Leesvordering:

Bygelowe uit ons kinderdae

Aug 13, 2020

Ons het grootgeword met allerlei stories en bygelowe wat veral deur die ouer geslag aan ons vertel is. Vreemde oortuigings oor wat die gevolge van een of ander aksie sal wees, is tipies van bygelowe. Die oorsprong van dié oortuigings is somtyds duister en dit verskil baie van kultuur tot kultuur. Tog stem bygelowe in verskillende kulture ook soms ooreen. Daar word algemeen aanvaar dat bygelowe ontstaan weens die oortuiging dat die toekoms deur huidige gebeurtenisse voorspel kan word – gewoonlik met die oog op toekomstige slegte geluk. Hier is ’n paar bekende bygelowe in ons kultuur en hulle oorsprong.

As jy ’n spieël breek, gaan jy sewe jaar ongelukkig wees

Dié bygeloof is nie eie aan Suid-Afrika nie; dit word reg oor die wêreld vertel. Hiervolgens is die enigste manier om die slegte geluk teen te werk om die stukke van die spieël in die grond te begrawe.

Na bewering is die herkoms van dié bygeloof selfs ouer as die bestaan van spieëls. Voor die ontwikkeling van spieëls het mense water gebruik om na hulle refleksie te kyk. Dit is beskou as ’n weerkaatsing van die persoon se siel, en ’n verwronge refleksie was ’n teken van slegte geluk en toekomstige teenspoed. Nadat die Romeine spieëls ontwikkel het, het die breek van ’n spieël ’n teken van slegte geluk geword.

Die tydperk van sewe jaar is ook van die Romeine afkomstig; hulle het geglo die menslike liggaam hernuwe elke sewe jaar en die persoon raak na sewe jaar ’n nuwe mens. Na sewe jaar is jy dus vrygeskeld van jou slegte geluk.

’n Perdeskoen bo jou deur bring geluk

Baie Afrikaanse gesinne het geglo jou huishouding sal gelukkig wees as jy ’n perdeskoen bo jou huis se deur ophang. Selfs vandag nog doen baie dit.

Dié bygeloof het in Europa ontstaan. Die meeste Europeërs hang die skoen onderstebo, maar in sommige dele van Engeland en Ierland hang hulle dit met die punte na bo omdat hulle glo die goeie geluk sal uitloop as dit onderstebo hang.

Die perdeskoen-tradisie strek terug tot die jaar 959 toe die verhaal van Dunstan die ystersmid ontstaan het. Volgens dié verhaal het die duiwel Dunstan gevra vir perdeskoene vir sy hoewe. Dunstan het ’n rooiwarm perdeskoen met soveel geweld aan een van die duiwel se hoewe vasgehamer dat die duiwel hom gesmeek het om dit te verwyder. Dunstan het ingestem – op voorwaarde dat die duiwel nooit weer in ’n huis met ’n perdeskoen bo die deur mag ingaan nie.

As jou handpalm jeuk, gaan jy geld kry

Die geloof dat jy gaan geld kry as jou handpalm jeuk, word al eeue lank oorvertel. Verskillende kulture verskil oor watter hand die gelukkige hand is, maar oor die herkoms stem almal saam. Dit kan teruggetrek word na die Saksers en Kelte wat voor die Christelike era in Europa gewoon het. Hulle het geglo silwer het genesende krag en kan ’n jeukende vel genees indien daaroor gevryf word. Vandaar die oortuiging dat ’n jeukende palm ’n voorbode is dat jy silwer gaan kry.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest