Sosiale media dikteer die gemeenskaplike idees en persepsies tydens ‘n krisis, soos duidelik gesien kan word tydens die Covid-19-pandemie. Die Sjinese oftalmoloog Li Wenliang, wat ‘n dokter was by Wuhan Sentrale Hospitaal, was die eerste persoon wat noodseine oor die virus op sosiale media uitgestuur het. Hy is self aan die virus oorlede 38 dae nadat hy ander doktors en hospitale op WeChat begin waarsku het. Mense gebruik sosiale media om hul geliefdes te laat weet hulle is veilig. Instellings soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is afhanklik van Instagram, Facebook en Twitter om hulle boodskappe effektief aan die publiek oor te dra.

Maar sosiale media het ook ‘n donker kant. Dit kan vals inligting en verdraaide stories soos ‘n veldbrand laat versprei. Miljoene brokkies inligting op jou sosiale media is daarop uit om jou moed in jou skoene te laat sak. Of jy dit nou wil weet of nie, wat jy op sosiale media lees, bepaal of jy hoop het vir die toekoms of dit vrees. As jy ander meer positief wil beïnvloed, is die eerste stap om jou eie fokus reg te ruk.

Verander hoe jy voel

Die retikulêre aktiveringstelsel (RAS) is ‘n netwerk neurons in jou brein wat inligting volgens jou voorkeure filter. Jou RAS is die rede waarom jy ‘n nuwe woord orals hoor net nadat jy hom geleer het, of waarom dit vir jou lyk asof daar meer Ford-bakkies as enige ander soort bakkies op die pad is wanneer jy oorweeg om een te koop. Jy kan jou RAS beïnvloed deur doelbewus te besluit waarop jy wil fokus. Hoe meer jy op positiewe nuus fokus, hoe meer gaan jy dit raaksien en hoe beter gaan jy emosioneel voel. Ontvolg mense wat negatiwiteit saai en volg blaaie wat hoop skep.

Stel jou visier in op die waarheid

Ken jy iemand wat gedurig populistiese artikels aanstuur of deel jy self nuus wat jy later besef fopnuus was? Sodra jy jouself op positiewe nuus ingestel het, moet jy seker maak jy kan fopnuus op ‘n myl herken. Toets gou die brokkies inligting wat jy teenkom met die volgende vrae:

  1. Is die gevolgtrekking op relevante feite gebaseer?
  2. Is dit deur ‘n redakteur nagegaan?
  3. Kan jy duidelike vooroordeel in die artikel of op die webtuiste opmerk?
  4. Is daar geloofwaardige verwysings vir die feite of mediese argumente?

Die rede vir fopnuus is dikwels webtuistes wat hulle aantal klikke wil verhoog deur sensasionele nuus te versprei, gekskeerdery of propaganda vir ideologiese standpunte.

Skep jou eie nuus

As jy jou visier op hoop gestel het, is dit tyd dat jy ander begin beïnvloed. Jy hoef nie net ‘n verbruiker van inligting te wees nie; wees ‘n skepper. Skep positiewe boodskappe wat jou volgelinge ook help om op iets groter as die onmiddellike situasie te fokus. Deel positiewe verhale van mense wat struikelblokke oorkom het ten spyte van hulle omstandighede. Vertel stories oor hoe jy, ‘n vriend, die land of die wêreld in die verlede swaar tye oorkom het. Almal om jou raak meer produktief as hulle vrees met hoop vervang. Dit is vir almal voordelig om hoopvol aan die ekonomie te bou terwyl hulle hard werk.

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1)

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest