Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Dubai

Feb 26, 2024

Uit en tuis is die rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Johnny en Zonja Bray, wat in Dubai woon.

Hallo Johnny, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Dubai te gaan woon?

Ek is van Middelburg Mpumalanga, maar het direk ná skool begin rondtrek vir werk. Ellisras, Durban, Kaapstad, ens. Ek het ook in die buiteland gewerk. So het ek in Vereeniging opgeëindig, en ’n kuierplek in Meyerton oop gemaak. Zonja is van Meyerton, en was ’n  somatoloog in Johannesburg. Ons het in Meyerton ontmoet, en die res is ’n baie kleurvolle geskiedenis. 

Vandaar het die trekkery nie gestop nie. Ons is weer Ellisras toe, Secunda toe en Pretoria toe, en in 2014 moes ek Mosambiek toe en my vrou en twee kinders wat toe nog klein was, alleen agterlaat in Pretoria. Ek is vandaar Katar toe, en ná ’n lang gesukkel was ons gesin weer bymekaar in Doha, Katar. Ek het ’n beter aanbod in Dubai gekry in 2017, en ons het besluit die trekkery is nou klaar, en ons het Dubai “huis” gemaak.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Ons albei se ouers het die laaste paar jaar, behalwe gedurende Covid, elke jaar hier kom kuier. Ons was in 2019 laas in Suid-Afrika vir ’n kuier, maar ons gaan die jaar weer Suid-Afrika toe en ons kan nie wag nie. Varswatervisvang, diere in die wildtuin gaan kyk, en net gesellig wees saam met goeie ou vriende en familie.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Dubai. Kom julle soms bymekaar?

Hier is geweldig baie Suid-Afrikaners. Ons loop in winkelsentrums of sit in ’n restaurant, dan hoor ons die Afrikaans om ons. Ons spot soms dat ons met ons vakansie minder Suid-Afrikaners in Suid-Afrika gaan raakloop. Ons het baie Suid-Afrikaners hier ontmoet en kom geweldig goed oor die weg. Ons reël gereeld ’n braai by iemand se huis of in die woestyn, of gaan kamp in die berge of op die strand. Maar ek moet ook mense behoed, nie alles is sonskyn en rose nie. 

Vertel ons ’n bietjie meer oor julle werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het julle meer tyd om te ontspan/reis?

Ons moet regtig tyd maak vir ontspan, want as jy dit nie doelbewus doen nie, sal jy nooit ophou werk nie. Ek konsulteer op die twee lughawens in Dubai, en Zonja werk by ’n Britse IB-skool. Beide ons kinders is in ’n Amerikaanse skool. Op ’n daaglikse basis is ons nie binne 30 km van mekaar totdat ons in die middae by die huis kom nie. Dan is daar dae met die kinders se sportoefening, funksies wat bygewoon moet word, ensovoorts … Dit kan regtig met tye oorweldigend raak, maar met bietjie goeie beplanning maak ons dit werk, en ons is gelukkig hier.

Johnny: Ek het so 18 maande terug Bravo Braai begin, wat houtskool, sekelboshout en ander braaibehore verskaf, YouTube-braaivideos maak, en ook braai- en kampbyeenkomste reël. Bravo Braai het die voorreg gehad om in 2023 vir Jo Black Dubai toe te bring vir ’n vertoning, en in Mei 2024 bring Bravo Braai vir Jo Black, Refentse en Bobby van Jaarsveld vir die Afrikaanse skouspel van die jaar.

So met alles bogenoemd aan die gang is dinge maar bedrywig, maar ons geniet dit steeds en maak die beste van elke oomblik.

Is daar enige Suid-Afrikaanse winkels naby julle?

Hier is ’n paar Suid-Afrikaanse winkels wat produkte van die RSA af invoer en hier verkoop, amper iets soos klein supermarkies, maar waar ons bly is niks naby nie. Ons is so 40 km uit die stad uit, maar ons het dit gekies vir die stilte en rustigheid bo die gejaag en geraas van die stad. Die een voordeel van Dubai is dat jy enigiets by jou kan laat aflewer. Sommige produkte vat 15 minute, vir ander kan jy ’n dag of twee wag.

Is daar enige professionele diensverskaffers (soos bv. dokters, prokureurs, tandartse) wat in Afrikaans julle kan help naby waar julle woon?

Hier is Suid-Afrikaanse dokters en tandartse, en vele ander professies ook, maar al die instansies is Engels of Arabies. Maar soos ons Suid-Afrikaners is, praat ons ons taal as ons mekaar raakloop, of dit nou in ’n spreekkamer, by die fliek of in die straat is.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir julle die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir julle in die buiteland?

Johnny: Ek het so baie gereis vir werk dat dit my regtig nie gepla het nie. Dit is vir my vreemd om nou vir amper sewe jaar in dieselfde plek te wees. So ek gaan vra dat Zonja hierdie een antwoord.

Zonja: Dit was vir my ’n baie groot aanpassing, veral sonder familie. Ek is baie familievas. Vir die eerste paar maande was ek baie hartseer en in Katar was daar nie veel van Suid-Afrika nie. Alles was anders, die weer was veral ’n groot aanpassing. As dit nie was vir die veiligheid van ons kinders nie, het ek dalk teruggetrek Suid-Afrika toe. Dubai was makliker om aan te pas, dis baie meer verwesterd. Hier is baie meer van Suid-Afrika. Ons het sokkies, geliefde Suid-Afrikaanse produkte en baie Afrikaanse mense. Die somer hier is iets om aan gewoond te raak, maar ná so twee somers hier is dit nie meer so erg nie, jy klimatiseer. Suid-Afrikaners is sterk, ons blom waar ons geplant word.

Is die braaivleis daar duurder as wat dit is in Suid-Afrika?

Die meeste vleis word ingevoer van Amerika, Australië, Nieu-Seeland, Japan, Brasilië, Indië, Pakistan, en natuurlik Suid-Afrika. Oor die algemeen is dit heelwat duurder as wat jy in Suid-Afrika sal betaal, maar met tyd leer jy die plekke ken en jy weet waar om die beste vleis teen die beste prys te kry. Al die verskillende lande se vleise proe ook anders, en jy moet maar toets om te bepaal waarvan jy hou. (Suid-Afrika se vleis bly die beste.)

Praat julle nog Afrikaans?

Behalwe by die werk, praat ons heeltyd Afrikaans. Ons kinders was baie klein toe hulle Suid-Afrika verlaat het, maar hulle was vlot Afrikaans. Vandag praat hulle net Engels, al praat ons Afrikaans met hulle. Dit is een hartseer punt vir ons, maar ten minste verstaan hulle Die Taal.

Hoe verskil die kossoorte in Dubai van dié in Suid-Afrika?

Die kos in Dubai is internasionaal. Maak ’n toepassing op jou foon oop en bestel kos eie aan enige land in die wêreld, en dit is by jou voordeur in 30 minute. Die Arabiese kosse is baie smaaklik. Hulle hou van baie kruie gebruik, en hulle nageregte is die soetste wat ons nog gevind het. Maar bygesê, ons raak gou verveeld daarmee en gaan elke keer terug na goeie tuisgemaakte Suid-Afrikaanse kos toe, en ons braai baie! Steak, braaibroodjies en aartappelslaai.

Wat is julle gunstelingherinnering van Suid-Afrika?

Johnny: Vir my is die varswaterhengel en 4×4-roetes ry saam met familie en vriende die beste herinneringe. En ook net daai inval by iemand se huis vir koffie, sonder uitnodiging – dit gebeur nie hier nie. Om plekke te besoek soos die Voortrekkermonument, Kimberley se gat, Magersfontein, ens. Ons mis die geskiedkundige plekke baie. Maar dit wat ek die meeste mis, is die mense.

Zonja: Ek verlang ook na al die goed wat Johnny hier bo noem, maar vir my is dit my familie en ou pelle wat ek die meeste mis. Ek verlang na vier seisoene, kosmos langs die pad en Jakarandabome in Pretoria se strate.

Wat beteken jou Afrikaner-erfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Zonja: Ons hou by ons Afrikaanse tradisionele kosse, die kinders geniet ’n lekker braai. Ons sokkie graag by die huis en die kinders geniet dit om in te val en saam te dans. Godsdiens is deel van ons alledaagse lewe, iets wat vir ons baie belangrik is.


Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Melbourne

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest