Leesvordering:

Taal Tel 12: ’n Oase vir lesers op soek na ’n boek

Des 1, 2023

Deur Alana Bailey

Tydens ’n ontbyt met vriende by ’n restaurant in Pretoria, sien ek skielik die mooiste boekwinkel in ’n lowergroen tuin. Hoe kon ek verbyloop sonder om te kyk, te soek en te koop? Sedertdien duik die naam The Book Keeper oor en oor op wanneer ek met lesers gesels. Hulle vertel van die leeslekkertes wat hulle daar raakloop en van ‘n eienaar vir wie geen moeite te veel is om aanbevelings te maak, boekklubs met aankope te help en sommer net lekker oor boeke te gesels nie. Taal en boeke is mos maar sinoniem, of jy nou van feite of fiksie hou. Dit was daarom voor die hand liggend dat een van hierdie jaar se Taal Tel-aflewerings oor Rachelle Cilliers en The Book Keeper moes gaan.

Rachelle, hoe het The Book Keeper begin?

Boeke was nog altyd ’n passie en nadat ek my B.Com Rekeningkundegraad en Honneurs voltooi het, het ek geweet dat ek my akademiese kennis en passie beslis eendag gaan aanwend om ’n boekwinkel oop te maak. Tyd het verbygegaan en die lewe het gebeur (huis, man, kinders, ensovoorts). In 2018 het ek begin ondersoek instel na moontlike winkelruimtes. Die Afro-boer perseel was dadelik beskikbaar en voilà… my droom het ’n realiteit geword!

Op watter soort boeke fokus die winkel?

Bykans enigiets! Ons het boeke vir beide jonk en oud, Afrikaans en Engels, fiksie en nie-fiksie. Die lekker van so ’n onafhanklike boekwinkel is die feit dat ons ons mark en kliënte ken en weet wat hulle graag lees. Ons bou voort daarop.

Mense sê soms die tyd van gedrukte boeke is verby – wat is jou standpunt hieroor?

O nee! ’n Gedrukte boek in papierformaat is hier om te bly. Een ding wat die Covid-pandemie en inperking te weeg gebring het, is die feit dat mense skerm-sku en rekenaarvoos is. Lesers wil nie nog boonop ’n boek op ’n skerm lees nie.

Rachelle Cilliers is die eienaar van The Book Keeper.

Het jy wenke vir ouers om hulle kinders lief vir lees te maak?

Gee jou kind ’n vrye keuse om sy of haar eie boek te kies – natuurlik met ouerleiding.  Laat kinders toe om ’n boek te lees wat binne hul leesvermoë val. Lees moet lekker wees en nie soos harde werk voel nie. Deur self te lees, is ook altyd ’n goeie idee.  Kinders doen nie wat jy vir hulle sê nie, maar eerder wat jy doen.

Wat is jou gunsteling boeke? Daardie wat jy oor en oor sal lees?

Ek is mal oor historiese fiksie (The Gentleman in Moscow was een van my gunstelinge).  Boeke wat inspireer soos The Choice (Edith Eger) en ware verhale soos Angela’s Ashes (Frank McCourt) bly my altyd by. Verder sal Jane Eyre van Charlotte Brontë my gunsteling klassieke boek van alle tye wees. My Bybel is natuurlik altyd langs my bed, op my foon en in my sak. My padkaart vir die lewe.

Die laaste paar dekades het Afrikaanse fiksie geblom. Tog is daar lesers wat nog maar vassteek by Engelse leesstof.  Wat is jou advies aan hulle?

Ondersteun ons plaaslike skrywers – nie omdat hulle dit nodig het nie, maar omdat jý dit nodig het. Die plaaslike skrywers blom soos nog nooit vantevore nie. Die wye verskeidenheid van stories in Afrikaans is fenomenaal en kompeteer baie goed met internasionale titels.

Stories verromantiseer soms die lewe van boekhandelaars. Wat is die hoogtepunte en laagtepunte van jou beroep?

My gunsteling deel van die dag is wanneer ek ’n leser bekendstel aan ’n wonderlike boek en daarna hoor watter vreugde die lees daarvan vir hulle was. Die laagtepunt is werklik wanneer ek steeds hoor van mense wat boeke onwettig op WhatsApp- en Telegram-groepies rondstuur. Waarom sou mense dit doen?

Jy is ook ’n inspirerende entrepreneur. Wat is jou raad aan ander mense met ’n droom en ’n plan vir ’n eie onderneming?

Moet nooit touopgooi en ophou droom nie. Mense dink soms jy het baie bronne (finansies, netwerk en kontakte) nodig om ’n besigheid te begin. Alhoewel dit in ’n mate seker so is, is harde werk, uithouvermoë en passie die eintlike dryfvere.

Waar kan mense meer oor The Book Keeper uitvind?

Ons winkel is geleë in Equestria in die ooste van Pretoria. Verder kan mense ook ons webtuiste besoek by www.thebookkeepershop.co.za. Ons adverteer ook op Facebook en Instagram (@thebookkeepershop

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest