Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Noord-Ciprus

Feb 14, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met DM de Kock van Komatipoort wat tans skoolhou in Noord-Ciprus. Hy vertel ons van dié paradys met die blou warm water en spierwit strande wat hy nou huis noem.


Waar in die wêreld woon jy en vir hoe lank?

Ek bly aan die Turkse kant van Ciprus (Noord-Ciprus). Ek het September hierheen getrek en het ’n tweejaarkontrak by die skool waar ek werk.


Jy gee tans skool by The English School of Kyrenia, hoe verskil die skoolsisteem in Noord-Syprus van die skoolsisteem in Suid-Afrika?

Dis totaal en al anders. Die Europese sisteem is baie minder assesseringsgedrewe en daar word meer onderskei tussen elke student se individuele sterkpunte en fokusareas. Dit bied ’n minder admin-intensiewe werksplek in terme van papierwerk, maar daar is baie meer aktiewe betrokkenheid in elke kind se persoonlike ontwikkeling. Ek verkies dit, want daar word nie net geassesseer vir die doel om te assesseer nie, maar elke aktiwiteit het ’n doel. Met dit gesê, ervaar ek dat die kinders in die Suid-Afrikaanse skoolsisteem heelwat meer gevorderd is, moontlik omdat hulle alreeds hierdie assesseringsgedrewe sisteem gewoond is. Noem ’n toets vir die kinders hier en sewe van hulle kap om, drie bel hulle ouers en die res begin huil.


Wat is ’n interessante tradisie in Noord-Ciprus?

Die kos is definitief ’n tradisie op sy eie. Alles gaan oor kos, en dit laat my sommer tuis voel. Mense nooi jou oor vir koffie – dis ’n kodewoord vir ’n 7-gang maaltyd – en die verskeidenheid kosse, gepaard met Turkse tee en koffie, tuisgemaakte nageregte en tradisionele drank (Raki), herinner my baie aan ’n familiebraai terug in Suid-Afrika. Tydens hierdie maaltye is dit nie ongewoon om jou Turkse koffiekoppie te laat “lees” nie, gewoonlik deur die vroue wat jou toekoms vir jou wil vertel. Hulle brand ook ’n olyftak en blaas die rook oor jou vir voorspoed. ’n Baie prominente simbool is die Turkse Evil Eye (Nazar Boncuk) wat orals in restaurante en huise gevind kan word. Die doel van die teken is om enige slegte wense van ander mense (veral jaloesie) af te weer.

Wat doen jy vir ontspanning in Noord-Ciprus?

Dit is werklik ’n paradys, met die blouste water en warm, spierwit strande, so julle sal my die grootste deel van die somer op die strand kry. Ek skubaduik ook graag, veral hier waar daar nie te veel haaie is nie. Die berge is ook ideaal vir bergklim en staproetes.
Ná ’n lang week is dit so lekker om na die spa toe te gaan om ’n hamam te kry. ’n Hamam is ’n tradisionele Turkse bad waar iemand jou letterlik bad (ek belowe dit is nie so vreemd soos wat dit klink nie). Die eiland is onsettend ryk aan geskiedenis, met argitektuur van die vroeë Lusignan- en Ottoman-tydperk in die 1100’s, so daar is ongelooflik baie kastele en ander besienswaardighede om te besoek. Lees gerus meer oor die geskiedenis van Ciprus, want ek voel bitter min mense weet van die geskiedenis op hierdie eiland.

Is daar enige interessante disse wat jy geleer het om te maak daar?

Makarna Bulli is ’n heel eenvoudige en baie tradisionele pastadis wat net verg dat jy die pasta kook in water waarin die hoender gekook was, so dis lekker maklik. ’n Ander dis wat ek geniet (maar eerlikwaar nie weet hoe om te maak nie) is Lahmascun, wat basies ’n gevulde pannekoek is met allerhande lekker vleis en groente binne-in.

Is dit duur om daar te woon?

Dit is baie soortgelyk aan Suid-Afrikaanse pryse, met die Turkse Lire en die Rand min of meer dieselfde waarde. Die meeste mense wat hier bly en gerieflik leef, verdien Britse Ponde.

Wat was die grootste aanpassing?

Die taalgrense. Alhoewel mense so vriendelik en behulpsaam is, is dit vir my moeilik om in ’n geselskap te wees en nie te verstaan wat ander mense sê nie. ’n Groot aanpassing vir my was ook om die konflik tussen Noord- en Suid-Ciprus te verstaan. Die politiese klimaat waarin Suid-Afrikaners grootword is baie gefokus (nou veral) op gelykheid en regstellende aksie vir alle mense. Hier, aan die ander kant, is daar baie onopgeloste konflik van die 1970’s wat maak dat die Griekse en Turke nie langs dieselfde vuur kan sit nie. Persoonlik het ek nie eers geweet van die onrus wat hier gebeur het nie en dis skrikwekkend dat meeste mense nie weet daarvan nie. Die meeste mense weet nie eens dat Ciprus aan twee verskillende groepe behoort nie.

As jy terug kon gaan in tyd, wat sou jy nog in jou tas gepak het voordat jy Suid-Afrika verlaat het?

BAIE BAIE BAIE rooibostee en beskuit!

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Singapoer

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest