Leesvordering:

Tydkapsules – unieke stemme uit die verlede

Nov 25, 2020

Foto: Gmina Ziębice Facebook

Vir almal wat ‘n belangstelling in kultuurgeskiedenis het, is ‘n tydkapsule ‘n fassinerende konsep. Figuurlik verwys “tydkapsule” na enige ruimte of gebeurtenis wat ‘n mens laat voel of jy in die verlede terugbeweeg het, maar dan is daar ook die letterlike tydkapsule, ‘n houer wat gebruiklik met voorwerpe gevul word wat kenmerkend van hulle tyd is en soms ook ‘n boodskap wat aan onbekende mense in die toekoms gerig word. Dit word dan gewoonlik iewers begrawe of versteek met die doel dat dit in die toekoms ontdek moet word om sodoende ‘n groet uit die hede aan die toekoms oor te dra en mense aan hulle voorgangers te herinner. Sommige kapsules het selfs die verhewe doel om inligting aan argeoloë of historici oor te dra. Die inmessel of begrawe van ‘n tydkapsule het ook al ‘n gewilde tradisie by die hoeksteenlegging van geboue en monumente geword.

Hoewel kosbaarhede  al duisende jare lank begrawe word om dit te bewaar, kom dit voor asof die doelbewuste skepping van ‘n tydkapsule met ‘n versameling alledaagse goedere en boodskappe vir die toekoms ‘n meer onlangse gebruik is wat eers sedert die agttiende eeu voorkom. Die woord “tydkapsule” is die eerste keer in 1938 aangeteken.

Die oudste voorbeeld dateer, sover bekend, van 4 Julie 1795 toe die beroemde Paul Revere en Samuel Adams, wat toe die goewerneur van Massachusetts was, tydens ‘n indrukwekkende seremonie ‘n tydkapsule in die hoeksteen van die Massachusetts State House in Boston ingemessel het. In 1855 is herstelwerk aan die gebou onderneem en toe is dit ontdek. Die destydse bewaringsdeskundiges het besluit om die inhoud wat in lood verpak was, in ‘n koperhouer te herverpak en dit weer weg te lê. In Desember 2014 is die kapsule herontdek toe werkers ‘n waterlek probeer herstel het. Geskiedkundiges het verskil daaroor of dit oopgemaak moet word of nie, maar omdat die waterskade aan daardie deel van die gebou ernstig was, was hulle onseker of die inhoud enigsins nog behoue gebly het en dus is dit tog oopgemaak. Die proses het vyf uur lank geduur omdat daar met groot sorg gewerk is. Tot almal se verligting was die inhoud in ‘n goeie toestand. Dit het onder meer bestaan uit ‘n silwer gedenkplaat, muntstukke (die oudste daarvan is in 1652 gemunt) en koerante. Van die items was in die oorspronklike kapsule, ander is deur die werkspan van 1855 bygevoeg. Alles word tans deur bewaringsdeskundiges gerestoureer.

In Mei vanjaar (2020) is die oudste bekende tydkapsule in Europa gevind. Dit was versteek in die toring van ‘n kerkie in die dorp Ziębice in Pole, en is, soos in die Amerikaanse geval, tydens herstelwerk ontdek. Die kapsule is ook van koper en het munte, boeke en dokumente wat uit die agttiende eeu dateer, bevat. Die toring het koeëlgate in gehad, moontlik van toe die Rooi Leër in 1945 hierdie gebied binnegeval het, maar tog het die kapsule wonderbaarlik behoue gebly. Die dokumentasie daarin bevat onder meer inligting oor mense wat geld vir die kerkbouprojek geskenk het en die bouers wat dit opgerig het. Dit bevestig dat die kapsule daar geplaas is in 1797 toe die kerk opgerig is. In dié tyd was die dorp nog bekend as Münsterberg en was dit nog deel van die Pruisiese koninkryk. By die houer was ook dokumentasie en foto’s van 1902, toe herstelwerk aan die kerk gedoen is. Daar is besluit dat die vonds in die dorpsmuseum uitgestal sal word.

‘n Meer kommerwekkende storie is dié van die tydkapsule wat deur die bemanning van die passasierskip, 50 Years of Victory, geskep is. In 2018 het hulle die noordpool bereik en ‘n metaalsilinder met briewe, gedigte, bierdrupmatjies, kurkproppe van wynbottels, foto’s, ‘n spyskaart en ander eietydse voorwerpe gevul en daar in die ys begrawe. Hulle het gemeen indien die ys ooit eendag smelt, sal mense in die verre toekoms hierdie getuienis van hulle bestaan ontdek. In November 2020 het ‘n paartjie die silinder op ‘n strand aan die noordwestelike punt van Ierland gevind – getuienis van die ontstellende spoed waarteen die poolys tans smelt.

In 2020 is verskeie ander tydkapsules ontdek – ‘n mens hoef net “time capsule found” as soekterme in te tik om meer hieroor te wete te kom.

Ook in Suid-Afrika word tydkapsules ingespan om nuwe tradisies te vestig. By die Hoërskool Monument laat matriekgroepe sedert 1988 byvoorbeeld kapsules met eietydse aandenkings na vir die matrieks wat vyf jaar ná hulle kom. Vanjaar se groep het die 2016-matrieks se kapsule oopgemaak. Dit het onder meer ‘n onder-16 rugbytrui, ‘n revuesambreel, ‘n groentjiekonsertprogram, foto’s van die matrieks, netbal-, rugby- en krieketklere, asook ‘n brief van een van 2016 se matrieks bevat. Op hulle beurt het 2020 se groep weer een vir die matrieks van 2024 gepak.

In 2013, by geleentheid van die 175ste herdenking van die Groot Trek, is mense wat die Geloftefees by die Voortrekkermonument bygewoon het, versoek om boodskappe te skryf wat in ‘n spesiale tydkapsule geplaas is. Die plan is dat dit eers in 2038 oopgemaak en gelees moet word.

AfriForum het ook al soortgelyke aksies onderneem. In Desember 2019 het die Brakpan-tak ter viering van die dorp se honderdste bestaansjaar ‘n tydkapsule op die terrein van die Laerskool Môrewag begrawe. Dit bevat die 29ste November 2019 se uitgawe van die Brakpan Herald. Die publiek, besighede en skole is vooraf versoek om ook items te skenk wat daarin geplaas kon word. Volgens ‘n berig in die Brakpan Herald het dit skoolklere en rekords van Laerskool Môrewag, rekords van Laerskool Dalview, CD’s van kunstenaars wat by die eeufeesvierings opgetree het, pamflette en brosjures van besighede in die omgewing, ‘n Eeufeesjoernaal, hedendaagse munte, ‘n selfoon, ‘n digitale kamera, ‘n polshorlosie, speelgoed, ‘n blikkie bier, ‘n bottel port, ‘n bietjie mampoer en sade ingesluit. Die geskiedenis van AfriForum se Brakpan-tak, vanaf die stigting in 2016 tot 2019, is ook daarby gevoeg. ‘n Groot plastiekdrom is as kapsule ingespan en die gat is baie diep gegrawe om skattejagters af te skrik. Die plan is dat dit oor 50 jaar opgegrawe en oopgemaak moet word.

Wil jy dalk ‘n boodskap vir jou kindskinders of toekomstige geslagte nalaat? Dan is ‘n tydkapsule net die ding. Merk net die plek waar jy dit wegbêre deeglik … of juis eerder nie as jy hulle wil verras!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest