Leesvordering:

Wanneer die Engelse winter jou vang

Sep 6, 2023

Deur Maxie Heppell

Kyk, vir hierdie Vrystater is die nattigheid nog aanvaarbaar en vir die erger-as-pienkhandjiesnetbal-in-die-winter-koue is daar planne. Maar die kort dae en lang nagte dreig soms om my na rooi koeldrank te dryf!

Nou hoe gemaak? Hier is so ’n paar wenke om die Engelse winter nie net te oorleef nie, maar selfs ook te geniet!

“Dress for the occasion”

As die Engelse een ding reg het, is dit die laag-op-laag-aantrekding. Begin met ’n goeie termiese onderlaag en bou van daar op. Die langmou-T-hempies wat jy sommer in jou waentjie druk wanneer jy brood en melk koop, werk nie, jammer. Gaan soek eerder by die spesialiteitswinkels vir daardie frokkies wat jy dra wanneer jy beplan om Kilimandjaro uit te klim.

En hou jou kop warm. Ek verstaan, Mevrou: die hare. Maar as jou ore daardie eerste winter al wil afvries, sal jy vinnig weer kreatief raak oor hoe om die klossies mooi te maak wanneer die mus afkom.

Dis winter. Dit reën. Punt.

Hou áltyd ’n reënjas of poncho byderhand. Sambrele werk, maar wanneer die eilandwinde opsteek, gaan daardie sambreel nie veel waarde hê nie.

Maak seker jy het skoene wat maar kan nat word, en gooi jou deftige werkskoene in jou rugsak.

Maak soos die Engelse en drink tee

… of koffie of warm sjokolade of wat jou ook al kan warm maak tussen die huis en die werk. Kry ’n lekker fles of warmhoubeker met ’n inspirerende versie op. Dalk ietsie wat jou daaraan herinner kan dat “this too shall pass.”

Skakel oor na “pub mode”

’n Mens kan Engelse pubs nie regtig vergelyk met enigiets in Suid-Afrika nie. Die Engelse pub is nie net ’n plek om ’n bier te geniet nie, maar ook ’n warm, gesellige hawe met knetterende kaggels waar kinders en honde ewe welkom is. Dit is waar die dorp bymekaarkom om te kuier wanneer die koue mens binnetoe jaag.

Verken binnenshuise aktiwiteite

Museums, teaters, biblioteke – Engeland het dit in oorvloed. As die weer té ongasvry raak, duik binnenshuis vir ’n kultuurdosis. En raak ontslae van ’n paar lae klere – hierdie ruimtes is in die winter altyd heerlik verwarm.

Gaan stap ’n ent

Nee, ek is ernstig! Alles stop wanneer dit koud en nat is in Suid-Afrika. As dit hier moes gebeur, sal niks ooit gedoen word nie. Ons het al mense midde-in winterreëns sien heinings oprig en dakke opsit.

Jy hoef nou seker nie sulke werk te doen nie, maar jy sal steeds woef op ’n uitstappie moet neem. Trek jou reënjas aan, kry vir jou ’n paar pienk Wellington-waterstewels en geniet die groenheid rondom jou wat nooit einde kry nie. Engeland in die winter is net so mooi soos Engeland in die somer.

Vlug landuit

Suid-Afrika toe in die Engelse winter is natuurlik die eerste prys! Maar dit is duur en nie vir almal moontlik nie.

Daar is egter wél spotgoedkoop vlugte of veerbote na sonnige Spanje, Frankryk of ander Europese lande, en dit is glad nie vreemd om te hoor dat mense daarvoor beplan soos ons vir ’n vakansie in Hartenbos nie.

Seisoenale affektiewe versteuring

Seisoenale depressie is ’n werklikheid. As die lang nagte jou vang, oorweeg gerus ’n dagliglampie. Dié liggies boots daglig na en word aanbeveel vir enigiemand wat deur seisoenale affektiewe versteuring geraak word.

Moet ook nie die waarde van jou daaglikse vitamien D-pilletjie – winter én somer – onderskat nie!

Aanvaar die gemoed van die seisoen

Engeland het ’n spesiale soort rustigheid in die winter. Omhels die seisoen pleks daarvan om daarteen te baklei. Kyk ’n fliek, lees ’n boek of luister na goeie Afrikaanse musiek terwyl jy ’n vleisie oor die kaggelvlamme braai en nostalgies raak …

In ’n land wat vir sy onvoorspelbare weer (en sy liefde vir praat daaroor) berug is, kan winter ’n uitdaging vir ons Suid-Afrikaners wees. Maar met ’n bietjie voorbereiding, aanpassing en ’n goeie sin vir humor kan jy nie net oorleef nie, maar die seisoen ook ten volle geniet!


In watter land woon jy? Wat is jou oorlewingslysie vir die hittige somers of bibberkoue winters?

Foto: spurwing-agency-unsplash

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest