Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Kanada

Des 12, 2023

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Magdel Jansen van Vuuren wat in Kanada woon.

Hallo, Magdel, van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ons is oorspronklik van die warm Limpopo-provinsie en het op ’n plaas gewoon net-net buitekant die dorpie Marble Hall.

Ons oorspronklike motivering om hierheen te kom was veiligheid, ons almal weet hoe die boere in Suid-Afrika se lewens in gedrang is.

Vertel ons meer van jou gesin.

My gesin bestaan uit ek, my man en ons dogtertjie van 20 maande jonk. My man is ’n boer hier in Kanada. Ons hou baie daarvan om tyd saam deur te bring, Vrydagaand fliek te kyk en ’n “krismisbed” voor die televisie te maak. Ons hou van die natuur en om die meeste van ons naweke buite deur te bring – ’n staproete, ’n braai saam met vriende of selfs om net ’n oggendkoffie saam op die stoep te geniet.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Kanada verskil van dié in Suid-Afrika.

My man boer vir ’n aartappelplaas, hulle spesialiseer in aartappelsaad. Sy werkgewer en dié se gesin is Duitsers, so dit is verskriklik lekker om so af en toe ’n paar bekende woorde so te hoor. Hier is ook verskriklik baie Duitsers in Kanada en ons is redelik omring deur hulle. Die Kanadese kultuur is anders, ek dink nie daar is ’n beter woord om te kan gebruik as “anders” nie. Hulle hou daarvan om verskoning te vra vir enigiets … vreemd, ek weet. Dinge hier is ook baie rustiger as in SA, hulle glo in “môre is nog ’n dag.” Daar is geen haas nie, wat my so bietjie frustreer – dit voel asof daar nie rigting is nie.

Is daar enige professionele diensverskaffers (soos bv. dokters, prokureurs, tandartse) wat jou in Afrikaans kan help naby waar jy woon?

My dogtertjie se pediater is toevallig die seun van ons huisdokter in SA, so ja, hy is Afrikaans. Dit is al.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste ding om aan gewoond te raak en die grootste aanpassing in die buiteland?

Die vreemdste ding om aan gewoond te raak, sou ek sê, is as jy by die verkeerslig staan en jy wil regs draai, maar die lig is rooi. Dan mag jy steeds draai as dit veilig is.

Die grootste aanpassing sal wees om aan die regterkant van die pad te ry, ek vergeet partykeer nog steeds om links in te klim.

Jy het genoem dat jy een kind het, hoe het sy aangepas in die nuwe land?

My dogtertjie is nog klein – 20 maande jonk. Sy het baie goed aangepas. ’n Groot aanpassing vir haar was hoe laat dit donker word en hoe vroeg dit lig word, en andersom in die winter.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika en wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Ek mis my familie natuurlik, ek mis petroljoggies (om in temperature van -20° C petrol in jou kar te gooi raak KOUD), ek mis dit om 500 km te ry en deur drie tot vier provinsies te ry. Ek mis Afrikaans praat in die supermark en om elke Sondag ná kerk die hele dorp in SPAR raak te loop.

Ek wens ek het meer Afrikaanse boeke ingepak, ek wens ek het al my proteadekor ingepak, en ek wens ek het al my driepootswartpotjies ingepak.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Dit verskil baie. Die lewenskoste in Kanada is definitief duurder as in SA, maar as jy Kanadese dollars verdien is dit beter. Die mense hier is baie meer gesondheidsbewus as in SA. Al die winkels het produkte met meer as twee of drie opsies, soos byvoorbeeld organiese produkte.

Watter interessanthede het jy ontdek van Kanada waar jy woon, wat jy nie vantevore geweet het nie?  

  • Almal in Kanada is allergies vir iets, ek weet nie hoekom nie.
  • Die belasting in sekere provinsies is regtig baie hoog, en inwoners betaal meer as een soort belasting.
  • Al is dit baie koud, sneeu dit nie noodwendig nie.

Enige lesse wat julle geleer het?

Ek het geleer om geduldig te wees, en elke oomblik in te neem.

Wat beteken jou Afrikaanse herkoms vir jou?

My Afrikaanse herkoms is BAIE belangrik vir my, omdat ons nie eendag in Kanada wil aftree nie. Ons praat Afrikaans in die huis en my dogtertjie word aan Afrikaanse woorde, boeke en stories blootgestel.

Ons vier ook al die Suid-Afrikaanse vakansiedae, ons glo steeds in ons tradisies wat ons gedoen het, en vier dit ook sover moontlik. Ons eet regte boerekos op Sondae en pannekoek as dit reën. Ons maak ons eie boerewors en braai elke naweek as dit moontlik is.

Ons kyk Afrikaanse flieks en kinderstories op AfriForumTV (baie dankie, julle!)

Ek het ’n paar Afrikaanse boekies oorgebring vir my dogtertjie wat ek gebruik om vir haar kleure, woorde, vorms, klanke en diere te leer.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

As daar enigiemand is wat hierdie lees en dink hulle wil ook hierheen kom – reik uit na ons toe, ons almal in Kanada help met groot liefde en ons is opgewonde om die emigrasieproses te deel.

Ek wil baie dankie sê aan AfriForum, vir hul hulpbronne en dat hulle soveel meer doen vir nie net ons mense in Suid-Afrika nie, maar vir ons hier in die buiteland.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest