Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Suid-Korea

Jan 4, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Ons gesels die week met Thinus Scholtz in Suid-Korea.

  1. Waar woon jy en waarom juis daar?

Ek woon tans in Suid-Korea, in ’n klein dorpie met die naam van Donghae in die ooste van die land. Ek woon hier omdat dit die eerste plek is waar ek werk kon kry buite Suid-Afrika. Ek woon nou al vir die afgelope vier jaar hier en is uiters gelukkig in die kleine dorpie.

  1. Was dit ’n groot aanpassing?

Dit was beslis. As ’n mens nie in die groter dorpe en stede woon nie, is daar nie baie kans om Engels of selfs Afrikaans te praat nie. Ek was die eerste ses maande die enigste Afrikaanssprekende in my vriendekring, dus moes ek aanpas deur net Engels te praat en Koreaans beter te verstaan.

Die volgende aanpassing was die kossoorte en drankies. Die gebakte disse is soeter as dié van Suid-Afrika en die kos smaak heeltemal anders as dít waaraan ’n mens gewoond is. Gepraat van kos – die prys van vleis was vir my ’n groot skok. In Suid-Afrika kan ’n mens nog steak koop teen R100 per kilogram. Hier in Suid-Korea kos beesvleis R158 per 100 g! So, ek het basies meer hoender begin eet.

Die geldeenheid was ook ’n ander soort aanpassing. Om van ’n land te gaan waar ons sente het en die geld basies by R1 begin, na ’n land waar die kleinste geldeenheid wat jy in jou beursie sal wil dra 500 won is, is ’n groot aanpassing. My heel eerste inkopies was ’n totaal van 295 000 won. Dit het my ’n massiewe skok gegee.

  1. Praat julle nog Afrikaans?

Tans praat ons wel Afrikaans. Ek het begin rondtoer in Korea en ’n paar Suid-Afrikaners ontmoet. Alhoewel ek steeds die enigste Afrikaner in my area was, was dit lekker om te weet daar was ander Suid-Afrikaners. Hier is nou ook ’n Afrikaanse gesin wat saam met my by dieselfde skool werk. Hulle het ook ’n klein seuntjie.

Dit is ’n fantastiese gevoel om saam met Afrikaners te werk. Dit laat my net meer gemaklik voel op ’n manier.

  • Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Suid-Korea. Kom julle soms bymekaar?

Voor die hele pandemie was daar ’n yslike Suid-Afrikaanse gemeenskap wat gereeld dinge saam gedoen het. Ek het die heeltyd gesê ek sal die volgende jaar deel word van al die byeenkomste, en toe gebeur die pandemie.

Die grootste Suid-Afrikaanse byeenkoms waarvan ek weet, is die Nanji-braai. Suid-Afrikaners van oral kom bymekaar en geniet die musiek en kuier saam. Hopelik sal ek dit uiteindelik ná die pandemie kan bywoon.

Bygesê, daar is ’n paar lekker restaurante in die land wat die Suid-Afrikaners gemaklik hou, naamlik die bekende Braai Republic, en Pie Republic. As ’n mens huiskos mis, is dít nou waarheen jy moet gaan.

Nog ’n goeie aanlynhulpbron is Lekker Saffa Spaza wat moontlik gemaak word deur ’n vriendin – hulle help om ons gelukkig te hou met lekkernye van Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikanergees is sterk in die land.

  1. Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?

Vir my persoonlik was “kimchi” die vreemdste ding om aan gewoond te raak. Dit is ’n gepekelde kool wat as ’n sydis bedien word. Dit het ’n verskriklike sterk reuk en smaak en soms is dit lekker, soms is dit nie. Daar is wel variasies daarvan – dit is nie net beperk tot kool nie, maar kool-“kimchi” is die algemeenste.

As ek deesdae uitgaan om Koreaanse kos te kry, voel die ete nie volledig as ek nie “kimchi” saam met my ete het nie.

  1. Is dit duur om daar te woon?

Lewenskostes in die land is duur. My dorpie is nou wel goedkoper as die groter stede, maar dit is steeds duurder as Suid-Afrika. Soos ek reeds genoem het met die prys van vleis, is die lewe effe duurder. As ’n mens slim is, is dit maklik om te spaar, maar ek is nie een van daardie slim mense nie. Een ding wat wel gemaklik op die beursie is, is toer en reis. Buskaartjies, treinkaartjies en selfs taxi’s is baie goedkoper.

  1. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is van Glencoe, KwaZulu-Natal en het my hele lewe lank in die Glencoe/Dundee-omgewing gewoon.

In alle eerlikheid woon ek hier as gevolg van die feit dat dit nie maklik was om werk te vind in Suid-Afrika nie. Ek was vir vyf maande werkloos en toe besluit ek om uiteindelik Korea toe te kom. Dit was een van die beste besluite van my lewe, maar nou is daar stres vir wanneer ek uiteindelik terugkeer. Die meeste van my vriende is al vir lank sonder werk en van hulle soek nog steeds werk.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest