Leesvordering:

Salet Scheffer vertel van haar vakansie in Nieu-Seeland

Feb 4, 2016

Ná ‘n besoek van my Nieu-Seelandse familie in Maart 2014 het ek, my ma en my broer besluit dit is ons beurt om Nieu-Seeland te besoek. Ons het kaartjies bespreek en reisplanne begin maak vir ʼn onvergeetlike vakansie… En was dit nie onvergeetlik nie!

14 Oktober 2015 kon nie gou genoeg aanbreek nie. Ons het via Hongkong gevlieg en een dag daar spandeer. Hongkong is ‘n besige stad, mense orals waar jy kyk; soos miere – georganiseerd maar baie. Dit was warm en baie vogtig, met snaakse reuke en geure soos wat mens deur die strate loop; vreemde kosse wat sommer so op die sypaadjies gemaak word. Ons het met ‘n trem ‘n baie styl opdraande gery na The Peak Tower, waar ons bederf is met ‘n yskoue bier by die Bubba Gump-restaurant. By die Tin Hau-tempel in Repulse Bay is daar beelde orals waar jy kyk; plaaslike inwoners en besoekers vryf die beelde vir “good luck”. Ons het die dag afgesluit deur die Jumbo Kingdom te besoek. Dit is ‘n restaurant wat op die water dryf en meer as 700 gaste kan akkommodeer. Pootuit en doodmoeg ná ‘n lang en besige dag in warm Hongkong, is ons terug lughawe toe. Uiteindelik op pad na Nieu-Seeland.

Nadat ons in Auckland geland het, is ons direk deur na die Tarawera-meer waar ons ʼn heerlike naweek kon rus ná die lang vlugte. Of só het ons gedink. Van die familie het ek meer as 10 jaar gelede laas gesien, so daar was baie om op te vang. Soos regte Suid-Afrikaners het ons almal lekker saam gebraai en gekuier, en heeltemal te veel geëet. Maar dis mos hoe ʼn vakansie moet wees.

Die eerste paar dae het ons op die Noord-eiland spandeer. Cathedral Cove is vir my ongelooflik beeldskoon. Dit is 45 minute se stap deur die natuur tot onder waar jy by ‘n wit strand met helderblou water uitkom. Jy kan sommer jou plakkies uitskop en los waar die paadjie eindig en dan lekker kaalvoet op die stand gaan stap. Groot, wit rotse wat uit die blou water uitsteek. As jy braaf genoeg is om die koue water aan te durf, kan jy van die rotse af spring. Dis nou vir die avontuurlustiges.

Ons het van Auckland na Christchurch gevlieg om die Suid-eiland te verken. Daar het ons ‘n kar gehuur en na die Tekapo-meer toe gery. Weer kry ons ‘n uitsig wat prentjiemooi is. Helderblou water, berge in die agtergrond met ‘n sneeukombersie oor. Daarna het ons na Wanaka gery waar ons die eerste aand oorgeslaap het. Ons het nêrens verblyf bespreek nie, want ons het nie geweet wat presies ons alles gaan doen en waar ons orals gaan wees nie. Sommer ingestap en ‘n woonstel bespreek. ‘n Rustige klein dorpie waar die inwoners orals heen stap.

Ons het verder Suid gery na Milford Sound wat aan die westekant in die Suid-eiland geleë is. Milford Sound is ‘n nasionale park waar dit ongelooflike baie reën; daar is honderde klein watervalletjies. Die paadjies daar is so ongelooflik nou, ek het nogal angstig geraak wanneer daar busse van voor af kom. Pragtige reënwoude, dit lyk soos dié uit ‘n sprokie.

Flame is ‘n restaurant wat besit word deur Suid-Afrikaners in Queenstown. Hulle maak die beste en grootste ribbetjies wat ek nóg gesien het. Ek het vir my ‘n halwe porsie ribbetjies bestel, waarvan die helfte nog oorgebly het. ‘n Ander bekende eetplek is Fergburger; die burgers is groter as my hand. Die plek is permanent besig en die ry om te bestel, staan by die deure uit tot in die strate. Ons het burgers bestel en sommer op die gras langs die meer gaan sit en eet. Queenstown is ‘n regte toerismedorpie; baie mense en baie besig. Op my neef se verjaardag het ons die semifinaal van die Rugby Wêreldbeker gaan kyk, Suid-Afrika teen Nieu-Seeland, wat ons met twee punte verloor het. Twee Suid-Afrikaners met Springboktruie in ‘n Nieu-Seelandse sport-pub. Dit was nietemin ‘n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek weet nie hoe die dag sou uitdraai as Nieu-Seeland moes verloor het nie.

In Christchurch het ons by Suid-Afrikaanse vriende van my neef gaan kuier. My ervaring van Nieu-Seeland is dat die mense vriendelik is, die land is skoon en pragtig, en alles werk. Dit is nie gejaagd soos hier in Suid-Afrika nie. Wanneer daar ‘n ongeluk gebeur, word die paaie toegemaak totdat die ongelukstoneel skoon is en weer veilig om te gebruik. Dit is vrywilligers wat dit doen, en almal wag ewe rustig om weer aan te gaan met hul dag se take. Die paaie is vol draaie, seker daarom dat ‘n mens net 50 km per uur kan ry. Dit is nogal iets om aan gewoond te raak.

As ek Nieu-Seeland in drie woorde moet beskryf, sal dit wees: Skape, berge en draaie.

Ek sal Nieu-Seeland enige tyd weer besoek en raai almal aan om dit op jou “bucket list” te sit. Maak tyd; daar gaan altyd redes wees hoekom jy nie kan gaan nie.

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest