Leesvordering:

Uit en Tuis met Hannah Boshoff

Nov 9, 2017

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat in die buiteland woon of daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Hannah Boshoff (26), tans woonagtig in Nieu-Seeland.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om in die buiteland te gaan woon?

Ek en my gesin kom van Rustenburg in Noordwes af. Ons het ons eie huis besit en gerieflik geleef. My ouers het ons vreeslik aangemoedig om na die buiteland terug te keer met die opsie om te emigreer. Ek het vantevore ’n jaar lank (2010–2011) in New Jersey, Amerika gewoon en gewerk. En dit was wonderlik. So nadat ons werksprobleme op die myne in Rustenburg ondervind het, het ons besluit om tog die geleentheid aan te gryp en na Nieu-Seeland te verhuis.

Dit is boonop baie makliker vir Suid-Afrikaners wat oor ’n kwalifikasie beskik om hierheen te verhuis. Hier is baie dokters, aptekers, bouers, ingenieurs, onderwysers, mensehulpbronbeamptes, tegnici en elektrisiëns wat hier werk. En ons gesin was gelukkig genoeg om op my man se kwalifikasies te kon immigreer.

Was dit ’n groot aanpassing?

Vir baie mense wat nog nooit gereis, gevlieg of in ’n vreemde land was nie, sal dit moeiliker wees. Maar Nieu-Seeland se paaie en padaanwysings is dieselfde; al wat verskil is dat hier nie slaggate is nie. Die paaie en die sypaadjies word redelik goed in stand gehou. Dit voel nie vir my of ek in ’n ander land is nie, behalwe dat dit skoner is, die lug is helder, en die parke, paaie, en selfs die stad is baie skoon. Die winkels bederf ons Suid-Afrikaners deur voorsiening te maak om Suid-Afrikaanse produkte aan te hou en aan ons te verkoop, soos byvoorbeeld blatjang en Aromat. Ons eet ook maar min of meer dieselfde as in SA. So dit gaan maar oor hoe jy dit hanteer en hoe jy as mens dit vir jouself hier maak. Ons is gemaklik en gelukkig, en ons kinders pas self maklik aan.

Vertel ons meer van jou gesin?

Ons is ’n gesin van vier. My man, Vincent (29), werk in Auckland by ’n firma met die naam StrechSence. Hy geniet die mense wat saam hom werk en kom gelukkiger huis toe. Hy doen tegniese instrumentasiewerk daar. In Suid-Afrika was ek ’n laboratoriumbestuurder, maar het nog nie hier begin werk nie. Met ons aankoms het ek gehelp om huis te soek, kinders by skole in te skryf, ’n huisdokter en tandarts op te spoor; my eerste drie weke was dus meer om ons gesin te help om orals in te pas. Ek kyk wel tans uit vir bestuursposte om ook weer voltyds te begin werk.

Ons het twee kinders, naamlik Jonathan (5) en Vinique (16 maande). Jonathan gaan reeds skool al hy is nou soos hulle dit hier noem in “Year One”. Hier begin kinders se skoolloopbaan al op vyf jaar. Hy is by Howick Primary ingeskryf en geniet dit baie. Hy is mal oor sy nuwe juffrou, Miss Blest, en leer tans om Engelse woorde te verken en driewoordsinne te lees. Dis ongelooflik hoe vinnig hy aanpas en leer. Vinique bly wel nog by my; kleuterskool is ongelooflik duur omdat die staat verkies dat kinders eers op die ouderdom van drie jaar kleuterskool toe moet gaan. Ek en sy gaan stap graag in die oggende op die strand en gaan speel in die parkies. Sy is baie lief vir die natuur en om nuwe dinge te verken. Oor naweke sal die kinders saam Vincent op die strand gaan stap en krappies en ander lewende diertjies verken.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland. Kom julle soms bymekaar?

Hier is ongelooflike baie Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland. Om elke hoek en draai leer ’n mens nuwe mense ken en maak dan maar vriende. Almal kom van SA, maar ook wel van verskillende dorpe. So hoewel mense verskil, kuier ons graag, maak ’n potjie, braai ’n skaaptjoppie, maak malvapoeding of enige iets waarvoor ons lus is. Ons luister graag na Afrikaanse musiek, en die kinders kyk Lollos saam. Dis so lekker; ons gesin is baie bevoorreg om goeie mense te kon leer ken wat mettertyd ons nuwe huisvriende geword het.

Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?

In Nieu-Seeland kan jy meubels of enige iets anders wat mense op hul sypaadjies uitpak, optel en vat. Dit was so vreemd. En is steeds. Toe ons hier aangekom het, was ons ’n eetstoeltjie kort vir ons baba. Ons het egter op dié manier wel ’n stoeltjie opgespoor! Ons was so vinnig om dit in te laai en dit het net vreemd gevoel.

En natuurlik is dit uiters vreemd om vroue teen 21:00 alleen te sien loop, oefen of met hul kinders te stap. Kinders tussen die ouderdom van agt en twaalf verbaas my as hulle alleen huis toe loop in die middae ná skool. Hulle stap eenvoudig rustig alleen huis toe.

Die ander ding wat ook nogal vreemd is, is die gratis vrugte wat jy in die supermarkte kry. Terwyl jy inkopies doen, mag jou kinders vir hulle vrugte neem om aan te peusel. Jonathan dink dis elke week Kersfees; hy kan nie wag om ’n piesang te vat en op sy tyd te eet nie.

Kry julle kans om te reis?

Ja natuurlik, dis ongelooflik wat Nieu-Seeland bied, en oor langnaweke gaan ’n mens weg en kamp. Aangesien ons op die Noord-eiland bly, wil ons eers dié omgewing verken voordat ons na die Suid-eiland reis. Ons oorweeg ook om die Suid-eiland eerder in die winter te besoek, omdat dit dan daar sneeu. Ons woon ook slegs ’n blok van die strand af, so om ons is baie aktiwiteite om saam die kinders te doen, soos byvoorbeeld die akwarium, dieretuin, plaasmarkte en dieremarkte.

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Almal dink dit gaan oor vryheid en skoon en mooi lug, maar as ek my eie opinie moet gee dink ek dit gaan oor die respek wat mense vir mekaar het. Ons kom gemakliker hier met mense oor die weg, mense neem mekaar in ag. Kiwi’s is vreeslik behulpsaam, help graag en laat ’n mens tuis voel. En natuurlik het ons meer tyd saam as man en vrou, en vir ons kinders. Die lewe is nie so ’n gejaag soos in SA nie. Dis ’n gemaklike en baie rustiger leefstyl.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Ons vind van die goed duurder en ander goed weer goedkoper. Maar ons probeer nie om dollars met die rand te vergelyk nie, want ons verdien dollars. In Nieu-Seeland word jy ook weekliks betaal en nie maandeliks nie.

Behuising en kleuterskool is ongelooflik duur, terwyl brandstof en voertuie weer baie goedkoop is.

Die Nieu-Seelandse regering voorsien ook goed soos onderwys (skool- en universiteitskostes) en medies wat nie uit ons sakke kom nie, so ons uitgawes is minder.

Wat is die grootste verskil van julle lewe in Suid-Afrika?

Vandat ons hier is, is ons glad nie bekommerd oor wat die volgende dag gaan of kan gebeur nie. Ons lewe is baie rustiger en dit voel nie eers asof ons op ’n eiland bly nie.

Het julle nog kontak met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?

Ons het met alles oorgekom Nieu-Seeland toe, selfs met een van daardie groot houers. Ons het ’n hele nuwe lewe vir ons hier geskep en ons pas goed aan. Ons sal nooit weer permanent in Suid-Afrika gaan woon nie, maar dalk wel daar vakansie gaan hou. Ons behou kontak met ons familie en vriende in Suid-Afrika, en dan het ons ook kontak met ander Suid-Afrikaners wat my of Vincent gereeld bel om te hoor hoe die lewe hier is. Ek het selfs ’n blog begin met die naam The World Of Hannah Boshoff om ander Suid-Afrikaners met die immigrasieproses te help en deel sodoende ons ervarings met hulle. Ek laai ook gereeld video’s op oor hoe mooi en lekker dit hier is.

Gaan “like” gerus Hannah se Facebook-blad by https://www.facebook.com/theworldofhannah/

Meer oor die outeur

Hannah Boshoff

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest