigrasiemuseum” weer hulde aan alle Ierse emigrante en hulle bydraes in die res van die wêreld.

Plaaslik hou AfriForum se Wêreldwyd-inisiatief en die Solidariteit Beweging se Kuberkanton kontak met ons mense in die buiteland. Remigrante word steeds sover as moontlik deur AfriForum met advies bygestaan. Van owerheidsweë is daar geen pogings van die aard nie, en beperk wetgewing met betrekking tot die verlies van burgerskap, belasting op inkomste uit die buiteland en valutabeheer mense se mobiliteit. Nogtans skrik dit nie remigrante af nie, maar sien vele steeds ’n meer sinvolle toekoms vir hulleself aan die suidpunt van Afrika as in die res van die wêreld.

Toenemende beweeglikheid van mense het tot gevolg dat migrasie ook wêreldwyd toeneem. Die uitdaging is om geen persoon wat kies om te bly, te gaan, of te remigreer te vervreem nie, maar almal steeds kultureel betrokke te hou sodat elkeen met hulle unieke insig en kennis saam aan ons toekoms kan bou.


Teken in op AfriForum Wêreldwyd se Kollig-nuusbrief. Wees die eerste om die jongste nuus en meer te ontvang!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest