Leesvordering:

Só moet gesondheidsbedryf in SA lyk – Dawie Roodt lê alternatief tot NGV voor by AfriForum-konferensie

Mei 6, 2024

Algehele privatisering van die Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf – dít meen die ekonoom Dawie Roodt is in kort die enigste werkbare alternatief tot die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Roodt het vandag by AfriForum se konferensie oor die NGV in Pretoria sy voorstel vir ’n nuwe benadering tot gesondheidsorg in Suid-Afrika voorgelê. Die NGV is, volgens Roodt, ’n onhaalbare ideaal aangesien die geld én vermoë by die Suid-Afrikaanse regering ontbreek om dié plan suksesvol te implementeer.

Roodt se voorstel behels onder meer dat wetgewing ingestel word wat lidmaatskap van ’n mediese fonds verpligtend maak vir alle Suid-Afrikaners. Daarvolgens sal bestaande mediesefondslede onbelemmerd kan voortgaan met hul lidmaatskap. Die res van die bevolking sal dan, na afloop van die privatisering van al die mediese dienste in die staat, in een van minstens drie privaat fondse gegroepeer word om sodoende toegang tot beperkte, maar tog hoë gehalte privaat- mediese sorg te kry. Die befondsing hiervoor sal uit die staat se gesondheidsorgbegroting, wat tans in sukkelende of wanfunksionele hospitale of klinieke gepomp word, geput kan word. Roodt voer voorts aan dat pasiënte wat dan verdere mediese sorg benodig, in opleidingshospitale geakkommodeer moet word.

Roodt was een van vele toonaangewende stemme in die gesondheidsorgbedryf wat vandag op uitnodiging van AfriForum byeengekom het om oplossings vir die dreigende gesondheidsorgkrisis, wat uit die implementering van die NGV sal voortvloei, te bespreek. Dit kom te midde van toenemende kommer oor die implementering van die NGV nadat pres. Cyril Ramaphosa opnuut onderneem het om die NGV-wetsontwerp binnekort te onderteken sodat dit as wet bekragtig kan word.

Vernon Chorn (uitvoerende hoof van Unity Health) en André Jacobs (outeur van die boek Medical schemes explained) het albei ook die uitvoerbaarheid van die NGV in twyfel getrek en op die gevare van die implementering daarvan gewys.

Chorn het daarop gewys dat Suid-Afrika se verouderende bevolking, waar mense nie meer ná aftrede tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bydra nie, ook die lewensvatbaarheid van grootskaalse maatskaplike programme, soos NGV, onmoontlik maak. Hoe ouer die bevolking word – en hoe kleiner die werkende bevolking – hoe meer druk word daar op die gesondheidsorgbedryf geplaas. Aspekte soos dié lei volgens Chorn tot ’n grootskaalse uittog van geleerde gesondheidsorgpersoneel wat verdere uitdagings bied vir die bedryf.

“Die NGV sal eenvoudig nie onder die huidige vooruitskattings oorleef nie, aangesien dit ’n beduidende bedrag – ongeveer R600 miljard – benodig om suksesvol geïmplementeer te word. Daar is geen manier om hierdie bedrag in te samel sonder om belasting te verhoog nie en dit sal uiteindelik ’n swakker BBP tot gevolg hê,” sê Chorn.

Vernon Chorn uitvoerende hoof van Unity Health

Jacobs het op sy beurt onder meer gewys op die talle onsekerhede wat tans oor NGV bestaan en benadruk dat die implementering van NGV uiteindelik tot ’n stelsel sal lei waarin groter afhanklikheid van die staat gevestig sal word, terwyl die vryheid van keuse ook van pasiënte ontneem sal word. Jacobs meen voorts dat ’n tweebeenstrategie – waarin voorkoming en behandeling toegepas word ­– ’n werkbare oplossing vir die huidige sukkelende Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel sal bied.

André Jacobs outeur van die boek ‘Medical Schemes Explained’

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is daar verskeie scenario’s wat kan voortspruit uit die implementering van NGV, daarom is dit belangrik om op volle gereedheid te wees vir al die moontlikhede. “AfriForum is steeds optimisties dat die NGV-wetsontwerp deur openbare druk en regsgedinge gestuit kan word, maar Suid-Afrikaners moet nogtans hulself voorberei met oplossings sou daar ’n gesondheidsorgkrisis deur NGV teweeggebring word,” sê Boshoff.

“AfriForum het sedert 2019 altesaam 53 veldtogte teen die aanneming van NGV van stapel gestuur. Al die wettige kanale is gevolg om dit teen te staan, en indien die president die wetsontwerp onderteken, gaan AfriForum dit in die hof uitdaag,” sluit hy af.

Louis Boshoff veldtogbeampte by AfriForum

Klik hier om na die gesprek oor NGV te luister.

Meer oor die outeur

AfriForum

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest