Leesvordering:

Wêreld in Fokus: Die Verenigde Koninkryk

Aug 13, 2020

Koningin Elizabeth, William en Kate, sokker en bangers and mash is kenmerkend van die Verenigde Koninkryk en heel moontlik die rede vir jou besoek aan dié groep lande. Ja, jy lees reg: die Verenigde Koninkryk is ’n groep lande. Dit sluit Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland in. Daar is egter ’n paar dinge wat jy in ag moet neem voordat jy jou Somerkersfees vir ’n spierwitte in Londen se strate verruil. Engeland se lewenswyse is so kompleks soos die koninklikes se familiestamboom, maar met dié wenke behoort jy vinnig aan te pas, oftewel in te pas.

Londen is die land se duurste stad – en ongelukkig vir jou sak ook die duurste stad ter wêreld om in te woon. Die gemiddelde lewenskoste vir een persoon is £756 per maand, huur uitgesluit. Dieselfde persoon sal in Manchester, ’n twee uur lange treinrit weg van Londen, slegs £596 betaal. Dié vergelyking lyk nog erger as huur bygereken word. Dis veilig om te sê Londen is vir toeriste ’n moet-sien, maar sy alledaagse lewenskoste is ’n hou-verby.

Alhoewel buitensporige pryse die meeste mense uit die stad na die suburbs verdryf, is Engeland se openbare vervoer van die beste ter wêreld. Die busse, treine en trems word deur ’n aantal afsonderlike ondernemings bestuur. Jy kan by enige toeristekantoor kaarte en inligting oor roetes en tye kry.

In stede is busse gewoonlik maklik bekombaar. Op die platteland funksioneer dit meestal volgens skool- en besigheidsure. Daar is twee soorte taxi’s – dié met meters wat jou koste bereken volgens afstand en tyd, en dié wat gewoonlik goedkoper is, maar wat jy slegs telefonies kan bereik. Moet ook nie van die alombekende Uber vergeet nie!

Engeland word gereeld met reën geassosieer as gevolg van die land se onvoorspelbare weerpatrone. Dit reën nie net in een seisoen nie, maar enige tyd van die jaar. Jy kan op een middag pragtige sonskyn, wind en reënbuie ervaar!

Alhoewel die weer onvoorspelbaar is, is dit selde ekstreem. In die somer wissel die temperatuur tussen 9 en 18 grade Celsius, maar tydens ’n hittegolf kan dit 30 grade Celsius raak. In die winter wissel die temperatuur tussen 2 en 7 grade Celsius, maar dit kan ook dikwels tot onder 0 grade Celsius daal. Gelukkig het die meeste huise, geboue, treine en busse goeie verhittingstelsels.

Engeland, en die Verenigde Koninkryk in geheel, het geen tekort aan toeristeattraksies nie. Alhoewel dit moontlik is om ’n reis na die Verenigde Koninkryk te beplan sonder om Londen te besoek, is dit beslis nie aan te bevele nie. Die land se hoofstad spog met baie trekpleisters, byvoorbeeld die Windsor-kasteel. Die Tower of London is ideaal vir diegene wat belangstel om meer oor die Verenigde Koninkryk se ryk geskiedenis te leer. Hierdie voormalige paleis en gevangenis is langs die skouspelagtige Tower Bridge aan die oewer van die Teemsrivier geleë. Dit huisves onder andere die ikoniese, 1 000 jaar oue White Tower, wapenuitstallings en die Jewel House met die kroonjuwele.

Ander besienswaardighede in die Verenigde Koninkryk is onder andere die pragtige historiese geboue in die Skotse hoofstad Edinburgh, Stonehenge naby Salisbury, die idilliese Cotswolds, en die universiteitstede Cambridge en Oxford. Besluit vooraf wat jy graag wil sien en beleef –pragtige natuurtonele, geskiedkundige geboue, metropolitaanse straatkos en naglewe, of vis en tjips in kleindorpse pubs – en beplan jou reis daarvolgens. Die Verenigde Koninkryk bied iets van elk.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Plaasmoorde: Amper een moord per week en tog kyk regering anderpad

Plaasmoorde: Amper een moord per week en tog kyk regering anderpad

Ons vra nie spesiale behandeling nie, ons vra net gelyke behandeling – AfriForum Nagenoeg een moord per week het gedurende 2023 op Suid-Afrikaanse plase afgespeel in die 296 plaasaanvalle wat gedurende dié tyd plaasgevind het. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering...

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest