Leesvordering:

Russiese studente sien toekoms vir Afrikaans

Feb 8, 2017

“Afrikaans is ’n pragtige en emosionele taal. Dit is baie onregverdig dat dit in Suid-Afrika so onderdruk word.”

Só meen Valentina Kim (22), een van ses Russiese studente wat Afrikaans as eerste en tweede addisionele taal aan die Lomonosof-staatsuniversiteit in Moskou se Instituut vir Asiatiese en Afrikatale studeer.

Dié groep studente het die burgerregte-organisasie AfriForum en vakbond Solidariteit se hoofkantore in Centurion besoek as deel van ’n kultuurtoer wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereël is om hul meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

Volgens Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte by die FAK, het dié studente in Moskou die organisasie se aandag getrek nadat prof. Deon Geldenhuys van die Universiteit van Johannesburg Moskou besoek het. Die organisasie het daarna ’n uitnodiging aan die studente gerig om Suid-Afrika te besoek om meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

“Afrikaans het vir my die mooiste klankpatrone en uitspraak,” sê Alisa Balikhina (22), een van die studente wat reeds in 2015 vir ses maande lank Afrikaans danksy ’n uitruilprogram aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom studeer het.

“Ek het by ’n Afrikaanse gesin in Potchefstroom gewoon en het so veilig en tuis gevoel. Daar is ’n groot gevoel van enigheid en ’n lekker studentegees. Ek sê vandag nog dat ek ’n trotse Pukkie is.”

Sy sê aan Forum Nuus dat Russiese instansies nie dieselfde druk ervaar om te verengels as wat die geval is in Suid-Afrika nie. Sy meen daar is baie potensiaal vir Afrikaans om wêreldwyd te groei.

“Daar is nie ’n manier waarop Engels ooit ’n amptelike taal van Rusland sal word nie. Ons is té trots op ons eie taal en kultuur.”

Die Lomonosof-staatsuniversiteit in Moskou is die oudste opvoedkundige instelling in Rusland en het ’n lang tradisie van akademiese uitnemendheid. Afrikaans is een van vyf Afrikatale wat studente aan dié universiteit kan studeer.

Stefan Loekjanenko (21) sê dat hy op Afrikaans besluit het omdat dit vir hom soos ’n baie mooi taal geklink het. Hy vertel ook dat sy besoek aan Kaapstad vir hom tot dusver ’n hoogtepunt was. “Dié stad het alles. Berge, die see en so baie verskillende mense van verskillende kulture. Dit was ʼn ongelooflike ervaring om dit te besoek.”

Warvara Smirnowa (22), ook een van die Russiese studente, sê aan Forum Nuus dat dit vir haar soms uitdagend was om Afrikaans te leer, omdat die klanke en sinskonstruksie baie van Russies verskil. Sy sê ook dat sy dit baie geniet het om ’n kerkdiens in Afrikaans by die N.G. Kerk Lyttelton by te woon. “Daar was vir my ’n mooi gevoel van eenheid tydens die kerkdiens. Ek het dit baie geniet.”

Die studente het reeds die Hoërskool Centurion, Protea-boekehuis, die Voortrekkermonument, asook die stel van die sepie Binnelanders en Beeld-koerant se kantore in MediaPark in Johannesburg besoek.

Hulle gaan ook verskeie ander besienswaardighede in Pretoria en Johannesburg besoek voor hulle op 14 Februarie na Rusland terugkeer.

deur Jhua-nine Wyrley-Birch vir Forum Nuus.

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest