Leesvordering:

Só vier ons Kersfees in Nieu-Seeland

Des 10, 2023

Deur Shar-nica du Plessis

Terwyl Desember ’n vreugdevolle tyd is waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie en ’n Kerslysies wat die kleinspan opstel, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld dié feesviering op hul eie voortsit. Ons het die week met Shar-nica gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Nieu-Seeland vier.

Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies?

Ons eerste Kersfees in ons nuwe land was maar hartseer. Ons het net van Suid-Afrika af teruggekom; my skoonpa is oorlede en ons het teruggegaan om sy lewe te vier. Man, ons het alleen gevoel! Ons was maar sewe maande in Nieu-Seeland en het ’n handvol mense geken. My man se werkgewer het ons vir Kersdag na die Te Ngaere-strand genooi en daar het ek vir die eerste keer alleen ’n jetski gery en lekker geëet. Dit was hemels!

Van toe af het ons besluit dat geen mens so alleen moet voel nie. Sedertdien maak ons elke Kersfees ons huis oop vir gesinne wat alleen is – en so vier ons Kersfees. En só sal ons aanhou! Ons ruil ook geskenke uit (as geheime Kersvaders!). Ons ondersteun graag Puketona Christmas Tree Farm en gaan kies elke jaar ’n regte boom. Ja, dit mors so bietjie, maar dis iets waarna my gesin uitsien en die geur daarvan is heerlik! Dis ons nuwe tradisie en sal so aanhou tot so lank ons kan. Op Kersdag gaan ons na dieselfde strand toe saam met Susan en Andre, en ons eet al die kos wat oorgebly het en geniet die dag saam as familie.

Geniet julle steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer jy nuwe disse? Dalk is daar besondere disse eie aan die land waar jy woon. Stuur asseblief daardie resepte!

Almal bring ’n bord happies (bring a plate beteken jy bring ’n bordjie happies). Ná ons Kersfeesspeletjies gespeel het, bedien ons heerlike groente, kerrienoedelslaai, ham en skaapboud!

Vir nagereg is daar altyd ’n pepermenttert en ’n Nieu-Seelandse nagereg genaamd ambrosia. Ek eet myself knuppeldik aan daardie nagereg. Die resep is by https://www.nzfavouriterecipe.co.nz/recipe/easy-ambrosia/ beskikbaar (en ek sit altyd ekstra Flake-sjokolade by). Vir drinkgoed vat ek ’n 2,25 liter Sprite waarby ek kaneelstokkies, appels en mentblare gooi.

Is daar die mooiste Kersliggies in jou buurt of ’n nuwe Kersfeesgier wat kop uitsteek in jou land?

Ons dorp is klein en het ’n komitee wat ’n groot boom in die middel van die dorp oprig. Boonop het die sakeondernemings het ’n kompetisie om te kyk wie se winkel die mooiste versier is. Hier is ook ’n paar huise wat regtig baie moeite doen. Almal wat my ken, weet ek is mal oor Kersfees (ek begin al in Junie Kersfeesidees en -goed op Facebook deel). Ek probeer elke jaar ietsie ekstra vir ons gaste en vir my kinders in my huis doen. Ons gaan gewoonlik op die 24ste uit om deur die dorp te loop en elkeen ’n roomys elk by McDonalds te gaan eet.


Hou julle by die ou, tradisionele vieringe of vier jy Kersfees op nuwe maniere?

Ons is altyd oop vir iets nuuts. Ons het in Suid-Afrika net so lekker geëet en liggies gaan kyk. Vir ons gaan dit oor familie en vriende wat saam kom en ’n spesiale dag vier, maak nie saak waar ons is nie – solank ons saam is.


Hoe hou julle kontak met familie wat ver is?

Ons doen video-oproepe met ons familie, want ons familie is reg oor die wêreld. Twee van my sussies is in Oostenryk, een in die VSA en een in Suid-Amerika. My boetie-hulle trek nou Nederland toe en my swaer en oudste sussie is nog in Suid-Afrika. Ons stuur foto’s en deel resepte en staaltjies uit die ou dae. Ek gebruik ook Checkers se Sixty/60-diens om vir die kinders iets te stuur. Ek wil graag vir my pa, skoonma en ouma vanjaar iets stuur. 


My boetie het nooit ’n Kersfees misgeloop nie; hy is baie erg oor my seuns. En elke jaar maak ek voetspore om te wys Kersvader was hier, en ons sit ook wortels uit vir Rudolph. My arme boetie moes altyd ’n hap vat van die wortel, die koekies eet en die melk drink, want ná liggies kyk, is dit bykans middernag en dan maak ons geskenke oop. Ek dink nie my boetie kan meer die smaak van rou wortels uitstaan nie. 

Ek het die een keer vir my seuntjies Jesus se geboorte in Engels gelees, want my jongste sukkel soms om Afrikaans te verstaan (behalwe as ek raas of lekkers gaan koop). My jongste wou weet hoekom het die wyse man vir Jesus ’n “mirror” gegee (met verwysing na myrrh, oftewel mirre) en gevra: “Was daar dan nie speelgoed nie?”

Ons het wonderlike herinneringe aan Suid-Afrika en hier. Ons sal enigiets gee om ons familie almal hier onder een dak te hê. Eendag …

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest