Leesvordering:

Om jou hart in ʼn boks oorsee te stuur

Okt 20, 2021

deur Melodie Veldhuizen

Watter groter voorreg kan daar vir grootouers wees as om met verjaardae en Kersfees, of sommer sonder enige spesifieke rede, self ʼn geskenk aan jou kleinkinders te kan gee? En om dan die blinkoog-vreugde te geniet wanneer hulle die geskenkies oopmaak.

Hierdie voorreg is nie vir kubergrootouers beskore nie. In ag genome finansies en ander omstandighede, kon jy dalk voor die Covid-pandemie redelik gereeld vir jou kinders in Anderland gaan kuier en ʼn tas vol geskenke saamneem. Of die kinders kon kom kuier en is dan met geskenke deur Ouma en Oupa bederf.

Sedert ons kinders byna drie jaar gelede sak en pak Oostenryk toe is, het ons hulle nog nie weer gesien nie en ons verlang baie. Ons moes ʼn alternatiewe plan bedink om geskenke vir hulle te kan gee. Ondanks baie negatiewe gerugte het ons met die eerste paar pakkies aan die kinders van die poskantoor se dienste gebruik gemaak. Ons het telkens in spanning gewag vir ontvangserkenning vanuit Oostenryk. Bo alle verwagting het elke pakkie binne minder as drie weke ongeskonde sy bestemming bereik. Wat ʼn vreugde om die video’s te ontvang wat die storie vertel van opgewonde kleingoed wat die boks vol verrassings uitpak.

Die Covid-pandemie het dit al hoe moeiliker gemaak om pakkies oorsee te stuur en ons het begin om verjaardaggeskenke by Amazon te bestel en te laat aflewer. Dit was betroubaar en vinnig, maar onbevredigend, want ons kon nie die geskenke persoonlik gaan koop nie en kon ook geen sentimentele items of handgeskrewe briefies saamgestuur nie.

Intussen het ek vir elke kleindogter ʼn kombersie gehekel met die gedagte dat hulle dit maar eendag in Suid-Afrika moet kom haal. Die projek was pas voltooi toe ons verneem dat daar ʼn kleinseun op pad is. Ek het weereens my hekelpen en wol nader geskraap – dié keer vir ʼn blou kombersie. Met hierdie projek afgehandel, het Oupa voorgestel dat ons dit ernstig oorweeg om weer ʼn pakkie te stuur. Ons oudste kleindogter se verjaardag was om die draai, en so ook die nuweling se geboorte. Ons het besluit om ʼn baie bekende internasionale koerierdiens te gebruik en die maatskappy se grootste houer gekies; al drie die kombersies het met gemak daarin gepas. En die bonus – oorgenoeg spasie vir nog baie meer verrassings vir die hele gesin, asook ʼn paar tipies Suid-Afrikaanse produkte waarvoor hulle al lankal lus het. Alle oop gaatjies is gevul met items van sentimentele waarde, onder andere van ons dogter se kinderboekies asook handgemaakte kaartjies en handgeskrewe briewe. Dit was veronderstel om vir die kinders ʼn verrassing te wees.

Met die maatskappy se beloofde afleweringstyd van 2 tot 4 werksdae het ons geglo dat die geskenkpak betyds, voor die baba se geboorte en sy ousus se verjaarsdag, in Oostenryk afgelewer sou word. Min het ons geweet dat Oupa en Ouma se droom ʼn nagmerrie sou word. Alles het vlot verloop tot die pakkie by die doeane in Oostenryk aangeland het. Vanaf die doeane het ons dogter ʼn SMS ontvang dat daar vir haar ʼn pakkie op pad is. Wat ʼn teleurstelling dat die beoogde verrassing nie meer ʼn verrassing was nie. Ons was egter dankbaar dat dit sonder enige probleme tot daar gekom het.

Hier het die uitdagings begin. Ons het seker gemaak dat daar niks onwettigs in die pakkie is nie, en ons weet nie wat die vertraging veroorsaak het nie. Ons dogter is ingelig dat sy by ontvangs van die pakkie aflewerings-, versendings- en moontlik ook stoorkoste sou moes betaal ondanks die feit dat ons daarvan oortuig was dat alle koste reeds in Suid-Afrika deur ons vereffen is. Ons vermoed dat die doeanepersoneel gedink het die boks bevat goedere wat ons na Oostenryk wou uitvoer. Vele e-posse is verwissel, telkemale met ʼn nuwe versoek. Die boks is tot op die bodem uitgepak, en elke liewe item is (in Duits wat ons nie verstaan nie) gelys. Ons is versoek om ʼn pro forma-faktuur te stuur met die prys van elke item, selfs geskatte waardes van die items van sentimentele waarde waarvoor ons nie eens meer kwitansies gehad het nie. Ons is ook meegedeel dat die pakkie aan ons teruggestuur gaan word, op ons koste, sou ons nie voor ʼn spesifieke datum die pro forma-faktuur aan hulle voorsien nie.

Baie trane, frustrasie, spanning asook gebede later is die geskenk (wat toe lankal nie meer ʼn verrassing was nie) uiteindelik (13 werkdae na versending) by ons kinders afgelewer. Ongelukkig moes hulle eers ʼn enorme bedrag, groter as die waarde van die pakkie se inhoud, betaal by ontvangs van die geskenk. Ons het die geld aan hulle teruggegee, want ʼn mens betaal mos nie vir ʼn geskenk nie.

Hierdie hele drama het ons as grootouers se vreugde en opgewondenheid oor die pakkie gedemp. Maar die opgewonde en vreugdevolle ontvangs daarvan deur die Oostenrykers het vir hierdie teleurstelling vergoed. Ons kon darem by wyse van ʼn video en foto’s deel in almal se ontdekkingstog van die inhoud van die pakkie.

Ons het besluit om ʼn vertoë aan die Oostenrykse doeane te rig betreffende die vertraging van die pakkie asook die onnodige en buitensporige koste wat van ons kinders verhaal is. Die positiewe uiteinde van die saak was dat ʼn groot deel van die geld terugbetaal is.

Oorweeg jy om ʼn geskenk vir jou kinders te stuur?

Maak seker dat jy ʼn betroubare koerierdiens gebruik – bekend is nie noodwendig betroubaar nie. En maak seker dat die personeel van die maatskappy in Suid-Afrika presies weet wat die reëls, regulasies, vereistes en beperkings is van die land waarheen die pakkie gestuur word. Moenie mondelinge mededelings aanvaar nie – dring aan op die mees onlangse, geldige geskrewe inligting. Indien die inligting wat jy hier kry onvoldoende of onbevredigend is, vra dit eerder aan van die bestemmingsland se doeane voordat jy die pakkie stuur.

Sal ons weer ʼn geskenkpakkie stuur?

Dalk … Eendag, wanneer ons hierdie drama verwerk het en daarvan vergeet het. Oupa begin reeds droom oor die inhoud van die volgende boks. Waarom? Want dis een manier om vir ons (klein)kinders te wys dat ons omgee en wil kontak behou. Want in so ʼn boks gaan nie net tasbare geskenke nie. Jou hele hart gaan saam.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest