Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Bury St Edmunds

Jan 18, 2024

Uit en tuis is die rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Marcel de Beer, wat in Bury St Edmunds woon.

Hallo, Marcel! Julle woon al 20 jaar in die buiteland. Waar woon julle en waarom het julle besluit om daar te gaan woon?

Ons woon in ’n pragtige klein dorpie genaamd Bury St Edmunds in die Verenigde Koningryk. Ek het ongeveer twintig jaar gelede besluit dat ek die wêreld wil sien. Ek het hierheen gekom met ’n werkvakansievisum en het begin werk in piekelfabriek van alle plekke! Daardie tyd was ek nog jonk en vol energie om die wêreld te kan sien en dinge aan te pak.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek het my Poolse vrou, Karolina, by die werk ontmoet. Ons is al 17 jaar getroud. Ons het ’n pragtige vyfjarige dogtertjie, Hannah. Sy is tans in jaar 1 by haar skool.

Vertel ons watter tipe werk julle doen en hoe die werkskultuur van dié in Suid-Afrika verskil.

Ek is ’n gesondheids-en-veiligheidsbestuurder en my vrou ’n tandheelkundige verpleegkundige. Die werkskultuur hier verskil nie veel van die werkskultuur in Suid-Afrika nie. Ek moet bieg dat die voordele hier baie beter is as in Suid-Afrika: Pensioen en privaat medies en dies meer is alles goed. Die werksomstandighede is baie buigsaam; ek kan soms van die huis af werk as dit nodig is.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Verenigde Koninkryk. Kom julle soms bymekaar?

Natuurlik! Tot en met so ’n paar jaar gelede voor Covid het ons saam in openbare parke gebraai en lekker gekuier. Ek sien baie geleenthede aanlyn, maar soms is dit te ver om te reis. Moenie internasionale rugby vergeet nie; daar was al ’n paar geleenthede by Twickenham Rugby Stadium met Suid-Afrikaanse vriende om die Bokke te ondersteun.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Definitief die weer en kos! Want waar kry jy vier seisoene in een dag? Dit is eers warm, dan reën dit, of dit sneeu!

Steak het in die begin baie soos plastiek geproe, maar ná ’n paar maande raak jy darem aan die smaak gewoond.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Die leefwyse is nie baie verskillend van dié in Suid-Afrika nie. Jy werk maar gedurende die week en laai kinders by skole af of op. Of jy doen jou weeklikse inkopies soos normaalweg. Sommige items of dienste is duur.

Ons moet elke jaar ons voertuie vat vir ’n padwaardigheidstoets. As die voertuig nie slaag nie, mag jy nie dié voertuig bestuur nie. Alles moet herstel word voordat die voertuig kan slaag.

Biltong is duur as jy dit hier koop. Ek het maar vir my ’n biltongkas aangeskaf en self begin biltong, droëwors en boerewors maak.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Sjoe, dis een kolossale vraag met ’n lys wat so lank soos my arm is!  Kan ek die Bosveld, die warm son, Suid-Afrika se lekker kos en familie wat nog daar woon in my tas pak? Daar is te veel om te noem, om eerlik te wees.

Oorlewingslysie vir ’n Britse winter:

  • Warm klere, windskermskraper vir die ryp op jou voertuig in die oggend, ’n tuimeldroër om jou klere droog te kry en ’n paar Wellington-stewels, want soms is dit net modder en reën!
  • ’n Lekker warm baadjie vir braai in die winter. Hier kruip almal gedurende die winter in die huis weg en die braaiers kom net op die warmer dae uit!

Enige lesse wat julle geleer het?

As jy beplan om na die buiteland toe te gaan, maak seker dat jy op die uitkyk is vir ’n Facebook-blad waar ander Suid-Afrikaners saamkuier om mekaar gereeld te help. Dit is altyd ’n pluspunt om te weet dat daar ander Suid-Afrikaners is wat byvoorbeeld weet waar om winskopies te kry of waar om jou voertuig te laat diens.

As jy hulp benodig, vra jou vraag op dié Facebook-blad en ander Suid-Afrikaners sal jou help of ’n privaat boodskap aan jou stuur.

Voorskool- (dus kleuterskool-)kostes is baie duur. Ons lag altyd en vergelyk die kostes wat ons aan kleuterskoolfooie betaal met ons verband. As jy en jou familie alleen aan dié kant sonder enige ander familie is, kan jy soms gedurende die skoolvakansies sukkel om iemand te kry om jou kind op te pas. Bring ouma en oupa saam as jy kan!

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante of dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Ons het gereelde markdae op Woensdae en Saterdae, waar daar soms ’n Suid Afrikaanse stalletjie is met heerlik Suid-Afrikaanse produkte soos biltong, droëwors en boerewors. Maar jy leer gou dat as jy self van die goedjies maak; dan spaar jy sakke vol geld.

Hier is ook baie aanlyn Suid-Afrikaanse winkels waar jy bykans enige Suid-Afrikaanse ding kan koop wat jou hart begeer, van driepootpotjies tot hout vir braai. Maar glo my: Die pryse sal jou oë laat rek.

Watter interessanthede het jy van die VK ontdek wat jy nie vantevore geweet het nie?

Die land het ook maar sy eie mooi natuurskoon en as jy die tyd het om die land te verken, sal jy ’n paar plekke kry wat jou sal bekoor. Cornwall is baie mooi en is definitief ’n plek wat ek weer en weer wil verken.

Die geskiedenis van die VK is ook baie interessant as jy teruggaan na tyd voor die konings, naamlik die Romeine en dan die Vikings. Die Romeinse tydperk in die VK het van 55 vC tot 410 nC geduur!

Die Viking-era in die VK het in 793 nC begin toe hulle die klooster van Lindisfarne in Northumbrië aangeval het.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest