Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Phuket

Apr 19, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het.  Hierdie week gesels ons met Sulize Koekemoer wat in “The land of smiles” woon, sy vertel ons bietjie meer van haar avonture in die buiteland en hoe  sy mamma-kos maak as die verlange te veel raak.

Hallo Sulize, vertel ons bietjie meer oor waar in die wêreld jy woon en hoekom juis daar?

Ek bly hier in Thailand op die pragtige eiland Phuket. Nadat ek in 2019 my onderwysstudies voltooi het, het ek geweet ek sal graag eers wil reis om plekke te verken. Ek het geen definitiewe plan gehad nie. Alles het so vinnig gebeur, ek onthou dit so goed soos gister – ’n vriendin het ’n familielid wat as hoof aangestel is in Phuket en ons het op die manier kontak gemaak. Die onderhoud het voor Kersfees 2019 plaasgevind en twee weke later het ek en twee van my vriendinne saam met wie ek gestudeer het Phuket toe gevlieg om te gaan onderwys gee. Ons het nie twee keer gedink nie, dit het net reg gevoel.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Die grootste aanpassing was die taal en die kos. Ek kom van ’n egte Afrikaanse dorp af, waar ons gewoond is aan boerekos en braaivleis. Thaise kos is heelwat anders as Suid-Afrikaanse kos – baie rys en sop en natuurlik baie brandrissies! ’n Mens raak gou gewoond en slim ná twee jaar, jy weet presies waar om kos te kry wat soortgelyk is aan jou ma s’n.  Om te kommunikeer was ’n aanpassing, die meeste mense hier praat Thai. Gelukkig is dit ’n toeristebestemming so in baie dele is mense gewoond daaraan om Engels te praat. Ná twee jaar kan ek steeds nie Thai praat nie, maar ek het darem die basiese woorde onder die knie. Maar hulle noem nie Thailand verniet “The land of smiles” nie, almal is vriendelik en behulpsaam.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby jou wat jy besoek vir trooskos, soos biltong?

Daar is nie eg Suid-Afrikaanse winkels naby nie, maar ’n mens het wel baie opsies. Biltong en melktert kan gekoop word by Shanti’s Lodge in die Chalong-area. Daar is ook redelik baie plekke waar jy biltong kan bestel van Bangkok af, een waarvan ek weet is Derick the Biltong Man. Op Sondae, as jy lus is vir lekker Sondagkos, is Thong Dee in Kathu perfek. Aartappels, drie soorte vleis, groente en ’n Engelse Yorkshire-poeding. By Really Good Deli kan jy lekker boerewors koop vir ’n boereworsrol. As daar iets is wat jy rerig wil hê kan jy dit self maak, die meeste produkte is hier beskikbaar – ek en my huismaat het al selfs lekker beskuit gemaak.

Vertel ons bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan?

Ek is ’n laerskooljuffrou (mamma) vir 21 kinders. Hulle is almal tussen ses en sewe jaar oud, hier word dit vlak P1 genoem. My oggende begin al vroeg, om 06:00, met ’n lekker koppie koffie en die sonsopkoms. Daarna kry ek my skoolgoed reg sodat ek 07:45 kan inklok by die skool. Die vlak waarop ek werk is almal Suid-Afrikaners en vriendinne, so ons sal dalk nog ’n koffie later kry om op te vang.

Ek kom normaalweg ná 17:00 by die huis. Ek bly oorkant ’n park, so afhangende van die dag se gebeure sal ek gaan vir ’n lekker drafsessie om die park, ’n harde gimsessie of sommer net strand toe gaan om na die sonsondergang te kyk. Uiteet en kos bestel is vreeslik maklik en gerieflik, so daar is baie opsies, dit hang af waarvoor jy lus is.

Ek en my kamermaat is beide lief vir kosmaak, ons sal soms ook net gou iets aanmekaar slaan. Maandae tot Vrydae is redelik normaal en om 22:00 is ek in my bed.

Oor naweke is wanneer die verrigtinge gebeur. ’n Strandbraai saam met al ons vriende, na verskillende eilande toe gaan of net lekker rondry op ons “poegies” op soek na nuwe plekke en strande om te verken.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses? Is jy hoofsaaklik vriende met mense van Suid-Afrika of het jy vriende gemaak van ander kulture? 

Ons is drie vriendinne wat oorspronklik saam hiernatoe gekom het, maar vroeër hierdie jaar het nog twee van ons vriendinne by ons aangesluit. Om vriende te maak is redelik maklik, by ons skool is heelwat Suid-Afrikaners wat vriende geword het. Ons het baie ander Suid-Afrikaners ook regoor die eiland ontmoet en vriendskappe gevorm, maar ons het heelwat vriende van alle kulture.

Dit is lekker om te sien hoe ander kulture is en wat jy by hulle kan leer, die tipe kos wat hulle eet en sienings oor dinge. Ek sal omtrent sê ons is ’n reënboogvriendekring, want dit bestaan uit mense van reg oor die wêreld, dit hou dinge interessant.

Ek is dankbaar vir al my vriende hier, hulle is my Phuket-familie! Maar een ding moet ek sê, nog nooit het iemand gesê hulle het nie ’n vriendelike Suid-Afrikaner ontmoet nie en dit maak my hart so bly en trots!

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Phuket met die van Suid-Afrika?

Die verblyfopsies is heelwat goedkoper, baie mense verkies om in ’n “condo” te bly. Dit is ’n  moderne klein eenslaapkamerwoonstel wat baie mense gerieflik en maklik vind. Dit is klaar gemubileer met ’n bank, ’n bed, kombuisgeriewe, elektroniese apparate om kos gaar te maak en ’n lekker groot swembad. As jy gelukkig is om ’n kamermaat te hê kan jy na lekker groot twee- of drieslaapkamerhuise kyk, pryse is billik in vergelyking met jou salaris.

Ek het al drie keer getrek – elke keer na ’n gemeubeleerde huis, want dit is altyd onvoorspelbaar hoe lank jy gaan bly. Water is baie goedkoop, dit is omtrent R70 per maand.

Elektrisiteitskoste hang maar af hoe baie jy jou lugversorging gebruik (wat omtrent heeltyd is) met die vreeslike hitte. Om verblyf te kry is ’n vinnige proses, en daar is altyd baie goedkoop hotelle en hostels om in te bly.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My familie en my vriende. Om op ’n Saterdagaand die vure aan te steek, Afrikaanse musiek te luister en ’n lekker glas wyn te geniet. Phuket is pragtig en lekker, maar dis nie Suid-Afrikaanse mense met gees nie. Ek mis dit om agter op die bakkie te ry tussen ons mielielande en die vars lug te ruik. Dit is moeilik om alles in een sin te stel wat ek die meeste mis van Suid-Afrika. Daar is so baie wat ek mis, maar so baie dinge wat ek waardeer hier waar ek nou is. Die gedagte dat ek altyd ’n plek en ’n huis in Suid-Afrika sal hê maak my hart kalm en dankbaar.  

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Dublin

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Ladine Britz, wat in...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest