Leesvordering:

Topwenk: Wat om in Helsinki te sien, te doen en te eet

Aug 27, 2019

Voordat ek Helsinki besoek het, het ek nie juis veel van die plek geweet nie. Ja, ek het geweet dis ysig in die winter en Kersvader woon daar, maar dis ook al. Omdat ek niks verwag het nie, het Helsinki my asem weggeslaan. Die hoofstad van Finland is lewendig, skoon en prettig, en daar is baie om te doen. Helsinki het sommer ‘n hele paar plekke op my lys van Europese gunstelinge gestyg. Lees hier wat jy in dié pragtige stad moet sien, eet en doen.

Verwonder jou aan die Helsinki Katedraal

Die indrukwekkende Helsinki Katedraal is waarskynlik een van die mooiste argitektoniese besienswaardighede in Skandinawië en ‘n belangrike baken in die stad. Dit is tussen 1830 en 1852 gebou as huldeblyk aan tsaar Nicholas I van Rusland, die destydse groothertog van Finland. Tot die onafhanklikwording van Finland in 1917 het dit bekendgestaan as die St. Nicholas Kerk. Vandag word dit die Finse Evangelies-Lutherse Katedraal van die bisdom van Helsinki genoem en word gereeld gebruik as aanbiddingsplek en vir spesiale geleenthede soos konserte en troues.

Die Helsinki Katedraal is een van die plekke in Finland wat die meeste besoek word; daar word geglo dat bykans 400 000 toeriste die beroemde aantrekkingskrag elke jaar besoek. Met sy spierwit mure en pilare, groen koepels en kloktorings en beelde van die twaalf apostels wat groter as lewensgroot is op die dak, is dit maklik die mees Instagrammbare plek in Helsinki. Die katedraal is die hele jaar tussen 09:00 en 18:00 oop en toegang is gratis.

Sit in stilte

In die middel van die middestad op Narinkka Plein is die Kamppi Kapel, ook bekend as die Kapel van Stilte, wat in 2012 voltooi is. Dit is ekumenies en verwelkom almal, ongeag wat jou godsdiens, filosofie of agtergrond is. Daar is egter een vereiste: as jy eers binne is, moet jy doodstil bly. Die hoofdoel van die kapel is om vrede, rus en kalmte te bied vir mense wat wil ontvlug aan die besige, bruisende stad.

Die kapel is ontwerp deur die argitekte Kimmo Lintula, Niko Sirola en Mikko Summanen. Dit het die International Architecture Award gewen en is ‘n belangrike toeristetrekpleister. Ongeveer 300 000 toeriste besoek dit jaarliks. Die buitekant van die 11,5 meter hoë kapel is met dennehoutsparre bedek, die binnemure is van elshout gemaak en die toebehore en binnedeure van eshout. Die hele gebou is klankdig en daar is plek vir 60 mense. Daar is nie gereelde dienste op ‘n Sondag nie, maar af en toe word gebede gedoen. Vir my is die wonderlikste van die Kamppi Kapel dat daar werknemers van die kerk en van die departemente van maatskaplike ontwikkeling en gesondheidsorg in die voorportaal is wanneer die kapel oopmaak. ‘n Mens kan enige dag van die jaar met hulle praat as jy voel jy het hulp nodig, ongeag waar jy vandaan kom. Jy hoef nie ‘n afspraak te maak nie, en alle gesprekke is anoniem en gratis. Toegang tot die kapel is ook heeltemal gratis.

‘n Besoek aan die Kamppi Kapel is ‘n moet, maar pasop – doodse stilte is ‘n vereiste. Geen foto’s mag in die kapel geneem word nie, want selfs die klik van ‘n kamera word as geraas beskou. Dit is waarlik die perfekte plek om te gaan sit en ontspan en die aangename atmosfeer te geniet.

Braai jou eie wors

As jy genoeg van die stad gesien het en gereed is vir middagete, spring op die trem vir ‘n 15 minute lange rit na Cafe Regatta in Töölö. Dit is ‘n helderrooi huisie teen die see wat nie net die beste koffie en die lekkerste koeke en kaneelbolletjies bedien nie, maar jou ook toelaat om jou eie wors op ‘n oop vuur te braai. Dit was beslis die hoogtepunt van my besoek aan Helsinki. Cafe Regatta is teen die water, het ‘n mooi uitsig en ‘n baie ontspanne atmosfeer.

Geniet die kunste

Stap na middagete nog vyf minute verder weg van die stad af tot by die massiewe Sibelius Monument. Die kunstenaar Eila Hiltunen het die monument ter ere van die wêreldbekende komponis Jean Sibelius gebou. Dit is op 7 September 1967 onthul en het sedertdien ‘n gewilde toeristetrekpleister geword. Die meer as 600 staalpype wat aan mekaar gesweis is, lyk soos orrelpype. Daar is ook ‘n borsbeeld van die komponis aan die een kant.

Proe iets nuuts

Smul aan Helsinki se heerlike kos. Die stad bied ‘n fantastiese verskeidenheid vir alle smulpape, van die heerlikste salmsop by die Story Restaurant in die Ou Marksaal tot vars bessies by die kleurvolle stalletjies op die Markplein. Bespreek vooraf ‘n tafel by die Konstan Möljä, ‘n tradisionele Finse buffet-restaurant waar jy die beste Finse kookkuns, insluitend rendiere, kan geniet.

Klik hier om my op Instagram te volg as jy nog van my Helsinki-foto’s wil sien.

LET WEL: Alle inligting en pryse is korrek op die datum van publikasie. Kyk op amptelike webwerwe vir bygewerkte pryse en gebruik ‘n aanlyn omskakelaar vir huidige omskakelings.

Besoek gerus Luzanne se blog hier.

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest